Titel: Hartland
Skrywer: Deon Opperman
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624056911
Koop Hartland by Kalahari.com.
Laat ek maar met die deur in die huis val: die omslag van hierdie boek het my nie juis omgeboul nie en het weer eens bewys dat daar nog baie potensiaal vir grafika is in hierdie verband. Mens begryp dat die uitgewer die verwantskap tussen die televisiereeks en die verwerkte teks wou deurvoer, maar gegewe die tweede lewe wat die dramaturg Deon Opperman se drama verkry deur Kerneels Breytenbach se knap verwerking sou ’n alternatiewe benadering dalk meer toepaslik gewees het.
Tydens 2013 se eerste winterstorm aan die Kaapse kus word die leser ’n naweek gegun in die geselskap van die Cilliers clan en vind dit grotendeels ’n voortreflike ervaring. Boonop dop hierdie familie alte lekker, wat ’n glasie Allesverloren-port neffens die notaboek motiveer: “… soos die groot Uys Krige eenkeer gesê het: ‘Die lewe is alleen draaglik as ’n mens ’n bietjie dronk is’” (28).
Die tema van familiesage as kultuurgom binne die diorama van vermaak is lank reeds beproef, soos blyk uit oa Hamlet (Shakespeare), The Covenant (James A Michener), Brideshead Revisited (Evelyn Waugh) en Sewe Dae by die Silbersteins (Etienne Leroux). Dikwels volg media soos film, televisie of radio in die spoor van die teks, maar in hierdie geval is die bestaande drama teruggewerk tot roman, en Breytenbach se verwerking gee aan Hartland ’n tweede impuls.
Dit is ’n skerp-ent-messie wat die soomlose samesnoering tussen die twee vermaarde skrywers Opperman en Breytenbach bewerkstellig het; iets waaroor mens nie verbaas hoef te wees nie.
Ons begin by die huis wat Jan Cilliers gebou het, en word stelselmatig aan sy familie voorgestel: bloed en aangetroud (7), en eindig met die matriarg, Ouma, wat die langste skakel terug is na die familie se verlede.
Dit gaan maar soos wat dit in families gaan. Daar is voorbankers en agterbankers, minstens een alkoholis, ’n dominee, lankmoedige vrouens, jeukerige tieners en ’n agterbakse teef. As Pretoria jou heimat is, en die verhaal speel af ’n dekade of twee na Suid Afrika se eerste demokratiese verkiesing, is die kanse goed dat jy gaan kennis maak met kinders wat hul voete in die vreemde probeer vind; regstellende aksie en apartheid se monster gaan tande wys in verskeie gedaantes, hetsy as bosspook in Angola of as manifestasie in Die Ploegskaar (vergaderplek van ’n ekstremistiese beweging, die Wit Vuiste).
Die patriarg van die familie is besig om te sterf en as strateeg moet hy sy laaste prentjies teken. Wanneer die stokfiguurtjies egter begin bokspring, raak dinge woes en die patriarg word (genadiglik) heelwat ellende gespaar.
Op ’n kol het die herinnering aan skaapslag in die Noord-Kaap by my opgekom. Die boek beslaan dertien hoofstukke (omtrent soveel as die snitte aan ’n merino), waarvan elk aan ’n kernkarakter in die familie gewy is en hoofstuk 9 aan Zweli, die historiese skakel (van African Queen Cosmetics): “Soos julle weet, het ek my lewe gewy aan die bou van die besigheid wat ek en Zweli se pa gedurende die donker dae van apartheid gestig het” (104).
Die rangorde en wisselende magstryd binne ’n familie is ter sprake: “En as ek my nie misgis nie, het hierdie skip ’n kaptein” (214). Ook die eeue oue stryd tussen goed en kwaad (soortgelyk aan in Sewe dae).
Die Bosoorlog gee die teks ’n growwe tekstuur: “Hy’s nie al een wat op daardie grens seergekry het nie,” probeer Rudi verduidelik. “Ons almal het. Hierdie land is vol lopende gewondes …” (177). Wanneer Rudi, Hannes en Gerhard die reis na Ogongo onderneem om daar die “Poort tot die hel” (542) van die miserabele tagtigerjare weer in die gesig te staar, kom die Suid-Afrikaanse kunstenaar Jo Ractliffe se stemmingsvolle swart-wit foto’s uit haar reeks The Lands of the End of the World (2010) by my op. “Die mensdom het ’n baie dun pantser van beskaafdheid” (Hannes, 368), soos blyk uit oa Albert en die Wit Vuiste se optrede: “Ek sal jou minder maak” (371).
