Jaco,
Almal wat al ’n rukkie by hierdie forum betrokke is, weet dat jy ’n deurdagte ateïs en homoseksualis is en asof dít nie erg genoeg is, nie, nog ’n permissiewe een daarby oor dít wat jy oor die tyd heen van jouself hier gesê, het… en dat jy selfs die gedagte van God, verag. Op watter basis kan jy dus morele uitsprake maak? Op watter basis kan jy onderskei tussen moreel en immoreel, as jy self die lewe leef asof daar geen sodanige onderskeid is, nie? Dus, wat anders kan mens van jou verwag as die snert wat jy kwytraak? Dit is duidelik dat jou benadering dié is van ’n insiglose ateïs. As homoseksualis, wat weet jy van die moraal en psige van ’n ware vrou? Van ’n ware man? Wat weet ’n ateïs van God en Sy Woord, van Sy Gees? Hoegenaamd niks. Hoe kan jy jou oor sulke sake uitlaat, sonder om jouself as bevooroordeeld, insigloos, kwaadwillig en onkundig daaroor uit te wys? Wat is jy beter as die agnostikus, Stanton, wat deur jou aangehaal word? As jy geweet het wat aangaan in die geloofswêreld, as jy tot die Spirituele in staat was, sou jy ’n gelowiges wees en hoegenaamd nie sulke snert kwytraak nie. Dus, komende van jou en die ewe agnostiese Stanton, kan mens niks anders as sulke onkundige, insiglose en kwaadstokende snert verwag, nie.
Daar is net een doel vir jou voor oë en dit is om die Woord van God en daarmee God, verdag te probeer maak. Maar, dink jy werklik dat jy dit sal kan regkry? Watter outoriteit of krag het jý of die Stanton’s van die ou wêreld om soiets te wil bewerkstellig? Watter krag, dink jy, het jou misbruik van die aanhalings uit die Woord, jý, wat ’n onbewuste dienaar van die satan, is? Net dwase, soos jy, glo wat jy sê (Psalm 53:2). Miljoene gelowige Christenvroue wêreldwyd weet dat jou bevooroordeelde en bekrompe insiglose en onkundige bewerings, saam met dié van die Stanton’s van hierdie ou wêreld, louter snert, is.
Wat Johanna van Arkel aanbetref, was sy vir politiekery valslik beskuldig en tereggestel. ’n Bekende en erkende verweer vir fopdossery was juis om haar kuisheid te beskerm ook op die oorlogsveld waar sy tussen mans moes veg en woon en in die gevangenis waar sy in die gewone gevangenis aangehou is in stede van die spesiale gevangenis waar sy deur nonne bewaak sou word. Ook het die voorafgaande Poitiers beamptes die manlike kleredrag in die omstandighede goedgekeur. By herverhoor postuum, is Pierre Cauchon ook postuum skuldig bevind omdat hy haar vir ’n verskuilde sekulêre vendetta laat vervolg het (om polities te posisioneer gedurende die honderdjarige oorlog) en is haar eie skuldigbevinding tersyde gestel.
Dan kan die Middeleeuse Katolieke kerk se optrede, wat meestal polities georiënteerd was, nie aan die ware Christelike leer ontkom nie – die leerstelling van Jesus Christus die HERE, Eienaar van alle menslike lewe op aarde, is die teenoorgestelde van wat hulle gedoen het (sien Johannes 8:11; 12:46-50). Hulle optrede was dus onchristelik en sekulêr georiënteerd, nes jou eie vandag, Jaco.
Wat die swaershuwelik aanbetref (Deuteronomium 25:5-10), was dit ooreenkomstig die volksgebruik en geen vrou wou kinderloos sterf, nie. Dit was ’n eer vir ’n vrou om vir haar man ’n nageslag na te laat. So ’n vrou was ordentlik en wou nie ’n vreemde man hê nie, maar steeds in die bloedlyn van haar oorlede man, naamlik haar swaer. Dit was vir haar ’n eer om die bloedlyn voort te sit. Die vroue se spontane gesteldheid destyds daarop was gedemonstreer deur die optrede van Tamar toe Onan nie ’n kind vir sy oorlede broer Er by haar wou verwek nie en sy haar skoonvader, Juda, mislei en verlei het ten einde in die bloedlyn te kon swanger raak – optrede wat streng deur Goddelike wetgewing verbied was. Daarom is jou bewering en insinuasie dat hulle, die vroue van die tyd, as ‘slagoffer’ in ’n swaershuwelik sou staan, kwaadwillig, bevooroordeeld en grondeloos – inteendeel, die vrou wou dit bepaald so hê selfs ten alle koste, soos Tamar se gedrag getuig.
