Didi Drakie probeer ’n vuurvlam blaas. “Ag, nee ou Didi, dit is net ’n paar vonkies,” terg sy groot broer hom en hy blaas ’n regte vlam. “Gaan oefen nog.” Didi raak so kwaad dat hy op en af vlieg. “Pa kan tog ’n groter vlam as jy blaas. Hy is die kampioenvuurblaser. Maar ek is groter as jy en kan al ’n regte vlam blaas,” spog sy broer.
Didi se hart is baie seer. Wanneer sal hy dan ’n groter, warmer vlam as sy broer kan blaas? Wanneer hy ’n jaar ouer is, is die ou spogter ook ’n jaar groter. Ek gaan wegvlieg na ’n plek waar ek die grootste en sterkste drakie sal wees, troos hy homself.
Hy toets sy vlerkies. Hy vlieg oor ’n rivier en toe oor ’n hoë berg, wat eintlik ’n heuweltjie is. Die hele ent blaas hy vonkies.
Skoenlapper kom aangevlieg “Waarheen vlieg jy, Didi?” wil sy weet. “Het jy vir Pappa en Mamma gesê waarheen jy gaan?” Didi blaas net sy kieste op en spoeg ’n paar klein vonkies uit.
’n Groot voël kom verby. Dit het wye vlerke en ’n skerp, krom snawel. “Waarheen is jy op pad, Didi?” “Ek gaan weg. Ek wil nie meer die kleinste en jongste drakie wees nie,” en ’n paar rokies borrel saam met sy stem uit. “Klein drakies moet by die huis bly. Hier is voëls wat hou van sagte drakievleis.” Didi skrik so groot, hy val amper op die grond. Sy hartjie klop doem-doem en van bangheid bewe hy ’n groter vlam uit. “Haai, kyk my vlam, kyk my vlam!” skree hy. Van opgewondenheid val hy kaplaks op die grond.
Terwyl hy lê, vlieg ’n string rysmiere bo-oor hom. “Ons gaan jou wegdra as jy nie huis toe gaan nie,” dreig hulle. Arme Didi – almal raas met hom. Hy mag nie verder as die rivier gevlieg het nie. Hartseer snik hy: “Watter kant is die huis?”
Meteens hoor hy ’n harde dreuning. Verskrik knyp hy sy oë toe, maar loer darem. Dit is ’n groot, vet draak en hy blaas so hard dat daar ’n wit asstreep agter hom lê. Sal Pappa ook so groot raak en Broer ook? Dan sal hy langer moet oefen om ook so hard te raas en te blaas. Nou is Didi eers hartseer. Hy vou sy vlerkies oor sy oë en huil en huil tot hy nie meer kan nie. Hy raak aan die slaap. Hy droom die gevaarlike draak wil hom vang en toe skud sy pa hom wakker. ”Ek sal nie weer wegvlieg nie!” skree hy.
“Pappa, die groot, vet draak wat ’n stroom wit as blaas en skreeu, wou my vang,“ kla Didi. “Nee, Didi, dit was ’n vliegtuig. Die mense noem dit ’n spuitvliegtuig – dit kan nie ’n drakie vang nie.” Didi was verlig om dit te hoor; hy vlieg dadelik soet agter Pappa, Mamma en Broer huis toe.
Broer Drakie was ook bly en help Didi oefen om ’n rooiwarm vlam met rook te blaas.
>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

