Emosionele oorlewing en aanpassing kom aan die bod

  • 0

Titel: Daan Dreyer se blou geranium
Skrywer:
Derick B van der Walt
Uitgewer:
Kwela Boeke
ISBN:
9780795704161

 

Klik hier om Daan Dreyer se blou geranium te koop by Kalahari.com.

Derick van der Walt is reeds bekend as jeugboekskrywer en was die wenner van die Sanlamprys vir jeuglektuur en die MER-prys vir jeugliteratuur vir Lien se lankstaanskoene, asook die Sanlamprys vir jeuglektuur (silwer) vir Willem Poprok. Daan Dreyer se blou geranium is sy eerste roman vir volwassenes en spreek die manlike belewing van egskeiding op deernisvolle en humoristiese, maar tog baie realistiese, wyse aan.

Daan Dreyer is ’n middeljarige wit Afrikaanse man met wie menige Afrikaanse leser sal kan identifiseer. Hy het in die korporatiewe wêreld leer oorleef, al vermoed hy daar word in die firma na hom as een van die has beens verwys. Hy kon die rasionalisasie, die herstrukturering, die regstellende aksie, die pakkette en al die ander sasies en asies wat vandag deel van die Suid-Afrikaanse werklikheid is, hanteer. Maar toe sy huwelik die dag ineenstort, is hy reddeloos verlore en bied hy basies geen teenstand nie.

Wat hom betref, het daar met sy huwelik niks geskort nie en hy was houtgerus in sy voorstedelike bestaan saam met sy vrou, twee kinders en bejaarde hond. Tot sy vrou met die groeiery begin het. En uiteindelik onder hom uitgegroei het. Ná die egskeiding bly hy ontredderd in sy klein, donker woonstelletjie agter met die plantjie wat hy van sy vriend Neels se vrou ontvang as enigste geselskap.

As simbool van Daan se oorlewing en aanpassing slaag die malvaplantjie baie goed. Soos ’n blou geranium nie sommer enige malva is nie, is die vermoë om by so ’n traumatiese lewensverandering aan te pas, ook iets besonders. Aanvanklik wil Daan nie regtig die plantjie hê nie en gee hy dit basies geen kans op oorlewing in sy donker woonplekkie nie. Maar gaandeweg begin hy omgee of dit oorleef. En uiteindelik kyk hy ietwat verbaas na die eerste klein, blou blommetjie, net soos hy half verbaas besef hy het begin aanvaar sy huwelik is verby en daar is wel ’n manier om met sy lewe voort te gaan.

Daan word op simpatieke, maar geloofwaardige manier uitgebeeld. Hy probeer strompelend voortgaan met sy lewe ten spyte van sy gevoel van algehele verlorenheid en ontworteling. Die karakter ondergaan merkwaardige persoonlike groei tydens die verhaal, wat ironies is, aangesien dit juis sy vrou se proses van persoonlike groei was wat hulle huwelik gekelder het. Sy groei word ook gedemonstreer deur sy aanvanklike agterdog en selfs aggressie teenoor sy vrou se terapeut, totdat hy besef sy is eintlik ’n aangename en besondere mens wat haar werk op professionele wyse benader.

Daan se onmag om werklik met sy gesin te kommunikeer, gryp die leser aan die hart, maar laat ’n mens ook wens jy kan hom ’n slaggie hard skud. Telkens is daar ’n onoorbrugbare kloof tussen wat hy sê en wat sy werklike belewing van die situasie is. Hy is nie in staat om die diep gevoelens van verlies en hartseer wat hy ervaar, te verwoord nie en val telkens terug op niksseggende opmerkings wat niks doen om sake te beredder nie.

Daan se grootste uitdaging is om te leer verstaan dis nie noodwendig hy as persoon wat te kort geskiet het in sy huwelik nie, maar dat sy vrou self moes uitvind waar sy hoort en wat sy vorentoe met haar lewe moet doen. Die newekarakters wat daagliks sy pad kruis, speel elk ’n rol om hom weer sy eiewaarde te laat besef.

