Die mynwerkers is “onbeskermd” besig om hara-kiri te pleeg met hul uit-alle-verband-eise en word steeds deur Viva Vavi (VV) “ten volle ondersteun” as openbare belofte aan sy lede — dié wat nog oorbly! Ondersteun hy ook “ten volle” die Sishen-mynwerkers wat in die onlangse verlede meevallers elk van tot honderdduisende rande ontvang het en op ’n luukse motor-spree daarmee gegaan het? Hoekom ruk hy hulle nie in die bek nie?
VV laat dit egter na om hom net so vurig in die openbaar uit te spreek teen die geweld met brandstigting en moord deur die stakers self en hul meelopers gepleeg en aangehits met die duidelike doel “om die land onregeerbaar te maak” — eintlik is dit nie nodig nie. Die land is reeds byna onregeerbaar deur die ANC se uitsluitlike beheptheid met “High Noon Mangaung come December”.
VV kan gerus oplees oor Arthur Scargill (die Britse NUM-baas) en hoe dié ’n bloutjie geloop het met Margaret Thatcher (MT) met die 1984-5 staking. Maar nou weet VV hy het nie te doen met ’n MT nie maar eerder met ’n “Japie-too-scared-to-go-to-the-hilll-I’d-rather–try-my-luck-in-bed”.
Die Kamer van Mynwese sit agter ’n geslote deur, tjoepstil teenoor die publiek wat leiding van hulle kant verwag en die mynbase bly onmagtig om konsekwent op te tree ten spyte van die gegewe voordeel van ’n reeks hofbeslissings in hul guns. Hulle buig eerder agteroor om elke druk op hulle uitgeoefen, en wat grens aan afpersing, te akkommodeer — hulle stel sodoende die uiteindelike inploffing uit.
Al wat die burgers van die land se vrese sal kan besweer is ’n openbare verskyning van JZ met die voorsitter van die Kamer van Mynwese, die voorste mynbaas en VV om die pad vorentoe uit te stippel.
Om dié prentjie te voltooi — nog twee items:
Die Weg (4 Oktober) het op die voorblad ’n berig dat HZ (raai maar self) aan twee “kommissarisse” en twee “advokate” elk R51 000 per dag (ons word darem verseker dit is ‘n volle dag) betaal om tot die kern van een van die moederstad se endemiese swere van misdaad deur te dring — een ding wat darem in hierdie land floreer is die melktrein, die soustrein stoom steeds ongehinderd voort.
Elke weeksdag vanaf drie-uur die middag trakteer (gewoonlik) twee vrolike “niggies” ons klomp droewiges wat niks anders het om te doen nie met spraak, musiek, resepte. Nataniel, die kruiekoningin uit die Karoo, ’n “giggle”, skerts en so meer, met so ’n skok of twee tussenin geslinger.
So ’n skok tref my op 3 Oktober met die verkeersverslag na vier: “Veertien motors is in die knelpunte van die verkeer aan die brand gesteek” — volgens die gepaardgaande kommentaar het die insittendes blykbaar “uitgespring en te voet gevlug”. Ek het in my gemaksone my koffie in my skoot omgekeer — as ek in dié verkeer was sou ek met ’n onverwagse lading wydsbeen weggehol het!
Die selfversekerde outensiteit van die aanbiedster van die verkeersverslag skep by baie van ons die beeld van haar in ’n oorliggende woer-woer helikopter met haar valhelm en donkerbril op, reg bo die toneel — terwyl sy en of haar mede-aanbiedster inderdaad (soms) loslippige onbevestige gerugte opdis wat paniek kan saai.
Naas Viljoen

