KdK – Stryder vir die Geloof

  • 6

Onkundige lesers hier op S?Net, ervaar KdK se skrywes as aanvallend, veroordelend en fanaties. Selfs Chris daag my uit om ‘n opinie oor KdK se skrywes te lig, en Henn beweer ek skaar my aan die kant van die duiwel.

KdK is ‘n Stryder vir sy geloof. Met ‘n tipiese Petrus-persoonlikheid wat ore afkap en skryfstyl soos die van die Sendbrief van Judas, in die bybel. Hard, reguit, streng en ernstig. Wat die eer en respekte vir Gods Woord op sy skouer as hoogste roeping dra. Wat sy lewe sal gee vir ‘n vervolgde kerk. En glo my, diesulkes is yl gesaai.

KdK is vir God se weermag gewerf en in ‘n oorlog betrokke teen enige vals evangelie of afvalligheid. Dit is waarvoor God hom geroep en toegerus het. Hetsy in persoonlikheid, karakter, gawes of talente. ‘n Ondersoekende geaardheid en skerp brein, wat enige dwaal lering en subtiliteite daarvan herken. Daarom sal die naturalis, liberalis, dogmatis, relativis, of geen hel-teoloog, deurloop.

Verdraaide woordskennis, is vir hom ‘n gruwel. Sonde sal hy nooit goedpraat. En ja, soms voel ek dat hy ongenaakbaar en onredelik in sy vuurskrywes voortstu. Dan wil die sagtheid van my vrouwees toegee, en is dit vir my ‘n struikelblok. Maar wanneer ek weer Gods Woord daaroor naspeur, en die erns van die saak insien, besef ek dat stay-soft gaan my as vrou, of die persoon wat met die verkeerde siening saamleef, niks baat. Want eintlik beveg KdK dinge wat die verskil tussen lewe of verdoemenis kan beteken.

KdK sal nooit kompromitteer nie. Reg is reg en verkeerd is verkeerd. Inteendeel, sy persoon is gevorm om voorkomend op te tree teen enige wanvoorstelling. Hy weet dat God se standaarde nooit sal verander om by die mensdom aan te pas nie, daarom sal sy aanval teen die lou dwalende christendom ook skerp ondersoekend voorkom. Hierin het hy besluit om God en sy gebod te behaag.

Om die verdwaalde of verwarde uit die vuur te ruk, is nie so maklik. KdK voel dit is sy werk. Meeste christene (selfs gelowiges) sal net hulle rug draai op enige aanval van die ateïs, agnostikus of relativis. Maar KdK sal sy grondgebied beveg. Daarom word hy as Vegsman ge-eer in sy posisie.

Persoonlike aanvalle teen die gelowige hou geen bedreiging. Selfs rondkrappery in sy verlede. Want die gelowige se vlees en natuur is saam Jesus Christus gekruisig. Die vyand mag probeer om die soldaat van Christus te ontbloot, of van sy staanplek te ontneem. Hierdie aanvalle is egter oneffektief. Omrede van die ware gelowige se gereelde eie introspeksie. So ontvang hy vergifnis, staan weer op, en besluit om met erns aan tekortkominge en vrug van die Gees, te werk. Daar is ‘n voortdurende proses van groei, verandering en volwassewording.

Is ons foutloos? Nee nooit! As gelowige ken jy jou tekortkominge en swakhede maar te goed. Die natuur of vlees van die gelowige is dieselfde as die ongelowige. Die verskil tussen die ongelowige (asook sekere christene) en die gelowige, is dat die kind van God se geesdimensie wederbaar, vernuwe en Geesvervuld is. Vanuit hierdie bron en inwoning van Gods Gees, spruit die goddelike krag van God na die w?reld buite.

Ek eer en respekteer elke skrywer hier op die Net vir sy gebiedsvak of wetenskap, maar as dit by Woordkennis kom, staan KdK vir my voor in die geveg.

Cornelius, ek is definitief nie aan die duiwel se kant nie (inteendeel, dit is nou weer mý gevegsterrein). Ek is ook na aan KdK se kant nie, asook nie my eie nie. Ek vloei in die stroom van God se kant.

Trienie

  • 6

Kommentaar

  • Magtag maar dit was darem maar interessante leestof die laaste ruk om vir KdK te sien jakkalsdraaie gooi om sy teorieë te maak werk. Selfs beter as om ’n film te gaan kyk. Maar kyk dit was veral Brian se opmerking dat jy KdK aan sy komma skryfstyl kan herken, wat my nogal bygeval het met die lees van Trienie se brief. Die brief lees so amper soos iemand wat baie daarvan hou om kommas en groot woorde te gebruik, en homself telkens moet herhinner dat hy nou in ’n ander styl moet skryf. Of praat ek dalk nou bog.

