Hoe sê jy, Ma?

  • 9

Die afgelope week is dit asof my ma met my wil praat.

Dit sou normaal gewees het as dit nie was dat sy in Desember oorlede is nie.

My ma is dood op die ouderdom van 96. Presies ‘n dag na Madiba. Sy’t altyd gesê sy sal langer as Madiba leef.

Dis asof ek my ma kan sien glimlag soos sy kon glimlag toe sy nog jonger was, voordat die sorge van die lewe en my pa se eskapades en al my gruwelikhede haar gesig laat ernstiger trek het.

Ek is jammer, Ma.

My ma het vir jare nie dikwels geglimlag nie. As sy het, was ek nie daar om dit te sien nie. Vir my was dit asof sy eers weer sowat twee jaar voor sy dood is, begin glimlag het. Toe ons mekaar weer begin sien het en ons stadig versoen het.

Ek was so lank vervreemd van haar, ek moes my broer bel vir haar adres en toe my GPS instel, want in die middestad van Pretoria, waar haar woonstelletjie was, sewe verdiepings bo al die gemors en die werkloosheid en die verval, het al die straatname verander en ek was rigtingbefok.

Ek is bly dat my ma geglimlag het voor haar dood.

Maar hoekom glimlag sy nou nog steeds? Hoekom word ek soggens wakker met haar laggende gesig ingeprent in my kop?

Wat is dit wat haar so gelukkig maak?

Sy lyk nou anders. Die gelaatstrekke is dieselfde, en sy is nog steeds ‘n bietjie grys, maar haar oë is jonk en sy lyk bly. Sy lyk soos iemand wat met vakansie is by die see en gelukkig om vir die eerste keer in ‘n lang tyd net haar tone in die sand te druk en die wind deur haar hare te voel.

Dis asof sy my wil herinner aan al die mooi oomblikke in ons origens stormagtige verhouding deur die jare. Soos toe sy altyd vir ons kinders lemon meringue-tert gebak het toe ons nog klein was. My ma was die meester van lemon meringue.

Of die Engelse boeke wat sy my gedwing het om te lees. Sy het geglo mens moet goed tweetalig wees. Dis hoekom ek vandag ewe gemaklik skryf in Engels as Afrikaans – ek het dit aan haar te danke.

Of die hond wat sy vir my gegee het in standerd drie. Hamlet. Ek weet dat as mens dink aan ‘n hond met die naam Hamlet, dink jy aan ‘n statige, vorstelike Engelse dier wat mooi netjies aan sy leiband stap. Maar die feit dat Hamlet ‘n foksterriër-keffertjie was, het hom nie minder spesiaal gemaak vir my nie. Hamlet was my beste maatjie vir jare lank.

Ek was nie by my ma se begrafnisdiens nie. Ook nie by my pa s’n destyds nie. Ek doen nie eintlik begrafnisse nie. Ek doen veral nie kerke nie.

Ek was jare laas in ‘n kerk. Jammer, Ma. Dit was jou groot wens dat ek weer kerk toe gaan, ek weet.

Ek het darem verlede naweek baie naby aan die binnekant van ‘n kerk gekom. Want toe my vriend Beyers Truter, die wynmaker, se vrou Esmé tragies en onverwags oorlede is twee Dinsdae gelede, en ek kry die SMS van die plaas af om te sê waar en wanneer die diens gaan wees, het ek geweet: as daar ooit ‘n kerkdiens was wat ek nie durf mis nie, is dit hierdie een. Want ek moes Beyers ondersteun in sy nood. Al praat ek nie self met hom nie, ek moes net daar wees. Ek het my vrou gevra: “Dink jy ek moet daar wees?” En my vrou, wat selfs nog minder van kerke hou as ek, het geantwoord: “Ja, ek dink jy moet daar wees.”

So het ek my termosflessie vol moerkoffie gemaak, en ek het na die Stellenbosch-Noord-NG Kerk toe gery. Soos die keer toe ek my ma vir die eerste keer in jare gaan soek het, het ek weer my GPS gebruik.

Net om heeltemal seker te maak, het ek die plek eers op Google Earth gaan soek ook.

Ek was bang. Ek was benoud. Net die gedagte aan daardie facebrick-gebou met sy falliese toring en sy dooie gras het die allerverskriklikste gevoelens van angs in my wakker gemaak, angs wat ek laas ervaar het toe ek ‘n tjokkertjie was.

Maar ek was vasbeslote. Ek sou mooi gedagtes koester. Ek sou my lendene omgord met die volle wapenrusting van my vrydenkende gees. Ek sou aan nice goed dink. Sonsondergange langs die see. Tabasco op pizza. Bakkies Botha. Miley Cyrus se tong. Enigiets.

Op pad kerk toe soek ek eers ‘n lekker tune op my karradio om my op te beur. Eers is daar net boring klassieke musiek. Toe kondig die omroeper op RSG aan hy gaan ‘n song van Johannes Kerkorrel speel. En daar trek die Lindense koor weg met ‘n weergawe van “Gee jou hart vir Hillbrow”. Dit was mooi, al het hulle dit effens soos ‘n psalm laat klink.

