Kanna hy kô hystoe is op 12 Maart 2014 tydens die US Woordfees opgevoer. Inge Botha deel haar indrukke.
Om sonder enige vooroordele na die drama Kanna hy kô huistoe te gaan kyk, en sonder dat ek die teks van die beroemde Adam Small vooraf gelees het, het nie net vir Kánna huis toe geneem nie, maar vir my ook. Ek is ook huis toe geneem. Ek het besef dit wat ek het, my huis, is waarna hierdie mense smag.
Die toneel is vol emosies en dit ruk jou terug na die harde, rou realiteit van die Kaapse Vlaktes. Die regisseur, Gerben Kamper, het dit reggekry om die teks te omskep in ‘n toneel wat spreek van waarhede. Vir my as ‘n aanhanger van dramastukke is dié een een van my gunstelinge.
Die toneelstuk is opgevoer by die Spier se opelug-amfiteater. Die keuse van bestemming was perfek, omdat die oopheid van die lug aangesluit het by die teks. Die teks het kom oopkrap wat ons almal so graag toepleister. Dit het die realiteit van die Kaapse Vlaktes kom oopgooi voor jou voete, sonder enige fancy fieterjasies of rekwisiete. Die storie is vertel soos dit is.
Die gehoor was vasgepen in elke woord, of so het dit gelyk. Dalk was dit die wyn wat hul laat wegsluimer het. Ek kon nie veel aandag gee aan die mense om my nie. Die toneel het my meegevoer. Of liewer, my oë oopgemaak in plaas daarvan om my mee te voer. Ek kan nie veel kommentaar lewer oor die gehoor nie, want hulle was nie daar nie. Dit was net ek en Kanna.
‘n Oorheersende stilte het die teater gevul en ek het telkemale myself betrap dat ek hoendervleis kry, nie van die koue wat my slaan nie, maar van die werklikheid wat my tref. Party van die lede in die gehoor het soms onvanpas gelag oor die ernstige dele, maar miskien wou hulle, nes ek, net van die waarheid ontsnap. Ek het myself gekry dat ek glimlag by dele waar ek moes huil. Ek het nie geweet hoe om die emosies te hanteer waarmee ek so vinnig gebombardeer word nie. Ek het nie geweet of ek moet huil of lag nie. Ek was te oorweldig.
Die aand was koud en die mense het hul toegevou in komberse. Ek het soms kwaad geword vir myself, wat deel was van die groep wat ons toevou in ‘n lap, want hoe kan ek net daar sit en toekyk hoe swaar die mense kry? Hoekom kon ek nie my kombers deel met hulle nie? Ek was kwaad omdat ek nie kon gee wat ek het nie.
Die storie het my so vasgenael dat ek wou opstaan en vir Kietie wou vashou na haar menigte verkragtinge. Ek was kwaad. Hoekom doen niemand iets aan hierdie mense se ellende nie? Hoekom kan ek warm sit, maar hulle baklei vir oorlewing? Die onregverdigheid maak jou hart seer. Hoekom is die mense vandag steeds in die haglike omstandighede op die Vlaktes?
Kanna hét huis toe gekom, na mý huis toe. Hy praat met my in my hart. Jou huis is daar waar jou hart lê. My hart het by Kanna en sy mense gelê. Hy het hom kom tuismaak, in my hart.


Kommentaar
Inge Botha! Ek kan nie glo dat enige Afrikaansspekende persoon met 'n tersiêre opleiding vandag nog kan sê dat hulle nie "Kanna hy kô hystoe" gelees het nie. André P. Brink het self gesê: "Kanna hy kô hystoe is die grootste drama ooit in Afrikaans geskryf." Die storie agter die stuk is groter as die stuk self en ek wens ek kon net 'n paar met jou deel. Dit gaan egter ver bo die scope wat die forum bied!
Ek is op soek na notas oor KHKH vir gr 12-Dramatiese Kunste. Het The Guidelines, The Blue Book dalk notas? Waar kan ek soek, asb?