Watter snert raak jy nie kwyt wanneer jy valslik beweer dat vroue nie gesien of gehoor mag word, nie. Jou bewerings is van alle waarheid ontbloot. Die onderdanigheidsbeginsel het ek vir jou alreeds in detail verduidelik – is jy dalk kort van gedagte? Die vrou is slegs onderdanig aan haar eie man vanweë die huweliksverband (Kolossense 3:18; 1 Petrus 3:1) en het selfs vir ouer vroue gegeld (Titus 2:3-5). Dit beteken nie hy is haar baas nie. Maar God het die man eerste geskape en aan hom die verantwoordelikheid van leierskap gegee. Die vrou is sy hulp, nie sy vloerlap, nie. Teenoor derdes, buitestaanders, is daar géén bepaling in die Woord dat ’n vrou aan ander mans as haar eie, onderdanig is of moet wees net omdat sy ’n vrou is, nie. Trouens, die vrou vervul binne en buite die huwelik, ’n kardinaal belangrike rol van onontbeerlike persoon in die huishouding, die opvoeding van kinders, onderrig in lewenswaarhede en vaardighede en op besigheidsgebied (Spreuke 12:4; 31:10-31; ). Die verbod op die vrou se deelname waar haar man is in die vergadering en die gemeente, is waar hy teenwoordig is en sy hom nie moet doodpraat of weerspreek (wat die eensgesindheid tussen hulle in gedrang sal bring) nie (1 Timoteus 2:12) – maar dat sy in gepaste omstandighede saam met haar man mag onderrig (Handelinge 18:26) en ander te onderrig (Titus 2:3-4; 2 Timoteus 2:24 – dit was die gebruik dat die vroue en dogters deur Jesus se vroulike mededissipels onderrig was), en in sommige omstandighede lei selfs in ’n leierskapsrol (Rigters 4:4-5), is ’n feit. Na alles, God ag man en vrou gelyk voor Hom (Genesis 1:26; Galasiërs 3:28) en is die Goddelike hiërargie in die huwelik ter wille van verantwoordelikheid en leierskap met die onontbeerlike insette van sy vrou, soos ’n waardige en goeie leier betaam met sy raadgewers (Spreuke 11:14) en moet sy hoofskap en leierskap uitgeoefen word soos Christus die Hoof en leier van die gemeente is (Efesiers 5:22-32; ) sonder om op sy vrou neer te sien en hy haar diensbaar is en omgekeerd (1 Korinthiërs 7:1-5; Efesiers 5:21).
Dít is die waarheid omtrent die Christelike huwelik en die vrou se plek in die Christelike samelewing. Die Christelike beginsels bevestig inderwaarheid die vrou se volkome vryheid en gelykheid voor God en mens en die klem is op eensgesindheid en kuisheid en Goddelike moraliteit - wat hulle in sommige Oosterse, Afrika en selfs Asiese kulture, glad gehad of selfs nou, het, nie.
Dit is so dat die vrou eerste geswig het voor die sonde – maar die res van jou snert daaroor is versinsels. God is regverdig – hoewel die vrou eerste voor die sonde geswig het, het die man agterna daarin gedeel, sónder dat hy daartoe gedwing was en is hulle derhalwe albei voor God skuldig daaroor en is só daarvoor gestraf. Baie van die natuurlike regsbeginsels, wat vandag nog oral in beskaafde regstelsels toegepas word, soos byvoorbeeld gedeelde aanspreeklikheid (deler is so goed as die steler, in die volksmond) het hierdie Geregtigheidsbeginsel van God ten grondslag. Jou poging tot verdagmakery van hierdie goue Goddelike regsbeginsel, weerspieël waarskynlik jou eie vermeende onvermoë om verantwoordelikheid vir jou eie immorele lewenswyse te aanvaar en niks meer, nie.