Die groot verskeidenheid newekarakters word oor die algemeen baie geloofwaardig uitgebeeld. Daar is sy vriend Neels, wie se grootste vaardigheid die reël van spanbougeleenthede is, die twaalfjarige Annerie, wat hom nog kinderlik-opreg liefhet, en sy studenteseun, Tollie, wat hy nou Marius moet noem. Daar is Vanessa, die gedrewe klimmer op die beroepsleer, Hendrina, die koopopmaker in die rolstoel, en Millie, die vaal meisie wat hom leer kook. Elkeen met sy of haar eie onvolmaakthede, vrese en verlangens.

Enige leser (manlik of vroulik) wat al die pyn van ’n egskeiding ervaar of van naby aanskou het, sal waarskynlik met Daan se verhaal kan identifiseer. Hy gaan deur al die stappe wat dikwels geneem word deur mense wat ’n nuwe blaadjie wil omslaan: doen iets aan sy figuur en sy klerekas en sy hare, verduur die vroue wat goed bedoelende vriende aan hom voorstel, probeer op betreklik kinderagtige wyse sy vrou terugwen, sukkel om steeds vir sy kinders ’n goeie pa te wees. Daan se verhaal is die klein verhaal van ’n enkele individu se stryd om binne veranderde omstandighede te oorleef, maar die waarhede wat hy gaandeweg ontdek, is waarhede van universele aard.

Van die sterkste oomblikke in die boek is die toneel wat voor Hoofstuk 1 geplaas word, waarin sy ontreddering met ’n enkele sin oorgedra word (“Ek is eintlik maar net hier om te kyk hoe lyk die skeihof.”), asook dié waar Daan radeloos dronk word en ook waar hy die volgende oggend in sy vriend Neels se huis wakker word terwyl een van dié se stout kinders hom nuuskierig sit en beskou. Laasgenoemde twee tonele is oppervlakkig gesien wel skreeusnaaks, maar die onderliggende wanhoop kontrasteer juis skerp hiermee.

Ten spyte van die bedrukkende onderwerp is dit geensins ’n somber boek nie. Daarvoor sorg die wonderlike humor wat deurgaans die teks verryk. Soms kru en eg manlik (“Kry ek nog my hoer en my sigarette?”), soms meer subtiel en daarom dalk nog meer effektief. Daan kyk met ’n sterk ironiese oog na die wêreld om hom en sy waarnemingsvermoë is skerp.

Die verhaal word in bedrieglik eenvoudige taal vertel, met die ekonomiese gebruik van woorde. Daan se intense verlange na sy vrou word dikwels net in enkele woorde uitgedruk (“Karen, my lief, my lief, dink hy”) en word nooit soetsappig of oormatig sentimenteel nie. Hierin lê dikwels juis die krag van die hoofkarakter se belewing.

Die korporatiewe sowel as die voorstedelike lewe word geloofwaardig uitgebeeld. Hier leef gewone karakters op maniere wat vir elke Suid-Afrikaner bekend sal wees. Daar word heelwat gedrink, dikwels gebraai en baie dikwels rugby gekyk.

Daan se lomp en selfs kinderagtige pogings om sy vrou terug te wen, is myns insiens nie heeltemal in pas met die res van die verhaal nie. Tonele wat miskien bedoel is om snaaks te wees, onderstreep juis sy onvermoë om met sy gewese vrou te kommunikeer en sy ervaring van die gebeure oor te dra.

Die pienk bougainvillea op die andersins baie aantreklike voorblad was miskien nie die ideale keuse nie, hoewel die beeld van die man op die drumpel van waarskynlik sy eie huis tog aangrypend is.

Daan Dreyer se blou geranium is ’n ligte boek wat maklik lees, maar die leser tog agterna bybly. Want enigeen van ons kon ook maar Daan of sy vrou Karen of een van die randkarakters gewees het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top