Draak-sprokie-kompetisie: ’n Sprokie – Dino word groot

  • 0

Ver hiervandaan, in ’n rotsskeur in die berge, woon drie groen drake: ’n pa-draak, ’n ma-draak en hulle seun, Dino. Sy ouers is lief vir hom en sorg dat hy allerhande dinge leer sodat hy eendag slim en dapper kan wees. Toe hy groot is en  alles kan doen wat ’n bergdraak behoort te doen, roep sy pa hom en sê:

 “Seun, jy is nou groot genoeg om die berge alleen aan te durf. Gaan soek vir jou ’n  vrou en bou ’n nes. Onthou, jy het drie draakwapens om jou te help om te oorleef: Jy kan van kleur verander om jou vyand te flous, jy kan jou vlerke gebruik om vinniger te wees, en jy kan vuur spoeg om die vyand te oorrompel. Maar jy mag slegs vuur spoeg wanneer jy in lewensgevaar is.”

Eers wil die groen drakie huil omdat hy moet wegggaan, maar dan onthou hy dat hy nou groot is. Hy groet en loop dapper die berge in. Nooit gaan slaap hy honger of dors nie. Hy bly uit die moeilikheid. Elke dag het hy wonderlike avonture. Maar een ding kan hy nie verstaan nie – nêrens sien hy ’n ander draak nie !

Eendag klouter hy oor ’n krans. ’n Groot gedierte met ’n logge lyf en ’n lang nek sukkel orent en snork verwoed.

“Wie’s jy? Waar’s jou trop?”

“Ek is Dino, die groen draak. Kan jy my sê waar die ander drake is?” vra hy hoopvol.

Maar die reusagtige dinosourus  kom nóg  nader en hap-hap na Dino se pote. Hy wil hom sowaar aanval! Dino skrik groot. Hy spring terug op die krans. Skielik verkleur sy groen vel na die bruin kleur van die rots. ’n Draakwapen in aksie!

“ Huh!” brom die dierasie verbaas.

Teen die tyd dat die lente aanbreek, hoor Dino ’n ware draak-geroep van die bergpieke af. Hy antwoord uit volle bors. Dae lank volg hy die eggo.  Maar hy was nie bedag op die ys hoog in die berge nie. Hoe meer hy boontoe klim, hoe meer gly  hy ondertoe. Meteens onthou hy van sy vlerke.  Hy sprei sy vlerke oop en vlieg tot bo-op die piek. Voor hom staan ’n beeldskone draak.

“Ek is Dino. Ek soek al so lank na ander drake,” sê hy.

“Ek is Diana. Ek is só bly om jou te sien,” antwoord sy.

Maar sy oomblik van geluk is gou verby. ’n Reusevoël met skubagtige pote  en ’n krom snawel pyl op hulle af. Hy onthou sy pa se raad: “Spoeg vuur wanneer jy in lewensgevaar is.” Dino spoeg met al sy mag vlamme na die voël.  Die wind waai die vlamme en rook  heen en weer  sodat die voël niks kan sien nie. Hy tol teen die berg af. Toe word dit stil en Dino vra: “Sal jy saam met my ’n nes bou?” “Hoe kan ek nee sê vir so ’n dapper draak, en jy het  my lewe gered,” antwoord die mooie Diana. Saam-saam stap hulle die berge in. Jare later was daar ’n groot familie drake in die gebergtes. Die manne-drake was in die hele gebied bekend vir hulle dapperheid en die  vroue-drake is oral geprys vir hulle skoonheid.

 

 

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top