Die tirannie van demografie

  • 2

Na die algemene opmerkings in my vorige skrywe (SêNet, 14 deser) kom ek nou by die kern van die sake wat deur Willie Esterhuyse in sy boek, Eindstryd: Geheime Gesprekke en die Einde van Apartheid (Kaapstad: Tafelberg, 2012), aangeroer word. Hy haal die volgende aan uit die versdrama Vergelegen van DJ Opperman: "Maak die honde los / Daars goeters in die bos" (p 285). Esterhuyse verwys na Opperman se werk omdat die ANC sy eerste koukusvergadering (nadat hierdie organisasie deur FW de Klerk op Suid-Afrika losgelaat is) op die landgoed Vergelegen by Somerset-Wes gehou het, danksy die "welwillendheid" van Anglo American. ’n Mens kan seker sê dat goeters nie net uit die bos gekom het nie, maar dat die spreekwoordelike bos Suid-Afrika sedertdien al hoe meer ingeneem het.

Dit herinner aan NP van Wyk Louw se profetiese gedig Raka (SêNet, 26.07.2011). "Alles [het] voor Raka se voet gebreek gelê." Daar was egter diegene wat geredeneer het: "Raka is vreedsaam." "Raka is nie sleg." Koki het egter beter insig gehad en die "sterflied van sy stam" gesing. Hy het hom teen die geweldadige Raka verset, maar is vermorsel. "Die swakste moes buig." "Wie sal belet dat hy [Raka] inkom en heers?" "Niemand het gewaag om ... die smal hek ooit weer [na 2 Februarie 1990?] teen hom te sluit."

Ek skenk eers aandag aan die verwagtinge oor ’n politieke skikking en daarna aan die gevolge daarvan. Esterhuyse skryf "dat ’n nuwe politieke daeraad besig was om deur die duisternis van apartheid te breek" (p 207-208). Hy beskou dit as: "’n Dramatiese paradigmaskuif, weg van rasgebaseerde politieke voordele en verskansings, na nie-rassigheid" (p 296). Daar is ook hierdie mondvol hoop: "Volhoubare vrede, geregtigheid, regverdigheid en stabiliteit" (p 302). Andrew Young het beweer dat "die ANC eendag kan bewys dat swart mense ’n gesofistikeerde land kan regeer" (p 271). [Het die ANC-regering dit bewys?] ’n Britse regeringsamptenaar, Patrick Fairweather, het gesê: "The best way to address white fears in South Africa is to make an economic success of Zimbabwe" (p 120).

Reeds in die tweede paragraaf van die boek is daar die frase "reg en geregtigheid" en sprake van ’n "Suid-Afrika waarvoor ons nie skaam hoef te wees nie" (p 15). Die idee was om ’n "roete na vrede te karteer" (p 25), dus "om Suid-Afrika van ’n bloedige en verwoestende burgeroorlog te red" (p 32). Die doel was ’n "ware nie-rassige demokrasie" (p 48). Nelson Mandela was ingestel op ’n "nie-rassige meerderheidsregering in ’n eenheidstaat, of niks nie" (p 208). Later het die ideaal van nie-seksisme bygekom. "Nasiebou" was ook nodig (bv p 119).

Daar was aanvanklik bewustheid van "waarborge en regte van minderhede" (p 102, ook p 130): "Strukturele of konstitusionele waarborge om te verhoed dat meerderheidsregering tot die dominansie van lede van minderheidsgroepe lei" (p 175). Mandela "wou meehelp om álle onderdruktes in Suid-Afrika te bevry" (p 69). [Volgens sy outobiografie het Mandela tydens die Rivonia-verhoor beweer: "I have fought against white domination, and I have fought against black domination" (p 438). Die eerste deel is die waarheid, maar die tweede deel is ’n leuen. Hy was en is ongetwyfeld (kyk vorige paragraaf) ten gunste van swart meerderheidsregering. Sedert 1994 het ons swart oorheersing.] Dan was daar hierdie mooi-klinkende gedagte: "Ons vertrou mekaar met die toekoms" (p 195).

