Hoe lyk jou stad-kompetisie: Pretoria (’n stukkie onthou)

  • 0

Ek onthou ’n inkennigheid
so wit soos ’n reënbui op die einders.

En kinders, van oraloor versamel
met soveel eenders-verskillende drome.

Ek onthou mans wat op my skree oor
man-wees en neul oor tye toe reeds lank verby,
waar seuns nog mans gedril en gedonder kon word
(al was daardie ouens maar kwalik vier jaar ouer as ek).

Ek onthou meisies wat so in gelid kon loop
en so seker kon lyk oor wat dit presies is wat hulle wil hê.

Nou na jare verstaan ek daardie lysies van meisies
in koshuise op Tukkies.

In volgorde elke jaar krimpende:

1. Rugbyspeler (Bloubul-kaptein)
2. Dokter
3. Rekenmeester (CA)
of as dit nie anders kan nie, Here, sommer
net ’n
4. man

wat hulle kan versorg en op sy hande dra
en ’n pa vir hul kinders kan wees.

BA Manvang, het mense soms spottenderwys daarna verwys.

Soms sou ek alleen die kroeë bewandel
op soek na soek na God-weet-wat
en dit ook nooit kry nie.

Dan, soms, sou ek vriende bel
terwyl ek na bands met swak covers sit en luister
en lyste in my kop maak van wat ek wil word
en eendag wil wees.

In retrospek lyk elke vyf jaar se vyfjaarplan anders
en aan die einde van elke vyf jaar moes ek maar
wonde lek oor doelpale wat verskuif het.

Selfs nou nog, byna tien jaar later,
is daardie ouens se geskree soms nog duidelik in my kop
oor die een droom wat ek nog nooit van afgesien het nie
en waarna ek elke dag tevergeefs streef,

(dié een wat gemaak het dat ek nooit 'n meisie van Pretoria kon hou nie)

want die lewe is nie 'n action movie nie
en om man te wees in hierdie wêreld
van retoriek en verontskuldiging,

sit nie in enige man se broek nie.

Klik hier vir inligting oor hierdie kompetisie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top