
“Do”- a (dear), a female (dear)
iets krap in die keel vanaand
dit is hard en dit is rou
dis die laaste geknoude solfa
van die eksentrieke vrou –
dis die wellus en die waagmoed
waarmee haar woorde weë oopbeur
dit mars nie meer in rye nie
dit hardloop
en dit skree
dit gly saggies oor legato-boë
tot in die lug daarbo
dan val dit terug aarde toe
soos ’n Hiroshima-
bom
om frases af te rond
is minder van belang
do re me
is lank vergeet
(sy sê dit gaan oor akoestiek en klank)
’n heidin se solfa wat wegskram
van die middel
om al verder
fa so la
te vertrek na falsetto’s
hoe vreemd astrant
om te dink woorde
kan
spring
of soms doodalleen in strofes
sing
die frase herhaal-
tot díe slag ’n koor intree:
die aantik van die tweeslagmaat
wat die melodie so transponeer
dat die gehoor asem ophou
(stilweg wag vir die geluide om te verteer)
toonsoorte wat naamloos heet
is so verkieslik
soos die ritmiese sinkopasie wat ons iets leer van dit wat ons nie weet
elke sekonde
’n wegtrek
met ’n nuwe danspassasie
die orkes
artikuleer
elke lettergreep
(skynbaar vir emosie)
kyk! voete wat nie weet
waar om te dans
en waar om
te los nie
soos haar stem
tussen die vlietende note
in elke nuwe spasie
sy fluister
in die bleek holtes van
’n klomp getrekte stafies
haar platforms
trap elkers die pedale
op elke onmoontlike maatslag
te la
so do
– ’n maatstaf:
waar om woorde te ontleen
weg te neem
verdraai
verleen
daardeur
snel
teen ’n tempo
waarvan
toonlere nog moet leer
dit vleg sekwense halsoorkop
dit hyg ekstaties vir applous
eers dawerend op die klawers
- ’n klimaks:
die melodie is hard
en dit is rou
dit krap-krap-krap
haar keel vanaand
en skop teen als wat wou
dan
effens uitasem:
die eggo van note wat les opsê
– ’n antiklimaks in die asem
van die laaste kadens
moeg het sy gehoor
hoe iemand
erken
(sy is mooier soos
ons haar nou ken)