Sommige kerke doen verkeerd, ja, want hulle wyk van Gods Woord af ter wille daarvan om die mens te behaag, Maar let gerus op, dit is juis húlle wat struwel met dalende lidmaatskapsgetalle, want die Gees van God het die oortreders verlaat, omdat die oortreders die Gees van God verloën deur hulle miskenning van die gesag en outoriteit van Sy Swaard, die Woord van God (Efesiers 6:17). Sonder die Heilige Gees van God, word die Woord – Jesus Christus - verloën, al doen hulle lippediens aan Hom (Mattheus 7:21; Lukas 6:46). ’n Kerk sonder die Gees van God, sal nie standhou, nie. Die lidmate van sulke kerke sluit dus geredelik by ander kerke aan, waar die Gees heers en vind daar vervulling
Maar daar is áltyd die getroue individue waar ook al, wie nie bereid is om die HERE en Sy Woord ter wille van hulle eie en die wêreld se gemaksones prys te gee nie en God beskik dit presies net só dat hulle Sy getuies sal bly en wees, ongeag die omstandighede, vandag nog (Romeine 11:4; 1 Konings 19:18).
En ja, Spirituele Intelligensie is inderdaad iets waaroor jy nie beskik, nie. Dit is daardie gawe van die Heilige Gees van God (Mattheus 11:27; Johannes 14:26) waarteen jy baie graag sal te velde probeer trek. Maar, dit is jou verlies en ons gewin. Nie omdat ons gemeen is nie, maar omdat jý gemeen is met jouself deurdat jy God mét Sy geskenke en toerusting van gawes en vaardighede aan ons Sy ware gelowiges en dienaars, wil verwerp. Daarom dat jy saam met ander soos jy, sulke dwaashede in die openbaar probeer verkwansel – sonder enige effek, behalwe om oordeel oor jouself te bring terwyl jy, tragies genoeg, nie die insig hê tom dit te besef, nie. As jy tog maar net die wil en insig sou hê om ook jóú lewe só in te rig, dat jy ook Spiritueel tot God bemagtig kon word.
God is vrymoedig en vrygewig met Sy gawes tot geloof (1 Timoteus 2:3-4), maar sommige mense is te dwaas om Sy geskenk te aanvaar. En dan manifesteer hulle, soos jy nou maak.
God is álles wat jý nié is nie. Byvoorbeeld, het jy geweet dat Hy jou selfs ná ’n leeftyd van al jou vooroordeel, wanvoorstellings, kwaadwilligheid en wandade teenoor Hom en ander, in genade sal vergewe en aanneem, as jý maar net sou wou (Esegiël 18:21-23; Openbaring 3:19-20)? Ongelooflik? Glad nie. Dit is waarom Hy God is en jy, mens, Hom nie verstaan nie – God, en Sy Goedheid, Sy Liefde, gaan die menslike begrip te bowe! As gelowiges weet ons dit, omdat die Gees van God dit aan ons openbaar. Daarom weet jý dit egter nie- want jy het géén verhouding met die Gees nie… ter keuse, tragies genoeg. Het jy al gedink – wat is rasioneel daaraan, dat jy die Goedheid só probeer bestry?
Kobus de Klerk


Kommentaar
Beste Kobus
Jou enigste argument wat jy by herhaling met elke stelling van my afkomstig weergee, is dat, omrede ek 'n uitgesproke en onbeskaamde homo en ateïs is, ek in jou oë geen vermoë of reg het om enigsins oor godsdiens en die kerk te kan praat of opinie te lug nie. Dan verbloem jy, op jou beurt, jou onvermoë om tot die kern van elke argument te bly deur oor omtrent alles wat onmiddellik in jou kop opkom, met vele woorde die kern van die argument te verbloem, tot so 'n mate dat afgevra word, waaroor gaan jou brief nou eintlik?
Wat ek hierbo geskrywe het, is 'n kort opsomming, sonder afwyking van die boodskap daarin vervat, van alle tekse in my skrywe aangehaal. (Ek vra die leser om die tekse vanuit die Bybel wel te lees en aflei of ek wanvoorstellings gemaak het al dan nie). Indien die tekste wat jy als teevoeter aangehaal het die teendeel sê, dan bewys dit net waar ek in 'n ander brief geskryf het dat God met 'n gesplete tong praat (gesplete persoonlikheid), en ja weersprekings deur God gebeur tog so baie kere in die Bybel, 'n onderwerp wat ek van plan is om nog hier aan te roer.
