En toe verskyn die goeie fee

  • 0

Die week in woorde

Dit is 2012 (Jaar van die Draak en ook moontlik die einde van die wêreld) en na ’n lang stilte is hier uiteindelik weer ’n Snars Poëtika om die koms van ’n klomp nuwe dinge te vier: die Nuwe LitNet (welkom, Webwerf, jou tydsame geboorte was byna my einde, maar ek vergeef jou), ’n nuwe maand (welkom, Februarie, jou warm ding!), en ’n nuutgevonde geesdrif vir gedigte (welkom, Pyn, jou staatmaker-inspireerder).

Ek is op die oomblik so semi in sprokiemode. Ek dink dis dalk al die draaksprokies wat ons skrywende lesers instuur vir ons fiksiekompetisie, maar dit het ook iets te doen met die begeerte vir dinge om goed te eindig, ten spyte van alles wat in die ander rigting neig. As ek vir myself ’n rol in ’n sprokie kon kies, sou my auto-pilot-gedagte wees om te gaan vir die Slapende Skoonheid. Die Skoonheid-deel is nie so belangrik nie (alhoewel ek by so bietjie daarvan sou kon baat) - dis die Slaap wat my aantrek.

Maar 2012 gaan nie ’n auto-pilot-jaar wees nie. My stortvloed trane sal eiehandig die einde van die wêreld veroorsaak as die einde van die jaar aanbreek en ek het weer so min geskryf soos verlede jaar. Daarom eien ek eerder vir my ’n meer proaktiewe rol toe: dié van Goeie Fee. Verbeel jou ek verskyn in ’n skielike ontploffing van lig en rook en glitter. Verbeel jou alles ruik skielik soos vanilla cup-cakes en kersie-tabak. Verbeel jou jy hoor ’n liedjie wat jou gelukkig maak, en dan sê ek: "Moenie bang wees vir my leopard-print leotard en fuschia-tutu nie, want kyk, ek het ’n magic wand en ’n goeie wens wat gewaarborg is om waar te word, or your money back. Ek wens dat jy sal skryf soos nog nooit vantevore nie, bladsye en boeke en boekrakke vol, en dat jou woorde vrugbaar sal wees en vermeerder en die hele aarde volmaak." En net so vinnig as wat ek verskyn het, sal ek weer weg wees, reeds op pad om agter my eie skryfblok in te skuif terwyl ek nog onder die invloed van my eie towerspreuk is.

Die Nuwe LitNet en Nuwe Skryfwerk

Ek het nog nie kans gehad om oor al die nuwe goed te “brag” wat nou op die werf aangaan nie, so gun my ’n oomblik:

 

  • Alle Nuwe skryfwerk op LitNet het nou ’n eie tuisblad, maar die verskillende afdelings het ook hul eie blaaie. Jy kan dus nou hierdie adres onder jou favourites stoor of in jou blaaier boekmerk as jy net in gedigte belangstel, of hierdie een as jy sommer direk by die weeklikse Snars wil uitkom.
  •  RES-voere maak dit maklik om op hoogte te bly van aktiwiteit op die Nuwe Skryfwerk-afdeling. Gaan hierheen om in te teken.
  • RES-voere van ander werwe soos Versindaba op die Poësie-blad beteken dat jy sommer met een oogopslag ook kan sien of daar nuwe artikels elders is wat jou aandag trek.
  • Aktiveer jou LitNet-profiel en lewer gerus kommentaar as jy van ’n gedig hou of iets daaroor te sê het.
  • Nuus oor kompetisies, werkswinkels en ander dinge wat skrywers interesseer, word op ons Skryfsake-blad versamel. Klik hier om op hoogte te bly van al die nuus in hierdie afdeling, en stuur gerus ook kennisgewings aan as jy van iets weet wat aangaan wat nog nie onder ons aandag gebring is nie.

Met ander (se) woorde

Ottone M Riccio skryf in The Intimate Art of Writing Poetry oor dit wat mense motiveer om te skryf, en maak die volgende opmerking:

 

As dit nie vir jou die geval is nie, as jy net skryf om jou gedig êrens gepubliseer te sien, of vir die finansiële voordele (grinnik), moet jy miskien oorweeg om eerder daardie tyd te bestee aan ’n loopbaan as celebrity chef. Ten minste kan jy jou pogings eet, en op daardie manier aan die lewe bly.


Voorgeskrewe leesstof

Op my bedkassie

Ek het besluit om deur die loop van die jaar die digbundels wat reeds op my rak is, te herbesoek. Die eerste een wat ek gegryp het, is Margaret Atwood se bundel The Door. Myne is ’n lieflike swart hardeband-uitgawe met ’n CD agterin waarop Atwood van die gedigte voorlees. "Gasoline", die eerste gedig in die bundel, is een van my gunsteling-gedigte van alle tye. Wat ek nie sou gee om so ’n slot te kon skryf nie! Ek het ook die bladsye gevou om plek te hou by die gedigte "The Singer of Owls" en "The Weather."

Tussendeur maak ek notas uit The intimate art of writing poetry deur Ottone M Riccio - tot dusver ’n baie nuttige gids oor die skryf van gedigte - presies soos wat almal beweer wat die boek aanbeveel.

Ek het baie van die titel van Special Topics in Calamity Physics gehou. Dit is Marisha Pessl se debuutroman wat in 2006 verskyn het en ’n groot moddergooiery veroorsaak het oor die vet tjek wat sy vir die boek ontvang het, en of dit met haar skryfwerk of haar voorkoms te make gehad het. Noudat ek dit uiteindelik gelees het, kan ek nie heeltemal besluit hoe ek daaroor voel nie. Ek dink as jy van Jonathan Saffron Foer en Dave Eggers hou (wat wel met my die geval is) sal jy hiervan ook hou, maar daar was tog dinge wat my gesteur het. Ek het nie gevoel ek wil die naweek terug hê wat ek met die boek spandeer het nie, net spyt dat dit nie op ’n gewaarborgde langtermynverhouding met Pessl-boeke uitgeloop het nie. Probeer maar – dis een van die boeke wat jy by Exclusive Books se someruitverkoping sal raakloop.

Ek het my buurman se eksemplaar van The Soft Vengeance of a Freedom Fighter deur Albie Sachs al verlede jaar geleen en nou eers daarby uitgekom. Heerlik in die bad gelê en huil, en in die konteks van die boek is dit nogal ’n gepaste plek om katarsis te beleef. Lees maar self as jy wil verstaan waarom – dis beslis die moeite werd.

Poësie in die nuus

Wen

Ek het twee interessante boeke om weg te gee: The Letters of Allen Ginsberg (Bill Morgan, redakteur) en The Ballad of Sylvia and Ted, Emma Tennant se roman oor die verhouding tussen Sylvia Plath en Ted Hughes. Skryf ’n vertaling of omdigting van een van Ginsberg, Plath of Hughes se gedigte. Stuur die oorspronklike gedig en jou vertaling of omdigting na gedigte@litnet.co.za. Ek sal goeie pogings op LitNet plaas, en oor twee weke ’n wenner aanwys. Die sluitingsdatum vir inskrywings is 10 Februarie.

Gedigte op LitNet

Volg hierdie skakel vir ’n lys van al die nuwe gedigte wat weekliks op LitNet gepubliseer word. Daar is verse deur Gail Dendy, Johann de Lange, Joan Hambidge, Izak du Plessis, Adriaan Coetzee en Waldemar Gouws.

   

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top