Dagsê Dup,
Ek wonder self ook daaroor, Dup. Die voortuitsigte lyk egter nie rooskleurig nie. Die geskiedenis het geleer dat die “verlossers” mettertyd self die “onderdrukkers” en tiranne word.
Die bekende skrywer George Orwell het juis in sy boek getiteld “Animal Farm” satiriese kommentaar gelewer op die stelsels van kommunisme en sosialisme, wat so gou in dieselfde groef verval het as waarteen hulle stryd gevoer het.
Vandag se NSA het presies dieselfde pad geloop as wat die kommunisme in Rusland geloop het, vanaf “bevryding” tot onderdrukking. Verbasend hoeveel die NSA ooreenstem met die verloop van die verhaal in Orwell se “Animal Farm”.
Wat eendag na die ANC sal volg? Ek dink dit sal nie veel anders wees nie onder ’n ander swart party nie. Dit gaan dieselfde soort mense van dieselfde soort oortuiging en wêreldbeskouing wees wat gaan oorneem en dieselfde pad gaan loop as die ANC. Dis ook dieselfde pad wat die res van Afrika geloop het.
Vat nou maar die DA: hoewel hulle groot geraas maak oor die ANC se foute en flaters, is die DA se uitgangspunte presies dieselfde as die ANC. Die DA is eintlik maar net die wit gesig van die ANC, dws die ANC sonder epidermale pigment.
Voorbeelde daarvan is: aborsie op aanvraag; geen doodstraf; godsdiensgelykheid; geslagsgelykheid; “affirmative action” (rasongelykheid); BEE; wegdoen met Afrikaanse skole; weersin in volkere identiteit (“simunye – we are one”); weersin in Afrikaner-outonomie in ’n eie volkstaat; weersin in minderheidsregte; aanbidding van die Mandela-ikoon; sag op misdaad; hard op vroueregte; rassekwotas; verandering van straatname en dorpsname.
Daar is ontstellend min verskil tussen die ANC en die DA in die praktyk. Hulle is eintlik maar die twee kante van dieselfde muntstuk.
Die huidige smeltkroes van verskillende volke, rasse, etnisiteite en kulture is nie volhoubaar nie. Ek dink die enigste volhoubare oplossing vir Suider-Afrika is ’n konglomeraat van outonome volkstate. Die huidige bevoordeling van sekere kulture, die onderdrukking van kulture en die botsing van kulture sal daardeur uitgeskakel word.
Solank die Afrika-mens van oortuiging is “dat die meerderheid meer regte het as minderhede” sal onderdrukking en korrupsie voortduur. Ek meen die enigste wat volhoubaar is in die NSA is korrupsie en anti-wit rassisme. Daarom dink ek nie dat dinge in die NSA gaan verander onder die regering van ’n ander party nie.
Groete,
Judge Dredd


Kommentaar
Beste Judge
Jy noem tereg dat daar min verskil tussen die ANC en die DA is. Dit is myns insiens ’n graad- en nie ’n aardverskil nie. Daar is diegene wat NSA-entoesiaste is en die DA steun en wat dan beweer dat hulle nie kamerade is nie. Maar Helen Zille het ’n Black Sash- en Patricia de Lille ’n PAC-verlede. Die Progge het as DA-voorlopers by Kodesa gepleit vir ’n enkele amptelike taal, naamlik Engels. Dit is dus vir my moeilik om te verstaan dat iemand hoog kan opgee as Afrikaner maar sy politieke heil by die DA soek. Die DA aanvaar sonder meer die grondwet waarvolgens daar geen minderheidsregte is nie en daar maar na hartelus op ’n rassegrondslag onbepaald teen wittes gediskrimineer mag word en nie-wittes net so onbepaald bevoordeel mag word. Die grondslag van een mens, een stem bring mee dat die DA net so lustig soos die ANC na die pype van die swart meerderheid dans. Byvoorbeeld, Annette Lovemore het die ANC-regering al erg gekritiseer omdat hy inkommers glo nie goed genoeg behandel nie. ’n Propagandaslagoffer, die rubriekskryfster Ilse Bigalke, span die kroon deur na ons "manjifieke Grondwet" te verwys (Die Burger, 11 deser, p 14).
Johannes Comestor