Jaco Fourie
Dankie Kobus. Ek het meer deernis met Jaco as menige ander ateïste hier. Ek dink hy is 'n baie verwarde en "stout" jong man wat vasgevang is in 'n web.
Ek wens ek kon Jaco net 'n drukkie gee en hom seën in die naam van die Here. Ek dink hy het dit baie nodig. Ek dink hy is so verward en so ongelukkig met sy leefstyl, dat hy dit nou openlik op God probeer blameer (Al is dit nou onder die vaandel van ateïsme).
Baie mense raak die pad byster. Ek dink nie Jaco is enigsins 'n slegte mens nie, maar sy rebelsheid verhoed hom om die HERE aan te neem, en dit word uitedra in sy laster. Ek het so ook die brief van Stephanie gelees, en ek is so dankbaar dat iemand soos Stephanie openlik die HERE se naam bely en die stap geneem het om te probeer om God in haar hart te neem en aanvaar. Sy wend die poging aan, alhoewel sy nog baie verwardheid en seerkry het om mee te deel. God sien dit raak.
Ek wens Jaco wil die stap neem, sy promiskue leefstyl staak en dalk God 'n kans gee in sy lewe, soos wat Stephanie gemaak het.
Aletta
Al vier die Evangelies is dit eens dat ons Here na Sy opstanding heel eerste aan vrouens verskyn het. Hy het hulle self en ook deur middel van engele (wesens slegs in die diens van God ), beveel om oor die opstandings feite te gaan getuig.
Hiermee het Hy aan vroue die opdrag gegee om evangelisasie te doen en diakens, ouderlinge en leraars te word.
Van wie hoor die klein kindertjies eerste van Jesus. Van wie het Jaco dit gehoor. Watse hartseer het hy nie sy moeder aangedoen met sy moffieskap nie.
Hy moes dit tog aan haar meegedeel het. Het hy haar, soos die Bybel voorskryf, ge-eer met sy voorkeur?
Raed-na-Gael
Raed - na - Gael. Ek stem saam met jou verwysing na die Evangelies en die Openbaring aan vrouens. Juis dit weerspreek die gedagtes wat Jaco rondom vrouens in die Bybel koester.
Natuurlik sou sy moeder hartseer wees toe sy uitvind dat hy gay is. Tog is dit juis daar waar 'n moeder intree en die pad saam met haar kind probeer stap, ten einde hom te lei nader aan die Woord van God. Baie mense sukkel met homoseksualiteit en ek dink juis daardie mense, is soos menige ander sondaars juis welkom, en moet verwelkom word en bygestaan word deur die Kerk. Wat hulle mee te doene het, en sukkel, is baie erg en baie moeilik om te oorkom, en dit is juis die leefstyl wat ons moet aanspreek.
Enige moeder sal haar kind in liefde ontvou as hy die pad byster raak, sonder verwerping. Ek het self 'n pad gestap met my een seun (genadiglik nie homoseksualiteit nie), maar ons was daar en het hulp en leiding gekry en baie gebid om hom op die regte pad te kry.
Ek dink nie dit is regverdig om sy moeder en "moffieskap" na Jaco se kant te gooi nie. Ek is seker sy moeder, al was sy gebroke, het uit liefde probeer, soos enige ander moeder sou, en dat sy dalk selfs vandag nog Bid en leiding probeer aanbied, aan die seun wie sy gebaar het en in Liefde aan God tydens sy Doop opgedra het. Dit is juis hier waar die rol van vrouens in die Bybel so belangrik is.
Beste Tant Alie
Dankie vir jou deernis jeens myself, wat hoog op prys gestel word. Jy het 'n manier om my knie te laat knak in eer aan jou en jou getoonde empatiese persoonlikheid.
Nieteenstaande, kan ek nie oneerlik teenoor myself wees, en wees wat ek nooit sal wees nie, nl heteroseksueel en 'n Christen. In die eerste geval my wese, in die tweede geval my oortuiging tot datum nie verkeerd bewys nie.