Diegene wat hulle buite die "Afrikanernasionalistiese kraal" vir politieke verandering beywer het, word deur Esterhuyse liberales genoem. Daarenteen word progressiewe Afrikaners of verligtes getipeer as diegene wat stuksgewys hervorming van binne af wou bewerkstellig (p 20). Esterhuyse blyk nóg so ’n liberalis, nóg so ’n verligte te wees. Hy het van die "metafoor" van "stuksgewyse hervorming" afskeid geneem met die oog op die "begrafnis" van apartheid. Pleks van apartheid geleidelik uit te faseer, wou hy hê dat dit heeltemal afgeskaf word (p 155). Esterhuyse glo dat ’n "onderdrukkende stelsel nie hérvorm kan word nie" (p 203). [Daarenteen dink ek dit is maklik om in te sien dat so ’n stelsel wél hervorm kan word.] Anders as Esterhuyse was PW Botha ’n "politieke inkrementalis" (p 208). De Klerk, Botha se opvolger, het op 2 Februarie 1990 in ’n enkele toespraak nie net die politiek nie maar die hele toekoms van die land verander. Pleks van ewolusie het hy, soos Esterhuyse en die ANC, per slot van sake rewolusionêre verandering gekies. Esterhuyse praat van ’n "bestuurde revolusie", maar van die De Klerk-regering se kant af was die gehalte van dié bestuur pateties.

"Botha en sy party sal nóóit tot swart meerderheidsregering instem nie" (p 169); sekerlik ook nie die meerderheid blanke kiesers nie. Maar die blanke kiesers is deur De Klerk en andere wysgemaak dat dit tydens die grondwetlike onderhandelings om "magsdeling" (p 53) sou gaan. De Klerk het eie woonbuurte en eie skole aan wittes belowe en niemand sou sy werk verloor nie. Tydens die 1992-referendum is die blanke kiersers gevra om aan te dui of hulle ten gunste is van die onderhandelings soos dit toe aan hulle voorgehou is. Hulle sou nie toe reeds finaal uitspraak oor hulle toekoms lewer nie, want die finale ooreenkoms sou later, so is deur De Klerk belowe, vir goedkeuring aan hulle voorgelê word.

Van hierdie plegtige en duidelike belofte het niks gekom nie; enersyds omdat die meerderheid blanke kiesers nie algehele magsoorgawe aan swartes sou goedkeur nie en andersyds omdat die regering (waarskynlik) deur die ANC met geweld afgedreig is. Dawie de Villiers het dié verraad teenoor die blanke kiesers goedgepraat deur te "reken dat ’n mandaat vir onderhandeling ook ’n mandaat vir die uitkoms van die proses was" (p 293). Dit is ’n drogredenasie. Gestel die bestuur van ’n vakbond kry van sy lede opdrag om vir ’n 14% loonsverhoging te onderhandel en daar word deur die vakbondbestuur op 4% met die werkgewers ooreengekom. Die lede het dan rede om ontevrede te wees. Hoeveel te meer as die kiesers magsdeling belowe word en dit blyk algehele oorgawe te wees.

Daar is, anders as in die VSA en elders, hoegenaamd geen minderheidsregte in die nuwe Suid-Afrika nie. Ook geen vetoreg nie. Selfs rassediskriminasie is nie afgeskaf nie. Volgens die grondwet mag nie-wittes bevoordeel en wittes benadeel word. Hieraan is daar geen keerdatum verbonde nie. Die oorweldigende swart meerderheid kan tot in die oneindige hiermee voortgaan; of moontlik totdat swartes vanweë "natuurlike" aanwas en instroming vanoor die grense sodanig vermeerder en wittes dermate weens emigrasie en dood verminder het, dat wittes geen beduidende faktor meer is nie.

