1. Die metode wat gevolg is: vrae daaraan
1.1 Inleiding
Op ’n tydstip wanneer meditasie, en die ervaringe wat daaruit voortvloei, in sommige religieuse/teologiese kringe weer eens belangrik word, en daar opnuut oor verbeelding besin word, is dit nie onvanpas om met meditatiewe tegnieke in die lees van bybelse tekste in akademiese kringe te eksperimenteer nie. Of, soos die eksplisiete oogmerk van die artikel lui, om die sielkundige impak van meditasie op lesers van Bybeltekste te probeer beskryf nie. Die vraag hier is hoe dit in ’n spesifieke geval gedoen is, en of dit die funksie kan vervul wat daarvan vereis word: die selftransformasie van die deelnemers en die moontlike wyer impak daarvan, spesifiek met betrekking tot genderkwessies, waarop die artikel aanspraak maak.
My oogmerk hier is nie om diepgaande oor die metode wat gevolg is, te besin nie. Omdat bepaalde aansprake daarvoor gemaak word, en dit as bepalend vir die resultate dien, word egter tog enkele opmerkings gemaak. Die perspektief van waaruit hier gekyk word, is dié van ’n Bybelwetenskaplike wat daaraan gewoond is om bewustelik met bybelse tekste om te gaan, en hierdie tekste sien as behorende tot bepaalde historiese en kulturele kontekste, in ’n sin dus ’n “buitestander” tot aspekte van wat in die artikel gedoen word.
1.2 Elemente van vaagheid
Dit gaan in die artikel (so is die aanspraak in die verduideliking oor die metode wat gevolg word) nie om bewustelike, verbeeldingryke interpretasie of herinterpretasie, of selfs bloot om ’n deurleefde lees in die sin van ’n poging om jou in iemand in ’n ver verwyderde tyd en kultuur se skoene te probeer plaas nie. Die aanspraak is hier op ’n spesifieke soort inwerkingstelling van die verbeelding, wat veral die onbewuste en die werkinge daarvan insluit. Daarom word Jung en Ignatius van Lojola se metodes bespreek, met laasgenoemde wat dan hier geïmplementeer word.
Ten spyte van die uiteensetting van die metodes is dit moeilik om ’n greep te kry op wat presies in die toepassing daarvan moet gebeur. Afgesien van die selferkende tekortkominge in hierdie spesifieke projek (ble 13, 14), is daar ’n sekere vaagheid in elemente van die metode self wat ’n mens laat wonder oor die konkrete uitvoerbaarheid/uitvoering daarvan. Wat behels dit byvoorbeeld om in jou verbeelding ’n ruimte binne te gaan waar jy “beelde ervaar wat spontaan opkom” en waarmee jy dan in gesprek tree, iets wat as kenmerkend van beide Jung en Ignatius van Lojola se metodes beskou word (bl 5)? Met watter spesifieke beelde het die deelnemers aan die projek in gesprek getree wat tot die insigte gelei het waarmee hulle vorendag kom? Hoewel in die verduideliking van die metode hierna verwys word, kom dit nie weer in die bespreking van die bevindinge ter sprake nie. Sonder meer spesifieke inligting hieroor is dit moeilik om die herkoms van die deelnemers se ervaringe te beoordeel.
1.3 Voorwaardes vir “sukses”
Dit spreek vanself dat ’n stuk navorsing ernstig opgeneem en beoordeel moet word vir wat dit wil wees. In hierdie geval word uitdruklik gesê dat dit om ’n vorm van Christelike meditasie gaan. Tog is dit belangrik om daarop te wys dat ’n lees volgens Ignatius van Lojola se metode in ons tyd, wat in baie opsigte van syne verskil, net onder bepaalde voorwaardes sou kon werk: die veronderstelling van ’n soort ononderbroke Christelike trajek, afgeskans van soveel wat in die “tussentyd” gebeur het, ’n spesifieke Gods- en mensbeskouing en relasie tussen die twee, ’n verbinding, in die geval van die Bybel, van menslike insigte met Goddelike sanksie, en ’n spesifieke soort deelnemer, wat bereid sal wees om, ten minste tydelik, insigte opsy te sit wat deur ander weë verkry is. Dit is dus ’n spesifieke soort “binnestander”-metode met waarskynlik min potensiële deelnemers.