Jaco Fourie
Beste Raed-na-Gael
Ek besit ‘n Engelse (KJV) Bybel, waarin alles wat Jesus ge-uiter het in rooi gedruk is. Hierdie woorde is beslis van die mooiste ooit deur enigiemand ge-uiter. Neem dit afsonderlik vanuit die Bybel, asof dit ‘n ander boek is, en vind jy skielik ‘n heel nuwe en uitsonderlike filosofie. Die liefde vir die mensdom is deurweek daarin; die empatie vir alle klasse; die behandeling van die vroue en hul liefde vir hom is uitmuntend. Daar is geen dogma daarin vervat nie.
Maar Jesus, tenspyte wat ander tot die teendeel wil se, het nie die kerk en die riglyne (dogma) vir Christene gestig nie. Inteendeel hy hy nooit enigiets wat hy gese, self geskryf nie. Was dit nie vir Paulus, sou die Christendom heelwaarskynlik heel anders vandag daaruit gesien het. Paulus wat nooit saam in die vlees met Jesus gewandel het nie, kom in die Bybel groter voor as selfs die disipels van Jesus, Petrus inkluis. Paulus is daadwerklik die eerste kerkvader en nie Petrus nie. Hy was die magtigste evangelis ooit, maar in die proses ook van sy agtergrond op die Christendom afgestempel, nl. voorheen Fariseer, ‘n wetsgeleerde.
Die gees en liefde van Jesus se woorde kan jy aanvoel. Die gees en “liefde” van Paulus se woorde kom “geforseerd”, eintlik voorskriftelik voor. Jesus se optrede teenoor vroue verskil drasties met Paulus se opdragte aan vroue.
Jaco Fourie
Beste Jaco,
Onthou net, as jy vasgevang voel en eendag nie meer watter kant toe nie, is daar vir jou uitkoms! God is alreeds in jou hart, en jy is altyd welkom om Hom te probeer ontmoet en lief te kry. God het jou lief. Jy is welkom in die Kerk, soos enige ander sondaar, ons almal.
Jou homoseksualiteit het jou koud gemaak vir die Woord en teenoor Christene want jy is onder die indruk, dat Christene jou sal verwerp. Dit is nie die geval nie. As jy werklik wil probeer SAL Mense sal jou bystaan en help, met die Genade van God, om Hom weer te vind.
Onthou dit maar net!
Aletta
Jaco,
Dit is maar ’n kwessie dat jy nie kan verstaan wat ek skrywe, nie. Gelowiges het absoluut geen probleem om my punt in te sien en te verstaan wat ek skrywe, nie. Nes die Woord waarsku. Daardie insig is net van God te kry (Jakobus 1:5-8).
Dit is so, Tant Alie het daardie wonderlike moederlike deernis en krag, én sy is ’n stoere, konserwatiewe Christenvrou, Christelik getroud ooreenkomstig die Christelike beginsels in die Woord neergelê met kinders, een waarvan sy (met hulp) deur die drif van ongeloof gehelp, het – in alle opsigte ’n steunpilaar en voortreflike en deugsame vrou soos daar in die Woord in Spreuke oor die rol en plek van die vrou in die Christelike samelewing geskrywe word… en alles behalwe haar man se vloerlap!
Sy is die weerspreking van jou leuens oor die Christelike geloof en die plek van die vrou, daarin. Sy, voor wie se deernis en krag jy die knie wil buig… Ek dink jy besef dat die praktyk jou en andere soos jy, in julle leuens weerspreek. Ek is dankbaar dat jy haar Goddelike gawes kan raaksien en daaroor getuig, omdat sy deur God geseën word daarin, só anders as die leuenagtige boodskap van verdrukte vroue wat jy probeer verkondig met jou versinsels.
Ten minste kan jy nog die goeie raaksien – ek sien ook elders hoe jy getuig dat jy die HERE in Sy liefde kan aanvoel wanneer jy Sy Woord in die KJV lees … in teëstelling met Cornelius, byvoorbeeld, wat só afgestomp is dat hy nie meer goed van kwaad kan onderskei nie. Let maar op hoe hy Tant Alie behandel...
Beste Kobus en Tant Alie,
Hier moet ek saam met Tant Alie stem, en ek dink homoseksualiteit is seker een van die moeilikste dilemmas waarmee ons te doene het as Christene. Ek is nie die beste Christen wat daar is nie, iemand wat al baie sondes gepleeg het, en steeds sondig. Daarom voel ek dit uiters nodig om gereeld te bid en gereeld die kerk te besoek. Ek stem nie met alles saam wat die kerk voorskryf nie, maar dit is juis daar waar ek welkom voel, omdat ek probeer om teen my sondige bestaan te stry en die Here 'n kans te gee.
