Vir TTC en al die napraters
Jy is net Marilyn,
Marilyn Monroe
’n naakte lyf, oop en bloot,
sowel wondnaat as wond.
Jy soek jou vader soos alle weeskinders,
ja, in die naam van die vader,
verheug toe jy uitvind
daar was wél ’n vader,
jy had ’n naam.
Maar jy het verskeie name,
Norma Jeane Mortenson,
Norma Jeane Baker,
toe word jy Marilyn Monroe,
’n lusobjek, ’n fantasie,
op almal se lippe,
femme fatale,
MM: The Prince and the Showgirl.
Ons kyk na jou,
uitgestal op blou en rooi.
Jy terg jou kyker, speel met jou hare,
Jou borste verraai vir die ingeligte
’n aborsie, miskien ’n afgetekende kind?
Jou dye het soveel ontvang, selfs ’n dramaturg
het hoog opgegee dat jy méér was as blote genot;
iewers staan dit opgeteken: jy lees Dostojefski.
Die Gebroeders Karamazof word die Kennedys.
Húl bloedige eindes sou jy na-aap, die here-weet,
niemand sou kon weet hoé die lewe venyniger
in jou skoot tot stilstand kom soos ’n Zapruder.
Jy was immers Anna Freud se beroemdste pasiënt.
In swart word jou binneste uitgeryg, uitgespeel
(There’s no business like show business)
nes ’n akteur wat speel asof dood of ’n regisseur verveeld
met die teks van ’n aspirant of wanna-be Tennessee W.
In die naam van Hollywood, Spiritus Sancti,
word jy die spel, futiel, want dood
het soveel name, weet jy: sterf, vertrek, word lyk.
Jy dans met Truman Capote met ’n cowboy-hoed.
Wat sou jy maak van In cold blood?
Selfs in jou grande finale (waaroor almal steeds bespiegel)
was dit ’n oordosis of jou minnaar in Dallas, Texas
in ’n kavalkade met Jackie (neffens hom) gefusilleer,
se uithaalplan? Vanaand kyk ek weer na jou:
binne word buite, ’n tergende raaisel. Of buite
dalk eerder binne? ’n Drama vir Arthur Miller?
Oordosis of moord, jy bly op almal se lippe,
verdroomde droom, gemaakte Objek, buite bereik:
eenmaal, eenkeer was jy nét mens: Just Marilyn,
Norma Jeane. Dalk die verkeerde foto gekies
vir my digterlike snapshot. In Nomine Patris …
Wie weet? Norma Jeane, glansend geyk
et Filii et Spiritus Sancti. Amen.