Menswaardigheid is herhaaldelik in die gedrang: “‘En toe ons hom losmaak, het dit verskriklik gestink, want hy het deur die nag in sy broek … jy weet …’ (261). Boetjan raak stil. Hy skaam hom vir die dinge waarby hy betrokke was” (261).
Die “slagveld” as speelvlak figureer gereeld, nie net in die letterlike sin van die woord nie, maar ook binne menslike verhoudings tussen man en vrou, ouers en kinders en broers, en is dikwels paradoksaal, soos in Jan se geval: “Wat maak die oorwinning saak? wonder Jan. Waar is die vreugde nou?” (183); of “’n Groter slagveld wag” (208, Antoinette); en “‘Julle kan maar kom,’ sê hy hardop vir homself, ‘ek het vir julle net een woord: Bloedrivier’” (Vlooi, 275).
Ander onderwerpe wat na vore tree, sluit in: geweld, verslawing (drank), regstellende aksie, migrasie/diaspora en daarmee saam die gevoel van ontworteling soos in die geval van Bertus en Elna: “Hy het nooit verstaan wat die woord ‘diaspora’ beteken nie … totdat hy geëmigreer het” (119).
Die tweespalt in hul huwelik strek oor twee kontinente en twee stede: tussen Pretoria en Vancouver - laasgenoemde word “die verhuising na ’n middelmatige stabiliteit” (284) waar Afrikaanssprekendes Engels praat in die huis: “I thought we agreed that we speak English in this house” (284).
Die houvas van die “Kerk” met ’n stewige Ou-Testamentiese inslag tree herhaaldelik na vore en belig doodsondes soos toorn, afguns en hebsug. Parallel hiermee loop die spoor van paternalisme: “Elna het geen ander keuse as om agterna te gaan nie” (108). Ook: “Hy het gedink die stokmannetjie met die rok sou nie in opstand kom nie” (132). Met verloop van tyd maak die “eerbiedige” vrouens in die verhaal hulle stemme dik; beide Rika en Elna ondergaan ’n mate van bevryding en (her)bevestiging van ’n eie identiteit: “Onder die grasdak van die huis wat Jan Cilliers bo-op die koppie gebou het, smee die vroue van die clan nuwe bande” (380). Die kerk se greep op sy onderdane disintegreer soos wat die verhaal vorder.
Sekstonele is mak en draai grotendeels by dr Jan van Elfen. Dus: die leser wat wil hyg onder ’n donskombers moet maar ’n grys merrie opsaal. Dit is ironies dat Lizzie gestraf word vir haar hormone wat roer terwyl haar broer Vlooi besig is met moord: “Bloed in! … Bloed uit!” (287).
Hartland bevat nie die mistieke onderliggende teks van ’n boek soos byvoorbeeld Sewe dae by die Silbersteins nie, en ek glo nie dit het so ’n vertolking ten doel nie. Die teks is duidelik, dit is ’n lekkerlees boek, maar nie sonder diepte en relevansie nie. Die teks skuif byna geluidloos tussen hede en verlede, met die soort gesprekke en taalgebruik wat aanneemlik is. Dit is ’n realistiese verhaal, gesetel in ’n hedendaagse (voor)stedelike landskap, sonder pseudo-intellektuele literêre wyshede, en gewis herkenbaar, met in vele opsigte ’n narratief wat ontplooi saam met elke nuwe karakter wat voorgestel word.
Styl/struktuur
Die skrywer verskaf deurentyd leidrade wat daarop dui dat dinge maar woes gaan raak vorentoe, soos byvoorbeeld: “Rudi val terug op ou gewoontes, vergeefs. Rika dink reeds in ’n ander sleutel” (96).
Korter paragrawe bult spiere: “In stilte druk sy die foon dood. Sy kyk stadig op. Maar sy sien niks, net die drogbeelde van ’n pistool wat agter ouma en oupa Venter se kop gedruk word, en albei wat vorentoe kantel, die dood tegemoet” (116).
Die doelmatigheid van vele sinne dien dikwels ’n mokerhou toe: “Niemand het daaraan gedink om van die vensters oop te maak sodat die reuk van bloed kon wegwaai nie” (123) en “… haar binneste wat ruk en ruk, asof hulle deur die bewegings Antoinette self wil suiwer van alle bose reste” (123). Beskrywings soos hierdie dui op die mate waartoe die bergruimte van teks soveel verder strek as dié van die plasma-skerm.