My stryd is nie homoseksualiteit nie. My stryd is wel my eie, en ek weet ek kan nie my lewenstyl versoen met my geloof nie, maar ek probeer. Ten opsigte van Jaco se homoseksualiteit en uitgesprokenheid teenoor die Christenskap, kan ek nogal verstaan hoekom hy so uitvaar teenoor die Christendom. Ek was ook daar en ek het ook gewroeg oor hoe God my kan kruisig omdat ek nie my sondige lewenstyl wou staak nie. Soos tant Alie se, mens begin dan God te blameer.
My siening oor homoseksualiteit is baie verlig, aangesien ek weet hoe moeilik dit is om met iets te struikel wat direk in stryd is met God se Woord. Ek voel dan nes Tant Alie dat ons eerder homoseksuele mense, soos Jaco en anders sondaars, welkom moet laat voel in die Kerk. Ek is tog daar met al my sondes en seerkry, en ek kry daaruit hulp en vertroosting. Ek dink wel dat die gay mens wat nie promisku lewe nie, nie sondig soos wat baie in die kerke propageer nie.
Ek dink dit is juis hierdie houding van die kerke wat sondaars wegdryf en die kerk probeer verwerp. Dus moet die kerk sy deure oopmaak vir almal en Christene moet deernis en respek het vir almal wat soek na God.
Daar is te veel mense wat die Kerk verlaat en hulle eie soeke na die waarheid probeer vind. Ek dink dit kan 'n groot probleem afgee, soos gesien in die geval van Cornelius, wie ek ook hier raakgelees het.
Kobus, ek dink Christene (almal sondaars) maak andere baie seer, en dit bring 'n gevoel van verwerping mee, wat op die einde in 'n anti - godsdienstige houding ontstaan. Die kerke moet almal toelaat en almal die geleentheid gee om te getuig en hulp verskaf. Kerke is meer as net die gebou en die besigheid. Dit gaan oor die mense, die mede - Christene wat daar moet wees vir mekaar en ander wat in sonde gebore is.
Ek stem nie saam met alles wat jy se nie, maar dit is klein dinge wat elke Christen uniek maak, tog is daar baie dinge wat jy hier vertel wat sin maak. Kom ons maak almal ons harte oop vir elke sondaar, en met krag en gebed kan ons mekaar optel en saam mee werk om ons hele Afrikanergemeenskap uit die as te laat opstaan.
Groete
Barend
Hallo Barend,
Ek meen ook, soos jy, dat homoseksuele mense wat dit nie praktiseer nie, nie skuldig is aan die verbod nie, want dit is duidelik die praktyk daarvan dat verbied word. Dit gesê, moet ons onmiddellik die HERE se waarskuwing in Mattheus 5:28-29 in ag neem, want dié waarskuwing geld vir enige sonde, nie net vir egbreuk, nie en derhalwe ook vir homoseksualisme in fantaseer stadium daarvan. Vers 29 se toepassing sal dus ’n selibate leefstyl in die geval van homoseksuele verg.
Soos ek sê, dit is van toepassing op álle sondes, nie net sekeres, nie. Sonde begin in die siel, in die gedagtes en manifesteer eers daarná in die fisieke. Daar is geen sonde wat gepleeg word, wat nie eers in die siel, die gedagte, ontstaan nie. Dit is Mattheus 5:28-29 se ernstige waarskuwing. Om dus die sonde suksesvol te weerstaan, moet ons alreeds die versoeking daarvan, dus die gedagte daarvan, weerstaan (Mattheus 6:13; 26:41).
Ek dink al die ware Christene sal saamstem dat ons homoseksuele mense in die kerk moet verwelkom, nes enige ander mens met sonde – as net sondelose mense in kerke moes welkom wees, so daar geen kerk op aarde bestaan, nie. Die idee en opdrag van die ware Kerk, is báie duidelik júís om ons van Goddelike leiding en rigting te bedien in die HERE, sodat ons juis van sonde ontslae kan raak (Markus 2:17).
