Die maan gloei rooi in die swart hemel. “Waarom bloei die maan, Okar?” Aidan strek sy arms uit asof hy die maan wil aanraak.
Okar leun swaar op sy staf. Die jare het diep lyne in sy gesig gekerf. Die las van dít wat hy moet doen, lê swaar op sy hart. “Die laaste draak het ontwaak. Die Skrifte sê ons sal dit weet wanneer die maan dag en nag soos ‘n rooi vuur brand.”
“Wat beteken dit?” vra Aidan verwonderd. Die maanlig verf rooi strepe oor sy gesig.
“Die Donker Magte het te sterk geword. Hulle het die draak wakker gemaak. Hulle gaan hom stuur om wraak te neem.” Okar sug. Hy rus sy hand op Aidan se skouer.
“Jy, Aidan, is ons enigste hoop.”
Aidan se donker oë kyk vraend na Okar.
“Elf jaar terug, in die twaalfde maansiklus, is jy gebore. Jy het die merk gehad. Die Skrifte het dit voorspel. Die een met die merk sal ons red.”
Aidan raak aan die merk oor sy hart. Hy voel skielik baie bang. “Maar Okar, ek is nie sterk nie – hoe moet ek ’n draak doodmaak? En hoe moet ek weet waar om hom te kry?”
Okar haal ’n dolk tussen die voue van sy mantel uit. Edelstene versier die hef en die lem blink rooi in die gloed van die maan. Hy hou dit uit na Aidan. “Jou hart sal jou lei en as die tyd kom, sal jy weet hoe om die dolk te gebruik.”
Aidan huiwer voor die tonnel se ingang. Sy reis het hom oor sneeubedekte berge, deur donker valleie, oor groot riviere en deur digte onheilswoude gelei. Die rotswande is koud en klam. Hy voel-voel sy weg na binne. Dieper in skyn ‘n dowwe rooi lig. Dit word al helderder. Die draak wag vir hom toe hy die groot grot betree. Sy groen oë volg Aidan. Sy lyf vul die helfte van die grotruimte. Die Donker Magte sweef bokant die draak. Aidan se oë verstar op die koperbak op ’n klipstapel voor die draak. Die simbool daarop is dieselfde as die merk oor sy hart.
“Jy hoef dit nie te doen nie.” Die draak se stem is grof, sy asem warm. “ As jou hart nie suiwer is nie, sal dit nie my vuur weerstaan nie; dan is jou offer sinneloos.” Sy kop sak tot voor Aidan. “Sluit by ons aan – ons sal jou met goud en edelstene oorlaai.” Die Donker Magte sweef nader.
Toe eers verstaan Aidan. Hy trek die dolk uit sy gordel, hou dit met albei hande vas. Die lem blink toe hy dit in sy bors druk. Met sy laaste krag plaas hy sy kloppende hart in die koperbak.
Die draak lig sy kop hoog. Vuur en swael vul die grot, verteer alles en almal. In die donkerte skyn ’n enkele helder lig – ‘n suiwer hartvormige diamant.
Die maan se gloed versag. Trane loop oor Okar se wange toe die nuwe ster in die hemel verskyn.
>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

