"Ieder diertje zijn pleziertje"

  • 0

Ek het voorheen geskryf oor my onbehae in boeke wat oor lees handel. Ek verkies om eerder te lees oor enige onderwerp waarin ek belangstel. Insgelyks vermy ek boeke wat oor boeke as fisiese voorwerpe handel, asook dié oor boekwinkels en biblioteke. Dit skyn beter te wees om eerder hierdie fasiliteite te benut. As 'n mens werklik deur lees meegevoer word, is jy nie bewus daarvan dat jy lees nie. Kortom, ek wil lees eerder as om oor lees, en die dinge wat daarmee verband hou, te lees.

Maar dit verhoed nie dat ek periodiek in so 'n slagyster trap nie. Toe ek Nina Sankovitch se boek, Tolstoy and the Purple Chair: My Year of Magical Reading (New York: Harper Perennial, 2012, 241p), gekoop het, het ek sekere verwagtinge gekoester. Maar daar is 'n verskil tussen wat ek gedink het die boek is en wat dit werklik is. 'n Mens moet daarteen waak om jou te veel te verlaat op wat ander mense van 'n boek dink. Daar is altyd mense wat aanklank by 'n boek vind, al is dit die soort boek wat jou nie aanstaan nie. 'n Boek sou nie gepubliseer gewees het as niemand van die manuskrip gehou het nie, of as niemand gedink het daar kan mense wees wat dit graag sou wou lees nie.

Die newe-titel het ek dadelik met Joan Didion se Year of Magical Thinking (SêNet, 7.10.2011) geassosieer, en tereg ook (p 20). Maar Didion se boek het diepte. Tolstoy se naam is prominent in Sankovitch se boektitel. Maar dit is misleidend omdat sy meesal ligter leesstof verkies; boeke wat ontvlugting verskaf, dus wat eerder vermaak as inlig; boeke wat nie (te) veel intellektuele inspanning verg nie, dus vlak genoeg is om vinnig te lees. Daar is bv nie 'n enkele substansiële wysgerige boek op haar lys nie. Dit gaan vir haar veral om fiksie, maar fiksie hoef natuurlik nie vlak of maklik leesbaar te wees nie. Die beste sou wees as diepte met leesbaarheid gekombineer word.

'n Mens moet daarteen waak om jouself interessant te vind en veral om te veronderstel dat ander mense in jou doen en late belangstel. My bestaan is tydelik en wat ek dink, is opsioneel. Sankovitch verlustig haar egter in haar wêreldjie en deel dit as kosbare kleinode met die leser. Haar suster is in haar 47ste jaar dood. Drie jaar later, op haar 46ste verjaardag, het Sankovitch begin om 'n jaar lank 'n boek per dag te lees en die volgende oggend 'n verslag oor die boek te skryf. Sy gebruik die dood van haar suster as aanleiding of verskoning vir haar afwykende gedrag. Om troos te vind, om die sin van die lewe te probeer verstaan, sou dit beter wees om enkele diepsinnige boeke stadig en deeglik te lees pleks van 'n jaar lank deur 365 (soms veerligte) boeke te jaag.

Wat ons hier mee te make het, is 'n foefie, wat lees- en boekgesentreerd is. My hart bloei vir haar man en vier skoolgaande kinders. Die man moes noodgedwonge verantwoordelikheid vir bv die voorbereiding van meer etes aanvaar (p 50) en aan die kinders is allerhande nuwe daaglikse take opgedra (p 53), want die moeder van die huis het haar op 'n pers leunstoel (nog 'n foefie) tuisgemaak om 'n jaar lank 'n boek per dag te lees. Om aan hierdie arbitrêre vereiste te voldoen, was sy verplig om boeke te lees wat nie te baie bladsye het nie (p 46); 'n kwantitatiewe pleks van 'n kwalitatiewe vereiste. 'n Brasiliaanse "cleaning crew" het elke veertien dae gekom om die huis skoon te maak (p 173), maar baie take het 'n jaar lank agterweë gebly.

Wat my teen die boek moes gewaarsku het, is dat dit deur die Oprah-tydskrif aanbeveel word. Sankovitch kom uit 'n Amerikaanse immigrantegesin. Haar pa kom van Belarus en het Poolse familiebande. Terwyl hy geneeskunde aan die Universiteit Leuven studeer het, het hy sy Antwerpse vrou, wat in die letterkunde studeer het, ontmoet. Dit is sy wat met die Vlaamse uitdrukking, "Ieder diertje zijn pleziertje" (p 103), vorendag gekom het. Sankovitch se plesiertjie is lees, maar weens oordrywing het dit ten koste van die lewenskwaliteit van haar huisgesin geskied. Sy het haar leespoging ook nie altyd geniet nie. Sy verwys na "my reading" as "sometimes painful and often exhausting" (p 147).

Deesdae is 'n webwerf feitlik noodsaaklik vir die uitbouing van 'n foefie. Sankovitch stel hierin nie teleur nie. Haar motto is: "Great Good Comes from Reading Great Books" (p 29). Maar hier beteken "great" iets heeltemal anders as in bv die Great Books van Robert Hutchins, Mortimer Adler en Jacques Barzun. [Terloops, laasgenoemde (SêNet, 17.03.2011) is op 25.10.2012 in sy 105de jaar oorlede.] Dit gaan vir Sankovitch veral om tweede liga- of middelmootliteratuur. Kyk by ReadAllDay.org om Sankovitch se wenresep te lees. Jy moet bv lees terwyl jy eet en sommer ook terwyl jy met die stofsuier doenig is. Sy skaar haar aan die kant van die "common reader" teen die "literary critics". Waaroor sy graag lees is "gossipy chatter akin to 'what's happening with the neighbors?'" (p 209).