Vir my verskyn een van die mooiste sinne in die boek op bladsy 199: “Jan het, toe Elna nog klein was, een oggend vroeg vir haar in die tuin geleer hoe om na voëls te luister.”
Opperman se naamgewing is sinryk en mens kan jou voorstel dat dit vir hom ’n plesierigheid was om name soos Vlooi (Roofdier), Marthinus Basson (Buffel) en Smartryk Treurnicht op te tower. Daar is ’n suggestie van die alter ego, asook van agterbaksheid wat milddadig uitgedeel word.
Die kriptiese beskrywing van die moord op Antoinette se ouers (114) is getuienis van die mate waartoe ons reeds aangepas het by die klimaat van geweld wat al vir soveel dekades hier heers: “Hulle’s albei vermoor … in hulle slaapkamer … execution style … met Pa se eie geweer.”
Humor/ironie is ’n belangrike element wat komiese afwisseling bewerkstellig, soos byvoorbeeld op bl 273 wanneer daar “kak gepraat word met die papegaai”.
Karakters
Die karakters se ontplooiing is oortuigend en daar is dikwels ’n katarsis wat plaasvind, veral in die geval van die dominee Rudi, sy vrou Rika en hul twee kinders Gerhard en Esmé. Hoewel mens op ’n stadium nogal sat raak van Rudi wat nie kan amen sê nie (“‘Liewe Vader,’ begin hy prewel, ‘ons het vandag soveel verloor…” (234)), was dit met verligting dat die leser ’n kans op herstel kon raaklees, maar eers nadat hy na al die jare Ogongo se spook aangehoor het en sodoende ’n mate van vrede vir sy siel kon vind?
Ook die versoening tussen Maria en Boetjan verloop realisties. Die karakters in die teks is van so ’n aard dat die leser met minstens een van hulle behoort te kan identifiseer, hetsy ’n vreedsame vrou soos Maria of die agterbakse Antoinette … “Die nuus (van Jan se kanker) het Antoinette in ’n luim van hoopvolheid ingeruk” (111).
Ontgogeling vind plaas in die geval van Adriaan en Antoinette, wat oplaas wreed ontnugter gelaat sal word, min wetend: “Die kind se onskuld is so opvallend dat hy hom net wil vasdruk” (18) – dat dit juis hul kind se oënskynlike onskuld is wat ’n groot tragedie tot gevolg gaan hê.
Ek het slegs ’n handvol jakkalsies in die stewige teks van 557 bladsye raakgelees, en die taalversorging is noukeurig. Taalgebruik is dikwels ryk en idiomaties: “Hier is ’n groot vleiskuif in wording” (18); “Sy het nie tyd vir pollevink nie” (30); “Wanneer gaan hy leer dat geperste knoffel jou asem skurf maak en jou ganse lyf goor geil?” (301).
Beeldspraak laat die teks lewe: “Dit het gelyk of perdebye hom agter die ore gesteek het en die gif wange toe gesak het” (57); en “Maar nou weet hy – én sy – dat dit ’n lewe was wat onder ’n wolk koers gekry het” (95).
Beskrywing van ruimte dui op noukeurige waarneming: “Hy voel die beklemming weer in sy maag aanmeld, kyk liewer na die manier hoe die klipmuur rondom die kaggel, dieselfde muur waarteen Maria se gelaat so sprankelend en amper jeugdig sag vertoon, hoe daardie klipmuur sy ma se ouderdom beklemtoon, die harde lyne om haar mond, die ou verrimpelde pruimbekkie, die manier hoe die oë wegraak in die lens van die bril wat sy dra, die manier hoe haar skouers meer tenger as ooit tevore lyk” (13).
Esmé se kamer: “Daarnaas is ’n groot ronde afdruk van ’n Aubrey Beardsley-tekening van die man in die maan” (267).
Gerhard se biologiese ma: “Sy bly in ’n woonstelblok wat in die maer jare net ná die Tweede Wêreldoorlog gebou is, hier aan die westekant van Pretoria se middestad. Baksteengebou, outydse vensters en rame. Die stoepe rooi gepoleer” (313).
Die slot van Hartland is soos om jare later weer in daai slagkamertjie te staan en jou vingers oor die mesgroewe in die staalblad te beweeg. Dan, met die uitstap, sien jy die gebleikte vlek teen die muur.
Ek sal graag ’n afspraak met kykNET maak wanneer Hartland weer gebeeldsend word.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

