Agtergrond tot hierdie brief:
Eerste brief
Tweede brief
Derde brief
Daar is nie plek vir gay-wees in ons familie nie, ek het maar allerhande verskonings uitgedink net om hul stil te kry. Sy was nou nie 'n beauty queen nie, ek het gedink oukei, gebruik haar sodat mense nie dink ek is skeef nie, want dit is `n (no-no) in ons familie, almal het gevra hoekom trou ek nie? Is daar fout?
Ek trek toe aan amper 30 se kant en nog steeds is Michelle deel van my, ek raak betrokke by die vrou (dalk is dit wat ek kort in my lewe - liefde - en miskien kan ek Michelle replace met haar) en ek raak lief vir haar, ons raak verloof en ek kom agter ek is in 'n penarie. Ek raak eintlik van my kop af want ek wens dat die troue moet nooit naderkom nie, want ek weet dis om totsiens te sê aan Michelle, hoe gaan ek kan afskeid neem van haar? Hoe gaan ek van Michelle ontslae raak? Ek kan nie weer deur daai trauma gaan nie, ek kan nie. Maar hoe gaan ek dit doen, ek stres my op, dit word 'n strespunt in my lewe, my frustrasies loop hoog. Ek sit vas met mense by die werk, ek vloek mense uit woede uit, ek het ook nie meer omgegee oor myself nie, ek het nie geworry wat en hoeveel ek eet nie, ek dink ek sal dinge vat soos dit kom. Dalk later kan ek aan iets dink. Ons geniet maar nog die tyd saam. Ons raak verloof en nou moet ek `n plan maak, ek bly uitstel en uitstel maar tog was dit wat my gelukkig gemaak het, iemand wat vir my omgee en my liefhet, miskien kan ek haar liefde gebruik in die plek van Michelle s'n dat sy Michelle kan vervang.
Twee jaar gaan verby toe kom die troue. Seker so 'n paar maande voor die troue raak ek ontslae van als. Michelle het baie boeke gehad, boeke oor grimering, modes etc. Ek verbrand dit en huil terwyl ek dit verbrand. Ek gee al haar klere weg en dit was `n hartseer oomblik die 2de keer dat ek Michelle verlaat.
Ek hoop dit was final, want dit veroorsaak moeilikheid in my gemoed, elke keer doen dit net skade aan my, dan baklei ek met myself in my kop en die stemme raak deurmekaar. 'n Maand voor die troue koop ek weer 'n mini-rok & nagrok net vir daai laaste gevoel en final groet - want, glo my, dit het my slaaplose nagte gegee as ek nie iets soos `n nagrok of iets aanhet nie, dit klink bad maar dis so. Toe doen ek die hartseer ding en ek groet vir haar, Michelle van my, beskermengel vir 20jaar was sy deel van my, sy het vir my omgegee, my beskerm, my ondersteun, my vasgehou, my getroos.
Ek was vir dae lank hartseer, asof iemand dood is. Jy gooi nie net iemand so weg nie. Dis onmenslik. Ek dink 20jaar wat het ons nie als saam gedoen nie, shopping was 1 van ons grootste tydverdrywe en avontuurervarings. Daai butterfly feeling wat ek kry as ek iets nuuts sien in die winkels, ek kry nou nog daai butterfly feeling.
Dinge gaan goed na die troue maar ook nie eintlik goed met my nie want ek het besef Michelle is verlore vir my en als oorboord gegooi en my stres weggeëet, net dikker & dikker geword, vandag sukkel ek om daai gewig af te skud.
En dit was so paar jaar toe kon ek nie meer nie, toe raak die verlange weer te erg, jul sal dink dis 'n joke of siek (dalk is ek siek). Maar as jy nie daardeur is nie, sal jy nie weet wat dit is nie, dis nie `n plesier nie, dis hel!!!! Dis freaken hell!!! Nou nog is daai hel nie verby nie, elke dag die afgelope 32jaar is dit nogsteeds ek in daai hel!! Niks wat ek doen verbeter dit nie.
My vrou het bewus geword daarvan, dit was moeilike tye. Ek het dit try verduidelik, ek weet sy kon my maklik geskei het en my kaal uitgetrek het, maar sy het nie, dis waarom ek baie respek het vir haar.
Sy het later begrip gekry en verstaan, daar was baie haakplekke en krapplekke maar die beste van als?? Michelle is weer terug!!!!! Ons het tye saam deurgebring in die 1 kamer, maar dit was genoeg vir ons. Meer as genoeg, tevrede met min.
Leon