Wat Esterhuyse in sy handel en wandel en ook in hierdie boek doen, is om te ontken dat ons hier met werklike vyande te make gehad het. Vyand is ’n "mite" (p 182), ’n "konstruk", bedoelende dat dit in hierdie geval ’n misleidende of onvanpaste term en begrip is. So ook "terroris" (p 142). Hierdie vyande moet "vennote" word (p 195). Hy wend hom tot linguistiese higiëne ten einde die ANC goed voor te stel. Dit gaan om die "ontdemonisering van die ANC" (p 36). Daar is dus nie geweldadige en bloeddorstige terroriste nie. "Bloeddorstige vyand" is ’n "mite" (p 43). Ons is glo almal Suid-Afrikaners met ’n gemeenskaplike vaderland, dus ’n enkele tuisland, en ons het almal ’n "gemeenskaplike toekomsdroom" (p 160). In die boek word moeite gedoen om die ANC te ontdemoniseer. In die proses word Afrikaners (minstens dié wat apartheid ondersteun het) gedemoniseer. Die apartheidsregering het moordbendes (blykbaar is dit nie bloot ’n "konstruk" of "metafoor" nie) omdat die regering in die "mite" van ’n Totale (kommunistiese) Aanslag geglo het (bv p 56) en dus met ’n Totale Strategie as teenvoeter vorendag gekom het (bv p 70).

Hierteenoor hang Esterhuyse "totále transformasie" aan (p 156). Hy gebruik graag die term "sekurokrate" (bv p 81) vir diegene wat die ou Suid-Afrika teen geweld probeer beveilig het. Blykbaar is ook hierdie term nie bloot ’n "konstruk" nie. Tog konstateer Esterhuyse darem ook hierdie waarhede: "Die buitelandse vleuel van die ANC het finansieel, militêr en polities hoogs afhanklik van Moskou en sy meelopers geword" (p 62) en "sonder Sowjetsteun sou die ANC nêrens gekom het nie" (p 205), asook dat die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP) die ANC "intellektueel en ideologies gedomineer het" (p 84). Die deelname van die SAKP aan die grondwetlike onderhandelings is een van die vele ononderhandelbare voorvereiste wat die ANC gestel het (p 174) en waaraan mettertyd toegegee is.

Een van die kernkwessies was of Suid-Afrika ’n eenheid- of ’n federale staat moet wees (p 151). Die ANC, bv Mandela en Thabo Mbeki (p 175), het nie net ’n eenheidstaat verkies nie, maar hierdie standpunt ook ononderhandelbaar verklaar (p 132). Dit impliseer dat hoewel die wittes aan swartes tuislande gegun het, ’n ANC-regering nie ’n tuisland aan wittes sou gun nie. Dit is bekend dat die Khoisan en die wittes hulle eerste in die suide en weste en die swartes hulle eerste in die noorde en ooste van Suid-Afrika gevestig het. Dit is egter primêr aan die wittes te danke dat Suid-Afrika in baie groter mate as ander Afrikalande ontwikkel is. Dit behoort dus nie net oor wie eerste hier was te gaan nie.

Die Botha-regering se standpunt, "Dis ons land dié" (p 174), is dus nie so vergesog as wat voorgegee word nie en is dalk meer regverdigbaar as die soortgelyke aanspraak van die swartes. [Mandela het volgens sy outobiografie tydens die Rivonia-verhoor gesê: "The [black] people ... would fight the white man and win back their country" (p 433).] ’n Meer tegemoetkomende oplossing sou wees om die wittes (desnoods saam met die bruines en Asiërs) ’n gelyke sê met die swartes in landsake te gee. Esterhuyse etiketteer die wittes se standpunt ("Dis ons land dié") egter as ’n "sindroom" (p 174) omdat hy hom deur suiwer kwantitatiewe (dus pro-swart) oorwegings laat lei. Verskille in ontwikkelingsvlak (dus kwalitatiewe, pro-wit oorwegings) word geïgnoreer.

