Die mees irriterende goed op aarde

  • 3

1. Mense wat teen 80 km/h teen die oprit na ’n snelweg aankruie. Die ding is so ontwerp dat, teen die tyd wat jy die snelweg bereik, jy reeds teen so 120 tot 130 km/h trek sodat jy kan SAAMSMELT met die snelwegverkeer.

2. Kragproppe op kraggereedskap. Hoekom moet die goed alewig hierdie tweepuntproppies hê wat nie in Suid-Afrikaanse kragpunte pas nie? En nie eers al die tweepuntproppies is dieselfde nie; party is gemonteer in ’n ronde kop en ander in ’n langwerpige kop sodat jy verskillende tussengangerproppe moet gebruik. Kan die Buro vir Standaarde of Binnelandse Sake of die polisie nie iets daaraan doen nie; dis mos nou al jare dat Suid-Afrikaners kraggereedskap koop.

3. Handleidings, veral die van kraggereedskap, elektroniese apparate en ander toerusting. Koop ’n kamera of batteryboor en jy soek ure in die handleiding om uit te vind of byvoorbeeld die battery reeds gelaai is of nog gelaai moet word. Die meeste veiligheidinstruksies voor is geld in elk geval nie vir Suid-Afrika nie.

4. Die nare gewoonte van mense om Engelse name in Engels uit te spreek terwyl hulle Afrikaans praat. Hoekom doen ons mense dit? Jy sal nooit hoor dat ’n Engelssprekende Afrikaanse woorde op Afrikaans uitspreek as hy Engels praat nie want die twee tale is in verskillende sleutels en dan klink dit uiters k@k.

5. Bestuurders wat hulle flikkerligte aansit TERWYL hulle draai. Die goed is daar om bedoeling bekend te maak, nie aksie nie.

6. Taktiese skoppies. Hoeveel maal is ’n "nederlaag nie gegryp vanuit die kake van ’n oorwinning" nie deur taktiese skoppies van veral Ebersohn en Goosen. Die Cheetahs verloor in die laaste kwart van die wedstryd nadat hulle met so-iets soos 21 voor was! Die Bulle se wiele het begin afval na Morné se "taktiese" skoppie net voor hy af is en hulle wen toe net-net nadat hulle myle voor was. Moet ook maar nie vir Hougaard en Daniller weggooi wat hierdie storie betref nie, ook maar geneig om besit weg te gee wanneer hulle voor hulle siele behoort te weet die opposisie gaan balbesit behou al vorder hulle slegs ’n halwe meter met elke fase. Oom Boy Louw het lankal al, kort na die volksplanting, gesê in order to score you’ve got to arrive behind the line WITH the ball (my hoofletters).

7. Die neiging deesdae om ’n koningin, verpleegster, onderwyseres, tikster, aktrise, sangeres, digteres, regisseuse en skryfster ’n koning, verpleër, onderwyser, tikker, akteur, sanger, digter, regisseur en skrywer te noem.

8. Die neiging van sangers en sangeresse om nie die stemstop te gebruik nie (nuwe woord vir glottal stop).

9. Die totale onbeholpenheid, onbekwaamheid en stugge houding van winkelassistente, veral die by die bekende groep hardewarewinkels.

10. Die totale onbeholpenheid, onbekwaamheid en traak-my-nie-agtigheid van diensstasiepersoneel. Die werktuigkundiges is oor die algemeen bekwaam maar die bestuur, oor die algemeen, om nou ’n Engelse uitdrukking te gebruik, suig.

Jan Rap

 

  • 3

Kommentaar

  • Beste Jan

     
    Ek stem 100% saam met jou.  Ek sal graag jou lysie wil aanvul met die volgende:  Wanneer iemand [kassier oa]  besig is met jou transaksie en daar kom 'n kollega [of selfs 'n lid van die publiek] en meld hom/haar aan vir 'n gesprek met die kassier terwyl hy/sy met jou saak besig is.
     
    Ek sien rooi en kan nie myself bedwing om daar en dan die persoon wat my bedien, se hare te was nie.
     
    Enjee
  • Of wat van jy wil iets in 'n winkel aanpas en die kledingstuk hang ver bokant jou en jy moet met die lang stok dit probeer afkry, en dan het jy nog nie eens die regte grootte raak gehaak nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top