Grensoorlogstorie: My klein pop

  • 3

Ja, hoe goed onthou ek die tydperk toe ons kinders opgeroep is grens toe. Ek dink daardie tydperk was vir ons net so sleg soos die oorlogtyd destyds vir ons ouers en grootouers was. Die brief met die slegte nuus: Jou kind is opgeroep vir grensdiens.

Ek was in st 6 toe ’n maatjie eendag vir my sê sy sien my suster verwag. My verbaasde uitdrukking dat sy weet dat my sussie iets verwag en ek nie, moes haar gewaarsku het. My onskuldige vraag: “Wát verwag sy?” het haar seker vir baie jare nog geamuseer. Maar sien, ons het nié sulke dinge geweet nie.

In elk geval my oudste suster verwag toe die eerste kleinkind in ons familie. Ons was nie welaf nie en ek kan onthou dat ek min speelgoed gehad het. Onder andere darem ’n Cupi-pop en papierpoppe.

Ek onthou die dag in Januarie toe my ma vertel dat Ousus ’n seuntjie het. Ek kón nie wag om die baba te sien nie. My eie lewendige speeldingetjie.  Die dag wat sy met die baba in die arms kom kuier het, was ek verlief op die pragtige seuntjie met die ligte haartjies en laggende blou ogies. Ek en my ander twee susters het gedurig baklei om hom vas te hou en met hom te speel.  Elke Vrydag het ek so gou moontlik my huiswerk gedoen, want dan mag ek met my fiets na Ousus toe ry en met my pop speel. Toe hy bietjie groter word, kon ek soms wanneer  hulle op ’n Vrydagaand uitgaan daar oorslaap om na hom te kyk. Ek was self kind genoeg om genoeg Nestum-pap te maak sodat  ek ook sommer daarvan kan eet. Om daai wriemelende lyfie te bad, sy magie te blaas dat hy skaterlag en dan hom aan die slaap te sing. Die bang van die ou huis se houtvloere wat kraak was niks in vergelyking met die plesier om met my eie pop te speel nie.

Ek was al getroud en self ma van 2 seuns toe hy in matriek was. Die woede, hartseer en bekommernis toe my suster bel om te sê hy het ’n brief gekry. Niks meer was nodig nie. Almal het geweet wat dit beteken as ’n matriekseun “’n brief” gekry het. Die pakkies en briewe het grens toe geryg – elkeen gesoen met ’n gebed op jou lippe dat hy veilig sal wees. Die briewe terug was min want omtrent alles was ’n geheim. Die eerste briefies wat vol swart koki-strepe aangekom het en wat ons almal flenters lees.

Toe kom hy terug. My klein pop, wat ’n seun geword het, toe ’n onskuldige jong man met drome om te gaan studeer, en teruggekom het ’n stil, afgetrokke man met seer en ontnugtering in sy pragtige blou oë. Die onskuld verpletter deur die verskriklike menslike wreedheid wat hulle beleef het. Die geheime waarmee hulle moes saamleef het hulle oud voor hulle tyd gemaak.

Ja, ek onthou die tyd wat my lewendige pop grens toe gegaan het en teruggekom het. Genadiglik met ’n heel liggaam maar ’n siel gevul met bitterheid, en sielkundige skade wat nóú nog deurslaan – selfs soveel jare na die grensoorlog verby is. Sou hy nou in daardie ou huis met die houtvloere bly, sou sy skrik net so groot wees vir elke plank wat skielik kraak. Want hulle vergeet nooit daardie ervarings nie.

Tina Cloete

Stuur vir ons jou Grensoorlogstorie en wen Eye of the Firestorm deur generaal-majoor Roland de Vries, uitgegee deur Naledi-uitgewers. Klik hier vir nog besonderhede.

Koop Eye of the Firestorm nou by Kalahari.com  

  • 3

Kommentaar

  • Beste Tina,

     
    Dis maklik een van die hartroerendste verhale oor die grens wat ek nog gelees het. Ek hoop jy wen die boek. Mag jou "pop" tog in so 'n mate herstel dat hy weer lewensvreugde sal smaak.
     
    Groete
     
    Perdebytjie
  • Trienie en Perdebytjie

    Hierdie storie is waar en selfs vandag nog skrik hy meer as normaal wanneer hy 'n harde slag hoor. Sy huis is ook erg beveilig en glo dis omdat die herinneringe van daardie gevaar nog steeds iewers binne sluimer. Maar hy bly nog my "eerste" seun 🙂

    Dankie vir julle positiewe kommentaar. Ek waardeer dit.

    Groetnis

    Tina

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top