 

Die liedjie van Johannes Kerkorrel het my die moed gegee om in die parking lot van die Stellenbosch-Noord-NG Kerk te parkeer. En daar het die facebrick-gebou voor my opgedoem, presies net soos op Google Earth. In regte 3D-reality.

Ek het uit my kar uit geklim. Ek was laat; al die ander mense was al binne. Ek het koponderstebo in die foyer gaan staan.

Ek was twee sentimeter van die Allerheiligste af. Ek was so naby aan die Calvinistiese God dat ek die tannies se parfuum kon ruik en die omies kon hoor hoes. Fok, dit was erg. Al die vrese van my kinderjare het soos bose geeste op my afgepeil. Dit was asof hulle in my ore gil: “Draadtrek is sonde! Draadtrek is sonde!”

Ek het meteens onthou hoe ongelukkig ek in standerd nege was.

Wonder bo wonder het ek die angsaanval oorleef. Geleidelik het die paranoia verdwyn. Ek het besef dat geen engel of duiwel my gaan zap nie. Dat ek die volste reg het om daar te staan, met die dominee se stem wat bulderend om die hoek van die deur na my toe aangerol kom soos ‘n plegtige tsunami.

Daar was tog ook baie deernis in sy stem.

Deernis, en ware meegevoel. Troos.

Ek het twee dinge besef.

Ek het besef dit is ‘n gepaste manier om afskeid te neem van Esmé Truter.

Ek het ook besef die kerk het nog ‘n funksie in party mense se lewens. Dalk nie in myne nie. Maar dis hoe demokrasie werk.

Ons soek almal na sin, en kry ons geestelike medisyne op verskillende plekke. Baie mense kry dit nog in die kerk. Ek kry dit by kampvure in die Karoo, by Kerkorrel se liedjies. By tabasco en Bakkies Botha en by herinneringe aan my hond Hamlet en in mooi boeke en my kinders en wandelinge langs die see. Sulke goed.

Wat het my pel Etienne altyd geskryf in sy briewe aan my toe hy Matie-redakteur was en ek rondgefok het in die stegies van Hillbrow? “To each his own.” Ek kon dit nie destyds verstaan nie. Ek het dit hierdie Sondag eers verstaan.

In my kar, na die tyd, het ek ‘n dop moerkoffie uit die fles gegooi en dit weggeslaan. En gemediteer. Ek het selfs ‘n skietgebedjie opgestuur. Ek het vir God dankie gesê vir die mooi dag en vir die lekker koffie en ek het gebid vir Beyers.

Asof in ‘n antwoord op my meditasie het ‘n visioen skielik voor my geestesoog opgedoem. Nie ‘n visioen-visioen, soos ervaar deur die profete van ouds of deur my ou pelle in Saal 6 nie, maar ‘n baie duidelike prentjie in my verbeelding.

My ma.

Ja, gedorie, terwyl die boeretroos so by my keel afglip, daar in die parking lot van die Stellenbosch-Noord-NG Kerk, het ek vir die eerste keer weer haar gesig gesien sedert sy dood is in Desember.

Ek sien haar nou al weke lank amper elke dag voor my geestesoog. Ek voel haar teenwoordigheid. Ek word soggens wakker met haar glimlag in my kop.

En ek dink ek weet nou hoekom sy so happy lyk.

Dis nie oor die Ninja nie. Ek dink nie eens sy wéét hoe die Ninja haar onder haar rok ingevloek het op daai video op YouTube nie.

Sy is maar net bly omdat haar verlore seun wragtig weer in die kerk was.

Hallo, Ma.

Kategorie: Nie-fiksie, esoterika
Taal: Afrikaans
Druknaam: Penguin
Regte: Suidelike Afrika
Formaat: D-formaat (215 x 150) HB
Omvang: 224 bl
Publikasiedatum: September 2013
ISBN: 978-0-14-353846-2
e-ISBN: 978-0-14-353108-1

 

 

Koos Kombuis se eerste selfhelp-boek, i-Tjieng – ‘n GPS vir Verdwaalde Siele, het onlangs by Penguin SA verskyn.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 9

Kommentaar

  • Koos, dankie vir jou roerende mededeling. As die dominee se preek beter as joune was, moes dit beslis goed gewees het.  Dis 'n goeie idee om met jou ma te praat en dit troos. Sterkte.

  • Linda Prinsloo

    Pragtig.  Bly vir jou.  Ek kan ongelukkig nog nie die idee van skynheilige mans in wit dasse daar voor in 'n ry face nie.

  • 2@Linda, my nooiensvan is ook Prinsloo. Wil net sê daar is nie meer 'n ry omies met wit dasse nie.

     
  • So goeie storieverteller, jy is 'n legend! Ek kan amper nie indink dat die kerk dan so erg kon wees nie. Bly dit is (was) nooit so in "my jare" nie 😉 

  • Elke verhouding moeder-zoon is natuurlijk uniek, maar meningsverschillen en niet verwachte levensloop zijn een constante.  Je verhaal deed mij kippenvel krijgen.  Omdat ik doorheen alle mogelijke verschillen zoveel herkende.  Ik kan het natuurlijk niet zo prangend vertellen als jij dat kan, maar als je na haar dood in een schriftje van je moeder leest hoeveel verdriet ze heeft gehad omdat ze jou niet meer zag in de kerk ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top