Diegene wat die wettiging van renosterhoringhandel teenstaan as oplossing vir Afrika se renosterstropingskrisis, het lank reeds gewaarsku teen die gebruik van eenvoudige ekonomiese modelle as ’n basis om hierdie uitgangspunt te regverdig. Nou is die eerste van waarskynlik vele kritiese verslae gepubliseer wat aansienlike twyfel skep oor die benaderings wat ekonome en konsultante ten gunste van horinghandel volg. Horn of Contention: A review of literature on the economics of trade in rhino horn (www.ifaw.org) is saamgestel deur Economists at Large (EcoLarge) en vrygestel deur die International Fund for Animal Welfare (IFAW).
Dié oorsig rig ’n duidelike, oortuigende waarskuwing dat ’n beleid ten gunste van horinghandel nie ’n manier is om kwaai stropingsdruk op renosters te verlig nie. Na bestudering van ’n verskeidenheid literatuur oor wildhandel in die algemeen en die voordeel van handeldryf in renosterhoring in die besonder, fokus die verslag op die risiko’s betrokke in die wettiging daarvan. Die gevolgtrekking is dat “ekonomiese logika (...) geensins (dikteer) dat ’n wettige handel in renosterhoring noodwendig renosterstroping in Afrika sal verminder nie. Dit kan in sekere gevalle dalk gebeur, maar daar is min konkrete bewyse teenwoordig in dié verslae dat hierdie voorwaardes huidiglik (bestaan).”
Met ’n duidelike onderskeid tussen “formele vergelykende artikels” en niebestudeerde artikels, of waarna hulle verwys as “grys artikels”, maak EcoLarge ’n duidelike onderskeid tussen die twee kategorieë. Eersgenoemde het ’n versigtiger toonaard as gevolg van die teenstrydigheid van wat kan gebeur, en dit dui sterk op die onsekerhede in die handel, terwyl skrywers van die “grys literatuur” oorweldigend ten gunste van handeldryf is en ’n warboel aannames maak oor ’n verskeidenheid faktore om bloot die model te pas. In dié kategorie is die werk van Michael ’t Sas-Rolfes en Michael Eustace, twee ekonome wat buitengewone blootstelling gekry het in kringe wat ten gunste van handeldryf en hul modelle is, grootliks verantwoordelik vir die aanblaas van die vuur ten gunste van ekonomiese argumente hiervoor in Suid-Afrika. Die EcoLarge-verslag sê verder dat hierdie uitgangspunte “merkbaar minder streng is in die toepassing van ekonomiese beginsels” en dat dit “in die algemeen faal om die faktore aan te spreek wat die formele studies spesifiek uitwys as die faktore wat kan lei tot die vermeerdering in stroping. Die bewyse vir hierdie uitgangspunte is meesal nie oortuigend nie.” In die geval van Eustace verwys die verslag na sy uitganspunt as “eenvoudig en misleidend”.
Volgens die EcoLarge-verslag is die een aanname onder die vele aannames in die “grys literatuur” wat die grootste gevolge inhou, die een wat die verskille tussen wettige en onwettige handel van wildprodukte en -markte ignoreer. Die verslag waarsku oor die groot moontlikheid dat wettige en onwettige markte naas mekaar kan bestaan en verwys na ’n onlangse studie van Chinese verbruikerspatrone van beergal (Dutton, Hepburn en Macdonald 2011). “Daar is ’n bereidwilligheid om merkbaar meer te betaal vir wilde beergal as beergal wat verbou word. Die vermoë van verboude gal om die aanvraag van wilde beergal te verminder is beperk en kan basies geen effek (nie) of selfs ’n negatiewe effek hê.” TRAFFIC het ook soortgelyke gevolge uitgewys in verbruikerspatrone vir tierbeendere. “Verbruikers verkies ook wilde tierprodukte eerder as dié (...) van diere in aanhouding,” berig ’n 2009-verslag.
Op presies dieselfde vlak moet die aanname dat aanbod effektief genoeg beheer kan word om pryse af te bring, en so ook dus stropingvlakke, baie fyn bestudeer word. Dit blyk ook ’n eenvoudige “teksboek-aanname” eerder as ’n werklike gevallestudie te wees. Inderwaarheid kan presies die teenoorgestelde gebeur. Een van die weinige dinge wat ons van hierdie markte weet, is dat die aanvraag vir, sowel as die hoeveelheid, onwettige horing nie bekend is nie, maar tog lyk dit, ten spyte daarvan, of die prohandelmodel gebaseer word op die aannames dat dit stabiel sal wees, dat hulpbronne effektief toegewys sal word en dat aanbod en aanvraag sal balanseer. Gegewe die bevolkingsgetalle in die Verre Ooste en hul onlangse onversadigbare verbruikersvlakke, kan die onderskatting van die aanvraag en die moontlikheid vir stroping om ten alle koste en teen alle prysvlakke plaas te vind, die grootste kritieke fout van die prohandelmodel wees.
Hierdie selfde denke en kritiese ontleding dui ook daarop dat die verbouing van renosterhoring nie ’n sinvolle oplossing is nie. Uit dieselfde Dutton ea-verslag oor beergal rig die skrywers die volgende waarskuwing: “Sodra die regering boerdery en handel toelaat om wild te beskerm, kan die resultaat presies die teenoorgestelde wees van wat verlang word. Erger stropingsdruk en kleiner getalle wild. Alles getuig (daarvan) dat daar wankompetisie in die wildhandelmark is. Dit is onseker of kompetisie intens sal wees al dan nie, wat impliseer dat dit onseker is of voorraad uit die natuur sal verminder of vermeerder.”
Hierdie verslag benadruk duidelik die vlakke van onsekerheid en risiko betrokke by die huidige ekonomiese model wat wettiging voorstaan. Met die uitsterf van die renoster wat ’n baie sterk moontlikheid is, is dit moeilik om te sien hoe beheerliggame enige veranderinge in die huidige beleid teen handeldryf kan toelaat.
Ian Michler werk die afgelope 24 jaar as ’n spesialis-wildernisgids, fotojoernalis en konsultant regoor Afrika. Hy was vir 13 jaar in die Okavango-delta, Botswana. Sy skryfwerk sluit onderwerpe in oor bewaring, wildbestuur, ekotoerisme en die omgewing in die algemeen. Hy is ’n gereelde medewerker, rubriekskrywer en blogger vir Africa Geographic. Ian is ’n lid van die International League of Conservation Writers en is die skrywer en fotograaf van sewe natuurgeskiedenis- en reisboeke oor Afrika. Hy woon tans op die Tuinroete, van waar hy Invent Africa bedryf, ’n safari-maatskappy wat toeriste na 15 lande in Afrika neem.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

