Hulle het geweet die dag sou aanbreek
wanneer die krom paaie se slingers
al korter raak, toe die wysvinger
bewend die onseker pad aandui
die strate onrustig begin asemhaal
die waarheid kaalkop opduik
dit het gekom, die lang pad … sonder boeie,
teen die grys wolke het die sonstrale
’n boog van hoop met sewe kleure gespan
maar nou het die wildehonde hulle ingehaal
eers net liggies aan die vel kom pluk
al meer bloed geruik
en nou kou hulle lustig aan die bene.

