Nóg ’n sigaret smeul lui in ’n asbak
langs die Olivetti op die lessenaar
voor die venster: Manhattan geraam.
Die bebrilde denker neem dit, bring dit
by haar lippe, trek diep in; dit gloei,
’n rooi stadsliggie in die verte.
Ken in die hand sit sy, vrae omgeef haar,
drywend, grys soos sigaretrook in die halflig:
Hoe verklaar ’n mens die laaste oplossing?
Het jy, Jodin, werklik ’n Nazi liefgehad?
Sy begin ’n brief aan Jaspers, “liebe Karl”,
maar sy skryf een laaste maal vir Martin:
“Boosheid is banaal, vergelyk Adolf Eichmann.”
Die tikmasjien kletter tot diep in die nag,
Migael, doodsengel, in die deurkosyn op wag.