Hoewel daar onmiskenbaar etniese en kulturele groepe in Suid-Afrika is, was die ANC daarop uit om die werklikheid hiervan te ontken. Mbeki het groepdenke ’n "politieke anachronisme" genoem (p 118). Maar sou die ANC die Amerikaanse swartes betig en sê dat swart mag ’n politieke anachronisme is? Groepregte het Mandela "mateloos geïrriteer" (p 208). Die ANC sou nie aan gesprekke oor "a constitution ... based on groups" deelneem nie omdat dit met apartheid geassosieer word (p 247). Esterhuyse noem groepregte die Botha-regering se "politieke troeteldiere" (p 175). Mandela roer "De Klerk, en die NP, se politieke troetelidee aan: groepsregte ... Dit klink na ’n ’moderne’ uitgawe van apartheid" (p 250). Dit is ’n drogredenasie. Die Amerikaanse swartes het omvattende minderheids- of groepregte. Sou Mandela of die ANC aan Amerikaanse swartes vertel dat hulle die voordele van ’n vorm van apartheid geniet?

Esterhuyse erken: "Etniese groepskonflik is ’n werklikheid in Suid-Afrika" (p 234). Die Suid-Afrikaanse Regskommissie het egter in 1989 "die juridiese aanvaarbaarheid" van groepregte gekelder (p 227). "Regstellende aksie en die ekonomiese bemagtiging van benadeelde (swart) mense" (p 166) was vir die ANC ononderhandelbaar (p 169). Dit kom neer op die erkenning van groepregte vir swartes, maar dit is die wittes wat beskuldig word van "verknogtheid" (p 188) aan en "beheptheid met groepsregte" (p 182). Groepregte is iets wat volgens Esterhuyse voor onderhandeling "van die tafel afgevee moet word" (p 182), maar klaarblyklik nie ook regstellende aksie en swart bemagtiging nie.

Die situasie wat ons tans in Suid-Afrika het, is dat groepregte erken word in soverre dit gebruik kan word om swartes te bevoordeel. Byvoorbeeld, regstellende aksie beteken dat swartes bo wittes (en vroue bo mans) bevoordeel word omdat swartes lede van ’n groep (en vroue lede van ’n groep) is en nie omdat hulle as indiwidue noodwendig merietegewys beter as wittes (of mans) is nie. Die ANC het op meerderheidsregering gebaseer op een-mens-een-stem (vir alle burgers bo 18 jaar) aangedring. Die regering se hoofonderhandelaar, Roelf Meyer, was dwaas genoeg om hieraan toe te gee. Die res van die De Klerk-regering het in sy voetspore gevolg.

Daarmee is al die veel geroemde "deurbrake" tydens die onderhandelings tot niet gemaak, want die ANC kan met ’n meerderheid van tweederdes die grondwet na willekeur verander. [Volgens Frederik van Zyl Slabbert aanvaar Roelf Meyer "by ’n kritieke vergadering van die Onderhandelingskomitee die beginsel van meerderheidsregering ... Cyril [Ramaphosa] het my vertel die oomblik toe Roelf dié beginsel namens die regering se onderhandelingspan aanvaar, het hy (Cyril) gevra vir ’n verdaging van 15 minute ’sodat ons opsy kon gaan na ons eie kamer en kon uitbars van die lag,’" Duskant die geskiedenis, p 49.] Voorheen kon Afrikaners saam met die digter daarop roem "dat ons nie gebuig kon word soos hul geweld dit wou." PW Botha het dit soos volg verwoord: "Ons is nie ’n volk van jellievisse nie!" (p 51). Daardie tyd is sedert die 1992-referendum verby. Daarna is besluite in die ou Suid-Afrika sonder die goedkeuring van die blanke kiesers en in die nuwe Suid-Afrika sonder die vetoreg van wittes geneem.

