Elmarie Westerink, bewys die Groot Trek dat die Afrikaner nie saamstaan nie?

  • 0

Dagsê Elmarie

 

Wonderlik om 'n brief te sien van iemand wat nog reg spel, en met 'spel' hier bedoel ek iemand wat weet van 'een begrip, een woord'; deesdae kry mens dit maar min, só min dat ek vermoed een van die dae sal dit maar reg wees om soos die Engelse te spel want almal doen dit. Taal is mos die enigste ding waar, as genoeg mense gedurigdeur fouteer, word dit naderhand verklaar as reg.

Eventwil, soos my ouma altyd gesê het, die puntjie van orde: Hoekom is vir so baie mense die Groot Trek 'n bewys van twis en onmin onder die Afrikaner, en dat hulle nie kan saamstaan nie? Teen 1899, toe die oorlog teen Engeland uitgebreek het, was die begin van die Groot Trek meer onlangs in die geskiedenis as wat die Tweede Wêreldoorlog vandag is. En tog, in daardie kort tydjie, het die Boere twee demokratiese republieke gehad wat so gevestig was dat hulle die magtige Britse Ryk vir 3 jaar besig gehou het.

As die Engelse hulle nie tot terreur gewend het nie het die oorlog waarskynlik nog langer aangehou. Om die waarheid te sê, die Boere kon dalk 'n baie voordeliger vredeskikking beding het want teen die einde het die oorlog die Engelse ? 1000 000 per dag gekos en hulle was nie meer lus vir die storie nie. Hierdie soort van teenstand teen die magtigste ryk op aarde daardie tyd word nie gebied deur mense wat nie saamstaan nie.

So ook wat betref die taal. Daar is vandag nog mense wat smalend na Afrikaans verwys as 'n kreool en of dit nou so is of nie is 'n ander debat. Dit bly egter 'n feit dat die taal vandag grammatikaboeke en spelreëls en 'n letterkunde het wat groter en grootser is as vele ander baie ouer tale. So iets word nie bereik deur mense wat nie kan saamstaan nie.

Nee wat, hierdie kamtige onvermoë om saam te staan is maar net weer Boerebashing en dit word so baie gebruik dat ons dit al begin glo. Dis onsin. 'n Ander gunstelingstok om ons Boere mee te slaan is 'vrye denke'; ons sou nou kwansuis tradisioneel geleer word om nie vir onsself te dink nie. Dis 'n teenstrydigheid, hoe sal ouens wat nie vir hulself kan dink nie dwarstrekkerig kan wees?

Dit is dus alles onsin; die Afrikaner staan net so veel of so min bymekaar as enige ander nasie.

Groetnis

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top