
Op Vrydagaand 16 Augustus 2013 het die manne van Fokofpolisiekar ’n DVD bekendgestel wat in Desember verlede jaar opgeneem is. Dit was om die dekade te gedenk sedert hulle in April 2003 vir die eerste keer op die Suid-Afrikaanse musiektoneel verskyn het.
En nou’s dit al tien jaar later.
Tussen die groen wingerde van Durbanville se plase lê die Hillcrest-landgoed knus in die hoek weggesteek. Vanaand tree die stout seuns (of mans, eerder) van die Afrikaanse rock-toneel hier op. Dis ’n jammerte dat dit reeds donker is teen die tyd dat die vertoning afskop, want van hier af kan ’n mens op ’n mooi dag ’n asemrowende uitsig oor die valleie tot by Blouberg verkry.
Die saal is klein, met slegs die verhoog en ’n klein dansvloer, ’n kroeg en vyf groot ronde tafels waarby die sowat 130 bywoners gesellig saamkuier om ’n intieme atmosfeer te skep wat ’n mens van die Kaapse eendeweer daar buite laat vergeet.

Dis moeilik om te glo dat vanaand se bekendstelling van dié DVD, wat einde verlede jaar in Johannesburg opgeneem is, dié gewilde groep se tien jaar in die bedryf vier. Die opspraakwekkende bom wat Fokofpolisiekar in hul begindae laat bars het weens hul “ek-voel-vere”-houding, kleredrag, lirieke en natuurlik hul naam, is slegs ’n vae herinnering.
Die DVD, met die obskure naam Forgive them for they suck k*k, is die groep se eerste DVD wat lewend opgeneem is. Dit bevat van die groep se gewildste rock- en akoestiese liedjies. Dit volg op hul biografie, Forgive them for they do not know what they do, wat in 2009 verskyn het.

Francois van Coke, die hoofsanger, se interaksie met die gehoor is soos dié van iemand wat ou pelle ná ’n lang tyd groet. Persoonlik. Opgewonde. Charismaties.
“Ek dink aan jou (As dit reën)” skop die aand op ’n baie toepaslike noot af. Buite val die reëndruppels hard, maar niemand is meer bewus van die koue nie:
Ek sweer daar’s iemand wat in die hoek staan
As ek my oë knip is sy weg soos my kinderdae
Ek dink aan jou as dit rëen.
Die skare tik aanvanklik hul voete ritmies saam met die klanke, maar namate die bekende nommers een vir een uitbasuin word en die wyntjie se effek begin inskop, betree die gehoor die dansvloer stuk-stuk. Kort voor lank is die hele vloer vol aanhangers wat saam dans en sing op liedjies soos “Monoloog in stereo”, “Tevrede?” en “Hemel op die platteland”.
Van Coke en kie se energie is aansteeklik en die gehoor sing die woorde van ’n liedjie soos “Ek skyn(heilig)” amper harder as die man agter die mikrofoon self:
Ek skyn
Ek’s skynheilig, onder die straatlig
Onder die maanlig
Sê vir my as die revolusie verby is.
As daar gekyk word na hoe die groep op die verhoog rondspring en skree, skyn hulle nie ’n dag ouer te geword het nie.

Hul treffer “Fokofpolisiekar” sluit die aand af en die woorde:
En nou’s dit ses jaar later
En soms voel ons nog steeds dieselfde
Daar’s minder tyd
som die gevoel mooi op – die manne se energie is steeds daar en vir hul aanhangers het hulle oor die jare miskien net nóg beter geraak.
Pure Afrikaanse rock-en-roll.
Hulle knyp aan die einde tyd af om foto’s saam met hul aanhangers te laat neem, geduldig aandenkings te teken en geselsies aan te knoop.
Die einde van die aand het te vinnig aangebreek. Soos wat ’n aanhanger na die tyd tong-in-die-kies kla: “Die show was te kort; ek wens dit kon net aanhou en aanhou.”
Ja nee, ’n mens kan nooit genoeg van ’n stukkie live Fokofpolisiekar kry nie.
Hierdie bydrae vorm deel van samewerking tussen LitNet en Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek gedurende 2013.
Foto’s: Casper de Lange

