Die ongekende oplewing van vampierfiksie

  • 0
Bloed is 'n gespesialiseerde vloeistof met baie funksies. Maar bloed is ook 'n kragtige simbool in ander genres as die mediese wetenskap of die biologie. Bloed kan 'n hoofrol speel in 'n aksiefliek, of kom sterk na vore in die ongekende volume vampierfiksie wat deesdae verskyn. Om nie eens te praat van die kardinale belang van bloed in die teologie nie. 'n Paar kundiges praat oor of dié simbool nog net so sterk soos altyd deur die are pomp, en of dit sy krag verloor het.

Vampierfiksie beleef, soos Sweedse misdaadrillers, tans ’n ongekende oplewing. Die verbysterende omvang van hierdie verskynsel is duidelik wanneer jy Google Books se wonderlike stukkie tegnologie Ngram Viewer gebruik om die trajek van vampierfiksie oor die afgelope twee dekades te meet. Hierdie program laat jou toe om ’n grafiese voorstelling te skep van hoe dikwels ’n sekere sleutelwoord in letterkunde voorkom. Soek jy die gebruik van die woord vampire in Engelse letterkunde tussen die jare 1800 en 2008, kry jy die volgende grafiek:

Dit is duidelik uit hierdie voorstelling dat die Engelse literêre korpus sedert die 1980’s ’n ontploffing van vampier-teenwoordigheid beleef.

Is hierdie vampiergier goeie nuus vir diegene wat die marginalisasie van wetenskapfiksie (WF) en fantasie in die wêreldletterkunde bevraagteken? En van waar vampiere se skielike gewildheid?

Navorsers op die gebied van WF is dit eens dat WF belangrik is vir die analise van kwessies soos ras, klas, gender, andersheid en die huidige omgewingskrisis. In ’n artikel getitel “Why Science Fiction?” lewer Janet Kafka ’n betoog ten gunste van die gebruik van wetenskapfiksie in die klaskamer:

Much of [science fiction] bears analysis according to the same criteria you apply to other works of fiction. And unlike many other things your students will have to read, SF provides a critical vantage point for commentary on people and societies as we find them today, as well as extrapolating from this to give us a view of some possible alternate [sic] futures. Historically a pariah, free from the conventions and demands of the mainstream, SF can deal with any socio-political, ethical, or technological problem that the human race might meet, from nearly any point of view. (Kafka 46)

In die lig van WF en fantasie se rol as sosiaal-bewuste genres wat dikwels ongeregtighede en die tekortkominge van hulle gemeenskappe onder die vergrootglas plaas, kan die vampier in die rol van sosiale kommentator geplaas word. Sedert Bram Stoker se Dracula (1897) – en selfs nog vroeër vir diegene wat kans sien om bietjie speurwerk te gaan doen – verskyn die vampier as ’n randfiguur wat die sosiale norme en morele waardes van sy of haar tyd bevraagteken. Die vampier tree dikwels op as simbool van andersheid, ’n buitestander wat tegelyk vreesaanjaend en aantreklik is.

Dit is nie moeilik om te sien hoekom die figuur van die vampier soveel aantrekkingskrag inhou nie. Hy (of sy) is immers verhewe bo sosiale en morele bande en geniet ongekende mag, rykdom en natuurlik onsterflikheid. Die vampier toets die grense van die “beskaafde” samelewing, en weerspieël ook dikwels die skynheiligheid, vergrype en onverdraagsaamheid van ’n gemeenskap.

Dit is tog jammer dat die meeste van die nuwe generasie bloedsuierhelde van die Gossip Girl-met-slagtande-soort is en sodoende baie van hulle satiriese “byt” verloor. Laventelhaantjie-vampiere soos Damon en Stefan Salvatore van LJ Smith se gewilde The Vampire Diaries-reeks doen nie veel anders as baklei oor die liefde van die mooie Elena nie, maar worstel darem so nou en dan met die etiese dilemma van hulle drang om mense van hulle lewensbloed te verlos. Melissa de la Cruz se Blue Bloods-reeks draai weer om ’n groep vampier-tieners wat in New York se hoogste sosiale kringe beweeg, net Prada dra, as fotografiese modelle werk en so nou en dan mekaar se kêrels probeer afvry.

Edward Cullen van Twilight-faam is natuurlik die glinsterende bleeksiel wat verantwoordelik is vir die skielike gewildheid van tiener-bloedsuiers. Edward is in baie opsigte die antivampier. Sy preutse uitkyk op die huwelik, seks en ewige liefde is so te sê Victoriaans. Stephanie Meyer se Jacob, die warmbloedige, viriele wolf met bultende spiere is hier gevaarliker. Die feit dat Edward as die mees aanvaarbare maat vir Bella uitgebeeld word, dui daarop dat die Twilight-reeks ’n “cautionary tale” teen voorhuwelikse seks en gevaarlike, onbeheerste passie is.

Anders as Stoker se Dracula en selfs Ann Rice se The Vampire Chronicles blyk die boodskap van huidige vampierverhale konformiteit te wees. Vampiere is deesdae net te nice, te mooi en te ryk. Hulle skielike gewildheid in populêre kultuur is dus nie soveel anders as die verheerliking van Hollywood-sterre nie – in ons fantasiewêrelde is ons die beeldskone, geliefde en skatryke Bella Swan/Elena Gilbert, maar dit kon net sowel Angelina Jolie gewees het.

Wat het geword van outydse, hardebaardvampiere soos Nosferatu en Anne Rice se Lestat, vra ek? Seker te skaam vir die glinsterende jongklomp om weer slagtande te wys …

Bron
Kafka, Janet.  1975. Why Science Fiction? The English Journal, 64(5):46-53.

Terug na indeksblad

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top