duiftyd-lakune

  • 0

die duif van bo by die nesplek roep uit die bors
drie ondersteunende klankgrepe
dan ’n dringende sekonde niks
ensovoorts herhaal
die middaglig word ongemaklik
iets in die roeptoon stem ooreen met ’n koei
se kommer oor haar geskeide kalf

ek kyk op, luister, wonder en stap aan

op sy rugnaat vyftig treë verder
waar hy agteruit net hier aangekom het
lê die ander een
formeel styf op die grond –
jy kan hom deur ’n ring trek –
al twee oë se dun bleekvaal ooglede is toegemaak
en al vier tone van elke voet opmekaargetrek
asof hy nou onvoorwaardelik sy sit gekry het
(op sy tipiese slap takkie van die dood)

terwyl vier, vyf vetblink brommers
saam snuffel-snuffel oor die skoon asemlose bors
soos vername amptenare, of bankbase, wat banale
afstandbeheerde gedagtes wissel oor identiteit

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top