    Ook net ’n ander kommentaar, wat ek eintlik aan een van KdK se briewe moet haak (of doen ek in elk geval nou), maar KdK moet seker een van die beste prokureurs wees om aan jou kant te hê. Kyk net as jy dink hy gaan hom nou vasloop in die feite, dan kom hy met ’n hele ander lang relaas wat jou heeltemal van jou storie af gooi. Maar dit werk mos maar baie so in die prokerowers wêreld, hy wat die langste kan aanhou om briewe te wissel en raas en blaas, kry die beste skikking.

    * Met die grootste respek vir die edele praktiserende prokureurs daarbuite.

  • Nou het ek alles gehoor. Arme bleddie Kobus is op die oorlogspad  teen valse evangelies met, as sy enigste wapen, vier nog valser evangelies. Ha! Cervantes het hierdie tema nogal deeglik benut in Don Quijote: ’n ridder op sy perd, met ’n klap van die windmeul weg. 

  • CorneliusHenn

    En o ja Trienie, 'Piet' moes eintlik 'Bakhand Piet' gelees het want gierigheid vir hul geld is die enigste rede hoekom die 'ou grote' (soos hy graag na homself verwys) so geïnteresseerd naby kwesbares rondhang.

  • George Claassen

    Trienie, lees jy net Kobus de Klerk of het jy al ooit iets gelees oor die wetenskap? Jy briewe getuig van totale onkunde, verblind deur geloof en jou salaam teenoor Kobus de Klerk. Ai, wanneer gaan Afferkaners begin verstand kry?

  • Trienie:
    ’n  Jong buikspreker is op toer en een aand gee hy ’n vertoning in ’n klein dorpie in die Vrystaat. Met sy pop op sy skoot begin hy om deur sy normale ‘dom-blond’ grappe te gaan. Skielik spring daar ’n blondine in die voorste ry op en gil:
    “Ek het nou genoeg van jou onnosel blond-grappe gehoor. Wat laat jou dink dat jy blonde vrouens op die manier kan beledig. Dit is mense soos jy wat verhoed dat mense soos ek by die werk  en in die gemeenskap gerespekteer  word en ons daarvan weerhou word om ons volle potensiaal te bereik. Dis omdat mense soos jy aanhou diskrimineer – en alles in die naam van humor!”
    Die verleë buikspreker begin om apologie aan te teken maar die blondine gil:
    “Bly jy hier uit, meneer! Ek praat met die klein stront daar op jou knie!”
    Trienie – jy’s nie dalk blond nie?
    Want jy’s regtig baie naïef! Chris en ek was maar net geamuseerd oor jy en Dolf se gebrek aan ondersteuning vir Kobus se klomp snert rondom die sigbaarheid van Jupiter se mane en nou reageer jy met hierdie erg oordrewe getuigskrif en heeltemal van die punt af, met met jou ondersteuning:
    “ . . . maar as dit by Woordkennis kom, staan KdK vir my voor in die geveg.”
    Tussen die reëls lees ek dus dat jy nie juis van mening is dat dit die geval op ander vakgebiede is nie. Hy gaan nie baie daarvan hou nie!
    Jou reaksie laat my dink aan die mammie wat die uitpasseringsparade van haar seun bygewoon het en toe hy tydens die verbymars die enigste troep uit pas is, probeer sy die saak beredder met die opmerking dat die hele parade uit pas is behalwe haar Kobus.
    Al waaroor ons eintlik nuuskierig is, is of jy dit eens is met Kobus se bewerings aangaande Jupiter se mane? Toe, sê tog vir ons asseblief – net ‘ja’ of ’nee’ sal goed genoeg wees!
    As ek vir jou ’n wenk kan gee voor jy antwoord. Gebruik ’n goeie verkyker en kyk vannaand of jy die vier groot mane kan sien. Hou hulle so vir ’n paar aande dop en as jou sig beter is as die van Kobus is, gaan jy verstom staan. Terloops – Jupiter is nou in opposisie met die aarde en dus baie gunstig vir waarneming. Jy kan maar net ooste kant toe soek sodra dit goed donker is want hy is baie helder en in die konstellasie van Taurus (Die Bul) 
    Panda

  • Die Christendom het die duiwel as bondgenoot. Hoe anders gaan hulle wenende-en-knersende-der-tande-vrees by hulle skapies inboesem?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top