1.4 Wat (van) die teks word
Die deurlees van sommige van die bevindinge laat ’n mens verder wonder oor wat (van) die teks (Rut 2) in hierdie leesproses word.
Aan die een kant word die tekskeuse, en daarmee die teks, as belangrik beskou omdat veral genderkwessies in die artikel in die fokus van belangstelling is, en die boek Rut daarvoor geskik beskou word. Verder word Rut 2 spesifiek gekies omdat taalkundige onduidelikhede die moontlikheid tot alternatiewe vertaling, weg van gedweënheid, bied – ’n teks wat ’n vrou se swaarkry uitbeeld, maar ook deels as bevrydend ten opsigte van vroue kan funksioneer.
Aan die ander kant kry ’n mens die indruk dat die teks self “dunweg” funksioneer en dat eietydse ervaringe en insigte, ook wat genderkwessies betref, deur sommige van die deelnemers losweg en op ’n baie algemene manier met die teks verbind word; dat dit dus soms bloot as aanhaakplek dien vir eie ervaringe en voorkeure, selfs frustrasies.
Dit laat ’n mens wonder hoe die resultate van die meditatiewe metode sou verskil van die lees van die teks deur “gewone” gelowiges. Het ons nie by ten minste sommige deelnemers te doen met ’n vorm van naïewe, prekritiese lees van ’n teks wat uit ’n ander era kom nie, al kom eietydse genderverwante kwessies in die prentjie? Hierdie vermoede word bevestig deur een van die deelnemers se uitspraak dat hy in die meditatiewe leesproses besef het ’n mens “het nie nodig om na al die kommentaarboeke te gaan nie; die teks self spreek jou aan” (ble 9, 10). Sonder voldoende bewustelike refleksie word tradisioneel eensydige onderdanigheid, vir baie lank deel van Christelike (en ander religieuse en kulturele) diskoerse, deur een van die deelnemers wel tot wedersydse onderdanigheid getransformeer, maar word die onderdanigheidsdiskoers as sodanig nie ondermyn nie (bl 12).
Hoe ook al presies daarby uitgekom is, is daar in die mengelmoes van deelnemer-uitsprake ’n bevrydende patroon te bespeur wat genderkwessies betref. Dat die selftransformasie wat plaasgevind het, wyer kan uitkring tot beïnvloeding van die samelewing, kan sekerlik nie betwyfel word nie. In ’n tyd waarin daar al meer na die impak van maniere van dink en optrede gevra word, behoort verskillende diskoerse, met verskillende vooronderstellings, naas mekaar bestaansreg te hê. Wat hier gedoen is, kan egter hoogstens ’n beperkte bydrae lewer tot die problematisering van gender-ongelykheid en -stereotipering. Vir ’n meer substansiële bevraagtekening en ondermyning daarvan is bewustelike diskoerse nodig wat langer, groter en hoekom-prentjies teken.
2. Bybelse tekste: patriargale kulture, gesaghebbende interpretasies en genderkritiek
Wat bybelse tekste betref, word daar in die artikel wel na patriargale interpretasies verwys; daar word egter nie op gewys dat bybelse tekste in patriargale kontekste ontstaan het en onvermydelik daardeur gestempel is nie. Omdat Rut 2 sonder inagneming van literêre of histories-kulturele konteks gelees is, is die kwessie van konteks nie eksplisiet aan die orde gestel nie.