Alle kwalitatiewe verskille (behalwe ouderdom) tussen mense sou voortaan ontken kon word. Kwantiteit (die meerderheid kiesers) het daarna die toestand en toekoms van die land bepaal. Daarmee is die deurslaggewende mag van die swartes, dus die groepregte van die etniese meerderheid, erken en alle groepregte van wittes ontken. Dit is ’n rewolusionêre verandering: Van minderheidsregering (dus groepregte vir wittes) na meerderheidsregering (in die praktyk oorheersende groepregte vir swartes). Daardie swart groepregte is tans deurslaggewend in die ANC gesetel, des te meer omdat (geskoei op die kommunistiese lees) parlementslede deur die politieke partye benoem word; hulle word nie meer deur die kiesers van ’n kiesafdeling gekies nie.

Eintlik is die groepbevoordeling en gevolglike groepoorheersing van swartes in die nuwe Suid-Afrika selfs veel erger as dit. Esterhuyse skryf: "Ons ontdek opnuut ons Suid-Afrikanerskap. Mbeki sê: ’Ons is almal deel van Afrika’" (p 291). Vir die ANC vervloei Suid-Afrikanerskap in Afrikaskap, want die ANC is etnies behep met swartes suid van die Sahara. Hierdie swartes word beskou as broers en susters, waarvan baie die nuwe Suid-Afrika binnestroom. Esterhuyse was sterk teen die vorige regering se "berugte" (p 44) en "diktatoriale" (p 111) binnelandse instromingsbeheermaatreëls gekant, wat "vullishoop toe gekarwei" is (p 44). Politiek-korrek opper hy geen beswaar teen die invloei van immigrante nie, terwyl dit tot groter werkloosheid onder Suid-Afrikaners (en toenemende misdaad in Suid-Afrika) lei en daar al hoe meer armlastiges is wat staatstoelaes ontvang. [Russel Botman se posisionering van die Universiteit Stellenbosch as ’n Afrika-universiteit is gebaseer op dieselfde etniese voorkeur, al word dit voorgehou as ’n geografiese noodwendigheid.]

Die tradisionele standpunt van wittes "dat ’n nie-rassige samelewing nie in ’n veelrassige omgewing moontlik is nie" en De Klerk se standpunt in 1989 "dat oorheersing deur ’n etniese meerderheid net so onaanvaarbaar is as oorheersing deur ’n etniese minderheid" (p 227) en gevolglik die wenslikheid van magsdeling, is nie so dwaas as wat voorgegee word nie. Die nie-rassige nuwe Suid-Afrika is ’n mite. Oorweeg gerus in hoeverre die volgende stelling realisties ’n alternatief vir ’n swart president bied: "’n Swart of wit mens kan in ’n demokrasie president word" (p 227).

Die gevolgtrekking waartoe ek kom, is: Die grondslag waarop die nuwe Suid-Afrika funksioneer, is foutief. Die vraag kan ook gestel word of die huidige politieke opset ongekwalifiseerd wettig is, want dit is nooit deur die meerderheid wit kiesers goedgekeur nie. Daar is myns insiens ongetwyfeld verraad teenoor die wit kiesers (en by implikasie teen alle wit inwoners in 1994 en daarna) gepleeg. Die swartes maai tans onverdiend in baie groter mate as wat hulle gesaai het. Die enigste teenargument wat ’n mate van gewig dra en wat dikwels deur die hensoppers geopper word, is dat die alternatief erger sou gewees het; iets wat nie verifieerbaar is nie. Maar dit was en is bv De Klerk se verweer.

As die geldigheid van hierdie argument (die tevergeefsheid van alle alternatiewe) aanvaar word, word toegegee dat voortgesette massageweld nie gestuit kan word nie. In die nuwe Suid-Afrika beleef ons ongelukkig kort-kort onverkwiklike voorbeelde hiervan. Dit kan uitloop op nog ’n rewolusie en regstreekse magsoorname deur die outentieke gepeupel. Uit die massa gelykes sal spoedig weer ’n magselite na vore tree, wat ongelykheid meebring, wat daarna opnuut gelyk gemaak word, ens. Moet nog ’n rewolusie maar gelate as onvermydelik aanvaar word? In die koerantonderhoud is Esterhuyse egter "optimisties oor die mediumtermyn".