"One of the simplest pleasures I know is to sit and eat with a book beside me, devouring words as I devour food. For at least one meal a week, I allow my kids to bring a book to the table and read while we eat. A shared meal, a shared pleasure" (p 207). Wanneer haar ma haar besoek en hulle alleen in mekaar se geselskap is, verkies Sankovitch om te lees. Ook wanneer sy en haar stiefdogter tennis gaan kyk en hulle wag dat die wedstryde moet begin. Wat Sankovitch nie besef nie, is dat haar leesgedrag selfsugtig en onbeskof is. Anders as voorlees en televisiekyk, is lees in geselskap 'n onsosiale, isolerende aktiwiteit.

Hierdie slenter is die teelaarde vir kommersiële trane in die beste Oprah-tradisie, want Sankovitch verbind haar leesvoorwendsel met die dood van haar suster. In die 21 hoofstukke word nie net verwys na die boeke wat sy gelees het nie, maar ook na die gesin se daaglikse bestaan. Daar is ook terugflitse. Sommige lesers sal ongetwyfeld van die boek hou en selfs 'n banaliteit soos die volgende verskoon: "I'd certainly rather read a book a day than have sex every single day for a year" (p 155).

Maar naas die gemeenplasighede (bv "We are what we love to read", p 101), wat sou Oprah Winfrey se entoesiasme vir die boek aanwakker? (1) Die outeur veroordeel die Portugese koloniale bewind in Angola en Mosambiek (p 63). (2) In Evanston het sy saam met haar ma en twee susters aan optogte ter ondersteuning van Martin Luther King jr se Freedom Movement deelgeneem en "We Shall Overcome" gesing (p 113). (3) 'n Karakter in die swart Amerikaanse skrywer, Ernest Gaines, se boek "wants to give her godson the dignity ... to know 'that he did not crawl to that white man'" (p 127). (4) Sankovitch vertel van 'n Nigeriër wat na Engeland ontvlug het, want "Little Bee witnessed the rape and murder of her sister and the pillaging and destruction of her village, and is struggling to find a place ... where she feels safe" (p 141). (5) Sankovitch: "In my first year as a lawyer in the late 1980s, I took on the case of an immigrant seeking refuge in the United States" (p 142). Kulwinder Singh is om politieke redes in Indië gemartel. "We won our case ... Kulwinder was granted asylum" (p 142). (6) Sy verwys die anti-apartheidsaktivis in Nadine Gordimer se Burger's Daughter (p 153). (7) Junot Díaz se Oscar Wao is "a smart bookish boy of color" (p 168). (8) Sankovitch noem Ron Suskind se "account of a boy raised by a single mother in one of the worst neighborhoods in Washington, DC ... there is no money for food." Sy ma was "a big woman who doesn't need to be so damn big anymore" (p 168). (9) Sankovitch se ouma het in België breiwerk vir die "poor children of the Congo" gedoen (p 196), "to somehow make up for the horrors King Leopold II had exercised while governing the Belgian Kongo. That same grandmother was the only one in her family to welcome a cousin who had left for Africa as a priest and came back as a husband to an African woman and father to three mixed-race children. 'All love is sacred' was my grandmother's philosophy, and she helped the young family settle in to life in provincial Belgium" (p 197). (10) Wanneer die outeur en haar stiefdogter as toeskouers na die Amerikaanse ope tennistoernooi op Flashing Meadows kyk, wil hulle eerder die Williams-susters, Venus en Serena, as die ander sportsterre in aksie sien (p 201).

Daar is koring tussen die kaf. Oor haar oorlede suster skryf Sankovitch: "She lost life and all its wonderous, incalculable possibilities" (p 14). Dit kan as die kernbeswaar teen bv selfdood dien, want slegs waar daar lewe is, is daar moontlikhede. Sy verwys tereg na "the sheer value of living" (p 73). "Quiet and simple joys [are] enough reason to live" (p 44). 'n Roman of biografie is "a window into how other people deal with life" (p 31). "It shows us how to - or how not to - live" (p 139). "It has been the nothingness that comes after death that frightens me" (p 158 - iets waarna ek al meermale op SêNet verwys het). Sy haal uit Julian Barnes se Nothing to Be Frightened Of aan: "It will take more than logic, and rational argument, to defeat death and its terrors" (p 157). Daar is ook hierdie juweel: "Motherhood was just like being in a band - 'being very tired and singing a lot'" (p 170). Die volgende haikoe kan gebruik word om ons in die nuwe Suid-Afrika te inspireer en met optimisme te vervul: "Since my house burned down / I now own a better view / of the rising moon" (p 172).

Sankovitch is nie onkrities nie. Sy noem haarself "opinionated" (p 198). "[Al]most everyone thought my project was crazy" (p 33). "A book a day for a year: obsessive and crazy, or dedicated and disciplined? It was up to my kids to decide for themselves" (p 169). "My year of reading gave me the space I needed to figure out how to live again after losing my sister ... I will never again read a book a day for one year" (p 221). Sy voorsien dat sy na haar dood dalk soos volg onthou sal word: "She read a book a day for a whole year - what a nut!" (p 163).

Wat het Sankovitch met haar foefie bereik? Sy het vir haar 'n inkomste geskep. Dit is soos die huisvrou wat by die kombuistafel skryf oor hoe dit in die hemel lyk. Daar is 'n mark vir so 'n boek, want baie van ons was nog nie daar nie.

Johannes Comestor

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top