Die teerpad loop verby die klein dorpie wat jy kwalik sal raaksien, maar
Draai af, volg die grondpad: die stofpad loop nog steeds duskant ons ou huis verby.
Waar voorheen ’n klein reghoekige huis met ’n groen dak gestaan het –
En stom vensters, en ons kinders aan die kalk sodat die mure spierwit skreeu,
En Ma wat sit en tik aan uitkomkans en Pa wat slaap deur die dag,
En snags hou hy wag vir die nagmerries oor die Grensoorlog,
En smiddae stap ons in die stofpad af, meestal tweedehands geklee,
Soos ’n trop brandsiek honde al om Ma se kreupel bene –
Daar is ’n nuwe huis nou, opgebou, uitgebou, nuut gebou.
Waar destyds struike gestaan het –
En ons kolliehonde vasgeketting was in die namiddaghitte
Sodat hulle gate gegrawe het, op soek na koelte en miskien die ou dae
Toe hulle nog los mag rondgehardloop het voordat hulle ander mense se skape gevang het,
En Pa, bewerig en bang vir gewere rig op die weerlose,
Maar eerder belowe het om hulle vas te maak, die verskrikte honde –
Is nou groot bome wat lang skaduwees werp en alles is koel en groen en mooi versorg.
Ek klop en die vrou wat die deur oopmaak, laat my in.
Die huis is vreemd binne, ’n ander plek nou. Ma en Pa en die honde en als is verby.
Ek vra of ek die badkamer mag gebruik en wanneer ek opkyk
Staan die witgeverfde plafon nog soos al daardie jare terug.
En dis asof Ma weer in die bad oorkant my lê en huil oor die breinkanker,
En Pa nog steeds by die tafel sit en tob oor die goed wat hy nie wou oorleef nie,
En my oë verdof en my hart sak uit oor hoe dit was toe alles nog dieselfde was.