2.1 Die gesagsvolle kontinuering van gender-ongelykheid
In pogings vanuit teologiese dissiplines om meer mense ten opsigte van genderkwessies te omvorm, moet ons in ag neem dat daar vir die grootste deel van die bestaan van “tradisionele teologiese benaderings” geen besef was dat gender-ongelykheid en -diskriminasie iets is wat geproblematiseer moet word nie – daar is vir baie lank nie eers in sulke terme gedink nie. Die bybelse geskrifte, gender-hiërargieë inkluis, is eeue lank as uniek en tydloos beskou, en met onvoorwaardelike Goddelike gesag beklee. Daar is dus bloot aanvaar dat God vroue ondergeskik aan mans wou hê. Vroeë verstaanspogings van die bybelse geskrifte in hulle historiese kontekste het hoofsaaklik binne ’n bevestigende idioom plaasgevind, nie ’n bevraagtekenende een nie. Toe die meer kritiese vorme van Bybelwetenskap op die toneel verskyn het, is aanvanklik op ander sake as vroue en hulle posisies gefokus. Eers gedurende die afgelope aantal dekades, toe vroue as gevolg van verskeie ontwikkelinge op groter skaal die teologiese dissiplines begin betree het, het feministiese Bybelwetenskap en genderkritiek, wat deur beide mans en vroue beoefen word, dissiplines uit eie reg begin word. Daarbinne is ook verskillende strominge, waarop hier nie in besonderhede ingegaan kan word nie.
2.2 ’n Gender-kritiese lees van bybelse tekste
’n Gender-kritiese lees beteken dat daar eksplisiet vanuit die perspektief van gender na tekste gekyk word. Dit behels ’n lees “met agterdog”, waarin nie bloot bevestig word wat ’n teks “sê” nie, maar waarin vanuit ons hedendaagse kontekste met tekste geargumenteer en verskil word. Dis dus nie ’n afstandelike lees nie, maar ’n betrokke lees wat op verandering gerig is.
Verder is dit ’n soort lees wat, benewens teks en konteks, ook op die impak van bybelse tekste fokus, dus ’n lees met publiek-politieke implikasies. Met hierdie soort lees kan onderdanigheidsdiskoerse, waarna hier bo verwys is, in bepaalde tye en kontekste gesitueer word en hulle geldigheid vir vandag geproblematiseer word.
Dit is natuurlik ’n vraag of teologiese studente noodwendig en voldoende aan gender-kritiese insigte blootgestel word. En of hulle hierdie insigte later aan hulle gemeentelede oordra. Wat hierdie studie betref, weet ons nie presies waaraan die deelnemers reeds in hulle teologiese studie blootgestel was nie. Binne die Bybelwetenskappe word genderkritiek dikwels nog as ’n opsionele ekstra gesien. Selfs in ons tyd sou dit in Suid-Afrika moontlik wees om teologiese studie te deurloop sonder enige blootstelling aan genderkritiek.
Om die roete van bewustelike, kritiese refleksie oor spesifiek die Bybel en genderkwessies te volg, is dus ’n komplekse proses. Dis om histories bewus te wees – bewus van kulturele verskille tussen die wêreld(e) van die Bybel en ons wêreld. Dis om die Bybel anders te sien, om te problematiseer en te herinterpreteer, om die verhouding tussen die verlede(s) en hede(s) te herbedink. Dis om teen die grein van diepgewortelde vooroordele teen vroue, waartoe bybelse tekste ’n bydrae gelewer het, en steeds lewer, in te gaan.
Ten slotte sou ’n mens kon vra of die meditatiewe en gender-kritiese lees heeltemal teenoor mekaar opgestel moet word. Sou ’n besef van die destydse histories-kulturele konteks nie dalk tot ’n meer doeltreffende “inleef” in Rut en haar situasie kon lei nie? En aangesien daar wel bybelse vroue was wat teen die grein van hulle eie tyd en kultuur opgetree het, sou Rut dalk in hierdie kategorie kon tuishoort?
Lees ander bydraes in hierdie seminaar.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

