Wat dié klip weet
’n Gedig op ’n klip
is ’n lyk vol tatoeëer-ink.
Ek kan my kwalik ’n meer volmaakte
antivers as ’n klip voorstel;
geen beter sintese
tussen toevallige vorm en toevallige inhoud;
geen meer absolute
hoon vir die ydelheid van alles met asem nie.
Die klippe roep dit nog altyd uit:
“Watter deel van ‘nee’ verstaan jy nie, mens?”
En tog kan dié klip vers word,
maar dié vers nooit waarlik klip nie.
Ja, ’n vers kan selfs van klip
’n dooie mens maak,
dalk selfs ’n meer bruikbare, klipperiger klip
uit die swaksinnige engel van kuns en kultuur bliksem.
Maar ’n vers kan die mens nooit
waaragtig klip maak nie.
Die mens skree en versug sy vers,
sing en kry stuipe en huiwer dan, weifel altyd weer,
maar klip weet, kyk,
dié klip weet alles,
seker.

