Ek droom in afrikaanse liefdesbriewe

  • 0

Ek droom in afrikaanse liefdesbriewe

Ek droom in afrikaanse liefdesbriewe. Die ou soort. Waarin jy jou hele hart uitbloei. Waarin jy waag en ween en woorde laat wals op die ritme van jou hartklop. Vir hom. Vir haar. Vir afrikaans. Vir liefde. Die intensiteit borrel uit soos die potlood sy eie pad oor die papier pyn. Seerkry-mooi, sê Koos Kombuis.

Ek droom in afrikaanse liefdesbriewe. Sonder prentensie of praat. Sonder vandag se haat. Sonder blinde beloftes en leë laastes van ’n desperate hart wat net nog ’n eerste-laaste keer wil klop vir plesier sonder pyn. Die potlood verdwaal en verdrink tussen al die diep gedelfde verklarings van ewige liefde wat nooit sal verdwyn. Die eerlikheid van ’n hart wat nie kan jok nie spoel oor papier. Hedendaagse maskers en pretensie en plastiek slegs ’n halwe herinnering. Wêrelds.  Dit ruk daaglikse bestaan tot stilte. Sluk alles in. Maak weer heel. Heilig. Soos bid. In die stiltes tussen kommas en punte en letters van liefde en verlore tyd word kosbare klinkers weer gevind. Van voor af. Asof nuut. Soos eerste liefde. Laerskoolliefde.

Die eerste brief sal begin by die begin en eindig waar my hartklop stop. Die eerste brief sal my hart skaamteloos in potlood op papier openbaar.  Die eerste brief sal al die hartstralies en slotte wat beskerm laat verbrokkel en jou laat sien. Die eerste brief sal my siel oopgeskeur, geskend, geskaaf vir jou wys en jou laat voel. Die eerste brief sal bloei oor jou hele bestaan, dit inkleur en verkleur, dit insluk en uitspoeg, dit onvertelde stories laat lees, oor al die seer en soek en verlief en vind en vrees, dit omkeer tot inkeer keer op keer... Ek houvas steeds die potlood en pyn steeds oor die papier. Tot jy sien. Tot jy voel.

Ek droom in afrikaanse liefdesbriewe. Ek droom om te skryf soos Marita van der Vyver, diep en sonder skaam. Reguit, snaaks. Of soos oom Eugene, mooi. Bitter mooi. Of miskien soos Ingrid Jonker, rou. Oop wonde. Bloeiend. Pynlik eerlik. Aanstootlik. Rou. Of sommer net vir jou. Vir hom. Vir haar. Vir afrikaans. Vir liefde.

 

Klik hier vir nog besonderhede oor die kompetisie

Lees die ander inskrywings

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top