Die skrywer is 'n valsspeler

  • 0

Ek het hierdie week op hierdie fantastiese illustrasies afgekom van Cervantes se Don Quichot deur Roc Riera Rojas en toe op Salvador Dali se surrealistiese tekeninge van dieselfde boek.

Nie een van hierdie twee stelle illustrasies sou mens as realisties of werklikheidsgetrou kon beskou nie. Eerder surrealisties, absurd, fantasties, oordadig, speels – perfek vir ’n boek waarin die hoofkarakter byvoorbeeld windmeulens aanval omdat hy dink dat dit reuse is. Don Quichot (die naam wat hy vir homself as ridder versin) gaan op ’n soektog na avontuur nadat hy so baie ridderromans gelees het dat hy besluit om ridderskap te laat herleef. Ridderskap lei tot verwringing van sy persepsie en hy glo dat elke woord daarvan waar is.

So het die woord quixotic in Engels, afkomstig van die verengelste naam Don Quixote, ontstaan. Quixotic verklaar ’n Engelse woordeboek as “impractically idealistic or fanciful” en Wikipedia verklaar dit as “impractically in pursuit of ideals, especially those ideals manifested by rash, lofty and romantic ideas or extraordinary chivalrous action”.

In die einde van die boek sien Don Quichot ridderromans as gevaarlik. Waarom? Omdat die ridderroman sy beeld van die werklikheid vertroebel. Mens sou dus kon sê dat Cervantes met sy boek ’n argument ten gunste van realisme aanvoer en daardeur die idealisme en wanvoorstellings van sy lesers ontmasker. Of dit is ten minste hoe ek dit sien, maar natuurlik is daar ontelbare uiteenlopende lesings van die roman beskikbaar.

Iets oor metafiksie en die gevonde dokument: Metafiksie (nog ’n lekker woord om te Google) kan in verband gebring word met die gevonde of vals dokument wat ek verlede week gesê het as literêre tegniek in Don Quichot gebruik word. Waarom sê ek dit? Metafiksie (vir diegene wat wel te lui is om te Google) spreek die tegnieke en gereedskap wat fiksie gebruik aan en vlek hiermee die fiktiewe illusie van die teks oop. Om die tegniek van die gevonde dokument te bestudeer, word aandag geplaas op die teks as kunswerk, as kunsmatige artefak. ’n Tegniek soos die gebruik van die gevonde dokument maak dat die teks selfrefleksief aandag op sigself plaas deur vrae oor die verhouding tussen realiteit en fiksie aan te spreek.

Wat is my punt, getroue nuwe skrywers?

Om ’n verhaal (of roman) te skryf moet jy jou lesers kul. Jy moet ’n valsspeler wees. Jy moet bewus wees van die feit dat jy ’n valsspeler is. En waarom gebruik ek spesifiek die woord “valsspeler”? Het dit nie ’n negatiewe konnotasie nie? Aan die een kant is skryf ’n spel. Dit is ’n spel met identiteit, verskillende stemme, diskoerse, idees. En waarom vals? Het valsheid nie met leuens te doen nie? Dit is presies wat fiksie is, ’n vorm van valsheid wat as “die waarheid” voorgehou word. Maar dit het heel ironies ook die potensiaal om, deur van fiktiewe tegnieke gebruik te maak, die “waarheid” oop te vlek.

Werklik? Hoe?

Mens sou kon sê dat waar skrywers hulle lesers bewus maak van die fiktiewe gekonstrueerdheid van hulle teks, hulle ook die waarheid agter die gekonstrueerdheid van baie leuens in ons samelewing en die geskiedskrywing wat dit bedien, kan oopvlek. Het die roman, juis deur van fiktiewe tegnieke gebruik te maak, die potensiaal om hierdie versteekte waarheid – ’n verhulde waarheid, die werklikheid agter die “amptelike diskoers” – na die oppervlak te bring?

Die karakter Don Quichot sien byvoorbeeld ’n gebou in die platteland vir ’n kasteel aan. Die realis Sancho Panza, sien ’n herberg. Cervantes konfronteer sy lesers met hoe hulle persepsies hulle blik op die werklikheid beïnvloed. Hy wys hoe gevaarlik daardie persepsies kan wees.

Natuurlik het die woord “valsspeler” ook ’n negatiewe konnotasie. Om vals te speel, beteken om oneerlik te wees, die reëls van die spel te oortree. Dit is presies wat goeie skrywers doen. Slegs deur die reëls te oortree, kan skrywers die waarheid agter die gekonstrueerdheid van die “amptelike diskoers” ontbloot. Skrywers is soos hackers – hulle breek in die bestaande orde in, versteur dit en maak nuwe kreatiewe konneksies en skakels.

Net as jy bewus is daarvan dat jy as skrywer ’n valsspeler is – ’n hacker is – kan jy karakters, ruimtes, gebeurtenisse skep wat outentiek is. Net deur selfrefleksief met jouself en jou eie teks om te gaan, kan jy vrae oor die verhouding tussen realiteit en fiksie aanspreek.

Gaan leer gerus by Cervantes!

Lekker skryf

Rentia

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top