Die kerk is dan juis die plek waar jy heelwordende sondaars sal moet aantref. So ook dus, homoseksuele mense saam met al die ander mense met ander sondes. Dit is die homoseksualistiese praktyk (met inagneming van en soos gekwalifiseer in Mattheus 5:28) wat deur die HERE verbied word. In die kerk behoort geleer te word om die versoeking daartoe suksesvol in die Krag van God die HERE te weerstaan. Selfs diegene wat in dáárdie opsig struikel, moet in die ware Christelike kerk, welkom wees – nie om hulle te paai en te steun in daardie praktyk nie, maar om hulle met ferm Goddelike Liefde in die regte rigting te lei – met volle ondersteuning en voorbidding in die proses, om sodoende diegene te help om die praktyk wat vir God afstootlik en ’n gruwel is (soos ander sondes), af te lê en daarvan bekeer te word.
Die praktyk van homoseksualisme is soos enige ander sonde waarvan daar ontslae geraak moet word. Verwerping van die persoon is baie beslis nié die manier, nie. Maar, verdraagsaamheid teenoor die sondige praktyk in die goedkeuring daarvan deur passiewe stilswye, is bepaald óók sondig. Die HERE bemagtig ons, maar gee terselfdertyd ook opdrag aan ons, om almal, ook mekaar, te onderrig en te leer in Sy Evangelie en wat HY ons beveel het om te doen – dié opdrag is in die imperatief (Mattheus 28:19). Wat beveel en leer die HERE ons? Dat ons gehoorsaam moet wees aan God (Mattheus 5:19-20; 7:21) want die HERE Self is óók gehoorsaam (Johannes 6:38). As die HERE, Wie God die Seun is, weet om gehoorsaam te wees, wie is die mens, énige mens, om dit nié te wil wees, nie?
So, uiteindelik maak dit nie saak hoe ons as mense oor ’n sondige praktyk voel, nie. Of ons ernstig daaroor voel en of ons, soos jy sê, ‘verlig’ daaroor voel, nie. Dit gaan oor hoe die HERE, God, daaroor voel – en ons wéét hoe die HERE daaroor as sonde voel want HY het selfs SY menslike lewe afgelê om daarvan ter wille van ons, ontslae te raak sodat ons in SY Krag daardie sondes kan aflê.
Jy vermeld ook die algemene stelling dat Christene mense seermaak. Hoe só? Kan jy dalk bietjie meer volledig beduie?
Om iemand tereg te wys, is nie om iemand seer te maak, nie. Want, wanneer ons iemand van ons medemense teregwys, doen ons dit met die Woord as grondslag en herinner dit ons deur ons gewete terselfdertyd ook aan ons eie tekortkominge en struwelinge want die Woord is skerper as ’n tweesnydende swaard (Hebreërs 4:12) en werk dus na alle kante toe. Tog verwag die HERE dit van ons om mekaar tereg te wys, te bestraf en te vermaan, tydig én ontydig (2 Timoteus 4:2-5). En, om tereggewys te word, behoort vir ons as ware gelowiges, wie ’n ware en opregte verhouding met die HERE wil hê, ’n versugting te wees en behoort ons teregwysing deur opregtes as ’n seën te beskou (Psalm 141:5) omdat dit ons attent maak daarop dat die HERE met ons bemoeienis maak want die HERE verlang ’n suiwer verhouding met ons – na alles, HY het Sy Lewe vir ons opgeoffer omdat ons algar vir Hom belangrik is – ook die Kobusse, Corneliusse, Barend’s, Aletta’s, Dolf’e, Henry’s en die Jaco’s van die lewe - dat die HERE omgee en dus ook diegene vir wie HY liefhet, bestraf (Openbaring 3:19). Daarom behoort mense nie seer te kry as hulle deur ’n ware gelowige betugtig word nie, want die gelowige doen dit nie omdat hy dink hy is beter nie, maar juis omdat hy gehoorsaam is en omgee (en dikwels sleggesê word, daaroor).
As mense dus seerkry en aanstoot neem, is dit dalk tyd dat hulle selfondersoek hou…
Ek stem dus ook saam met jou Barend, dat die kerk oor die verlossing van die medemens behoort te gaan van al sy laste en kruise in die Gees van Mattheus 11:28-30 en nié ander prioriteite behoort te hê, nie. Maar baie kerke hét ander prioriteite en daarom loop hulle leeg… die Gees van God is nie meer daar as die Samebindende Faktor, nie.
Groete,
Kobus de Klerk