Dink in Afrikaans of Engels

  • 2

Ek hoor, twee Sondae gelede, 'n stukkie van 'n onderhoud wat Magdaleen in haar program Die Tale wat ons Praat met 'n professorin in Afrikaans gevoer het. Die bespreking het gehandel oor die feit dat Afrikaans al hoe meer Engels word en as rede was aangevoer dat Afrikaanssprekendes al hoe meer in Engels dink. Die professorin het afgesluit af met die stelling dat daar niks aan te doen is nie.

Dit is nie waar dat mens in 'n taal dink nie; mens dink in elektrisiteit kan jy maar sê, sinapse wat elektriese impulse stuur om uiteindelik begrippe en konsepte te vorm wat, seker soos in 'n rekenaar, bestaan uit 'n konfigurasie van 'aan'- en 'af'skakels. Taal is dan een van die goed wat nodig is om 'n begrip oor te dra van die een ou se brein na 'n ander s'n. Taal is soos 'n gereedskapstuk wat vir hierdie doel gebruik word en die ou wat, sê Afrikaans, grootgeword het, is bedrewe met die gebruik van Afrikaans as gereedskapstuk, net soos die Duitser of die Fransman bedrewe met Duits of Frans as gereedskapstuk is.

Wat egter deesdae gebeur, met die afskaal van Afrikaans in die werkplek, in die openbare lewe, oral, is Afrikaanssprekendes genoop om Engels as gereedskapstuk te gebruik. Hy verloor al hoe meer sy bedrewenheid met Afrikaans en raak al hoe meer bedrewe met Engels as gereedskapstuk en die gevolg is natuurlik dat Afrikaans agteruitgaan en uiteindelik verdwyn want al hoe meer mense praat dit al hoe swakker totdat dit naderhand glad nie meer gepraat word nie. Alreeds is mense wie se werk die praat van Afrikaans behels, soos omroepers, glad nie meer bedrewe nie.

Dit is miskien waar die idee vandaan kom dat mens 'in Engels dink'; die persoon wat praat wil 'n idee/begrip oordra aan 'n ander en die eerste woord wat hy kry om as voertuig vir hierdie idee te dien is die Engelse een, soos byvoorbeeld 'privilege' in plaas van 'voorreg' soos ek nou die dag 'n kok se vrou oor KykNet hoor sê het.

Hierdie kwaal waaraan Afrikaans nou ly word veroorsaak deur die verswelgende alomteenwoordigheid van Engels – op televisie, die radio, die openbare lewe en selfs deesdae lyk dit my die Afrikaanse kerke. Dat daar niks aan hierdie agteruitgang van Afrikaans gedoen kan word nie is wel waar wat betref die owerhede, die Taalraad, die FAK, die DA, die VF, Solidariteit, die kerk ens ens.

Die agteruitgang kan slegs gestuit word deur mense soos ek en jy, die gewone alledaagse spreker van Afrikaans. Jy doen dit deur bloot Afrikaans te praat. Mens moet nou nie gaan staan en ongeskik wees en aandring op Afrikaans en mense 'n weersin in Afrikaans gee nie; ek bedoel jy praat eerste Afrikaans en vra altyd, waar van toepassing, die Afrikaanse brosjures en biljette. As die mense nou nie Afrikaans KAN praat of Afrikaanse biljette het nie dan loop jy maar weg (tensy, natuurlik, jy die verleë party is dan praat jy maar Engels en vat die Engelse biljet). Terloops, as jy vir die Afrikaanse biljet vra en die uitdeler vra, soos gewoonlik, nors of hy vir jou die Zoeloe ene kan gee dan sê jy ja.

Indien jy korrespondensie van jou bank, jou makelaar, poskantoor, stadsraad, prokureur, die parkeraad, bedelorganisasies, politieke party ens kry antwoord jy in Afrikaans en lig hulle vriendelik dat jou, die klant se, saketaal Afrikaans is en jy sal verkies dat hulle in Afrikaans aan jou skryf aangesien hulle jou geld wil hê. As hulle nou nie wil nie is daar nie veel wat jy daaraan kan doen nie behalwe om maar aan te hou om in Afrikaans met hulle te kommunikeer.

As telebemarkers jou bel, praat Afrikaans met hulle (met hulle kan jy daarop aandring want hulle wil iets aan jóú verkoop). As die bemarker verwag jy moet hóm akkommodeer terwyl hy jóú geld wil hê sê vir hom hy mors jou tyd en groet.

As jy spelfoute op KykNet sien (soos "Die Boland Moorde"), skryf vir hulle en vra om dit reg te maak en dieselfde wat betref tydskrifte en koerante. As hulle verkeerd praat oor die radio, selfs (miskien veral) advertensies, maak hulle attent daarop. Net vandag byvoorbeeld hoor ek Martelize praat van 'jewoustigting' in plaas van 'Eurostigting' en Martin Slabbert praat van 'Centuwion' in plaas van 'Centurion'.

Die radio en TV moet ook hulle omhelsing van Engels staak. Die gebruik van ten minste 10% Engels in die programme en onderhoude moet uit die omroepers se werkskontrakte uitgehaal word. Indien daar nie so-iets is nie, is die omroepers op eie houtjie besig met hierdie wanpraktyk en die baas moet hulle voor stok kry. RSG en KykNet doen hulle bes om die Engels in die Afrikaanssprekendes se kele af te druk.

Daar is duisende goed wat ons kan doen. Die belangrike ding is om iéts te doen en dit sluit nie in om dikbek te vra wat ander ouens doen nie. Ons moet ons kollektiewe vinger uit ons kollektiewe hol trek en begin doen wat die Engelse nog al die jare doen naamlik ons eie taal praat, handhaaf en bevorder. Ons moet ons gedienstigheid staak; niks is nog ooit vermag deur te gaan lê nie.

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Beste Jan,

    Ek sien jy begin nou te kop wat aangaan. Afrikaans moet aanpas of verdwyn.
    Groete
    Angus
  • Beste Jan Rap

     

    In die lig van twee aanhalings ("Die agteruitgang kan slegs gestuit word deur mense soos ek en jy, die gewone alledaagse spreker van Afrikaans."  en  "Daar is duisende goed wat ons kan doen. Die belangrike ding is om iéts te doen.") uit jou brief doen ek graag my dingetjie.

     

    Jy kla oor Engels se invoed op Afrikaans, maar dan skryf jy in die tweede sin van die eerste paragraaf "Die bespreking het gehandel oor die feit dat Afrikaans al hoe meer Engels word en as rede was aangevoer dat Afrikaanssprekendes al hoe meer in Engels dink". Jy gebruik was as die verledetydsvorm in die lydende vorm terwyl dit eintlik is moet wees. In die lydende vorm word "word", "is" en "sal ... word" as hulpwerkwoorde van vorm gebruik. Was is die verledetydsvorm van die koppelwerkwoord is, byvoorbeeld "Die seun is vandag siek" teenoor "Die seun was gister siek".

     

    Ek hoop dié een ding wat ek nou gedoen het, sal jou in die toekoms help!

     

    Groete.

     

    Elriena Delport

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top