Ek het skaars die boek begin lees toe ek op Esterhuyse se rede vir sy bedanking in 1987 uit die Broederbond afkom, naamlik dat hy "ten gunste van ’n een-mens-een-stem-verkiesing in ’n eenheidstaat" is (p 27). Gedagtig aan sy teologiese agtergrond het ek oor hom in die kantlyn geskryf: "Gans verlore." Oor die grondwetlike onderhandelinge in 1993 skryf hy: "Ek het toe al lankal weggestap van die NP se idee van groepsregte en minderheidsveto’s" (p 299). Hy het dus kant gekies vir kwantiteit sonder om enige rol aan kwaliteit (bv ontwikkelingsvlak) of historiese en ander oorwegings toe te ken. Hy was ten gunste van swart oorheersing, dus (feitlik) ongebreidelde groepregte vir swartes sonder enige groepregte vir ’n minderheid soos die wittes. Dít terwyl dit glad nie ’n skande is nie om eerder voorkeur aan jou verpligtinge teenoor jou eie groep te gee. Dit is wat Mandela en Mbeki, anders as Esterhuyse, konsekwent vir hulle etniese groep, die swartes, gedoen het. "My mense" (bv p 206) is ’n frase met onbetwisbare geldige (bv kulturele) inhoud, wat eerder ernstige oorweging as ontkenning verdien. So ook Anton Rupert se bekommernis oor "ons kinders en kleinkinders" (p 340).

Wat die ANC en Esterhuyse gedoen het, is: Die nodigheid van etniese (in die sin van kleur of ras) groepregte is amptelik ontken, omdat minderheidsregte vir veral wittes vir hulle onaanvaarbaar is. Dít in ’n land met ’n geskiedenis soos dié van Suid-Afrika. Let op die geslepenheid: Deur die bestaan van minderheidsregte statutêr te ontken, is in die praktyk (feitlik) onbeperkte groepregte aan die meerderheidsgroep, die swartes, toegeken. Dat die kern van Esterhuyse se standpunt (aangehaal in die vorige paragraaf) presies met dié van die ANC ooreenkom, blyk bv uit die volgende: "Mandela is egter onwrikbaar oor die kwessie van meerderheidsregering in ’n eenheidstaat" (p 175), asook: ’n "nie-rassige meerderheidsregering in ’n eenheidstaat" (p 208). Dit is wat ons gekry het en waarvoor die ANC en Esterhuyse verantwoordelikheid moet aanvaar. Esterhuyse kan kwalik daarop aanspraak maak dat hy die toets van "gevolgsetiek" (p 349) slaag.

Dit sal interessant wees om te weet wat historici mettertyd bevind, naamlik of De Klerk se "kwantumsprong" (p 252) van 1990 na die lig of na die duisternis was; dus: Is Suid-Afrika steeds "’n land van Goeie Hoop?" (p 301). In ’n mens se lewe maak jy keuses wat op jou waardes gebaseer kan wees. Esterhuyse het gekies om ’n aktiewe rol in die proses van politieke oorgang te speel. Hy moet dus, gegewe die "onmisbare en deurslaggende rol" wat hy en andere in die voorbereidingsfase gespeel het (p 335), medeverantwoordelikheid vir die resultaat aanvaar.

Johannes Comestor

 

  • 2

Kommentaar

  • Jy het jou huiswerk gedoen. Ek het nog nie die boek van Esterhuizen gelees nie, maar sal seker op een of ander tyd. Nie dat ek juis veel het aan die boeke wat die manne geskryf het nie. Tyd is geduldig en die wiel draai maar stadig, maar hy draai beslis. Ons sal maar wag en sien wat gaan gebeur in die toekoms. 

  • Ek is van mening dat met die werklikhede wat oop en bloot 'too ghastly to contemplate' is, was dit vir beide hom en sy uitgewer 'n reuse oordeelsfout om te dink dat daadie perspektiewe gaan nog verkoop. Sy uitgewer gaan bloot nie sy drukkoste verhaal nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top