Die koninkryk van nie-rassigheid

  • 6

Ek het onlangs oor ons huidige politieke opset (meerderheidsregering in 'n eenheidstaat) geskryf. Ek het beweer dat as daar werklik nie 'n alternatief hiervoor was nie, "word toegegee dat voortgesette massageweld nie gestuit kan word nie" (SêNet, 15 deser). Die nuwe Suid-Afrika het ontstaan omdat die aktiviste, agitators en anargiste van veral die UDF/ANC die massa enersyds bewus van werklike en verbeelde griewe gemaak het en andersyds onhaalbare verwagtinge by hulle geskep het. Om in sy doel van politieke magsoorgawe te slaag, het die ANC enige onbeskaafde, geweldadige optrede wat die land onregeerbaar sou maak, aangemoedig en goedgepraat. Op hierdie manier is 'n geweldskultuur gevestig wat as die nalatenskap van ANC-terrorisme tot op hede voortwoed.

Ons leef deesdae in 'n geestesklimaat waarin alles wat voor 1990 plaaslik gebeur het, tot slawerny, kolonialisme en apartheid gereduseer en sonder meer as sleg verdoem word. Ingevolge politieke korrektheid moet alles wat sedert ons "bevryding" in 1994 plaasgevind het, aangeprys word. Daarvolgens mag nie-wittes, veral swartes, eintlik in geen opsig gekritiseer en veral nie sleggesê word nie. Hulle mag nie eens "vlugtelinge" genoem word nie. Nog minder mag die Arabiese woord vir heiden, oftewel nie-Moslem, geuiter word. Wittes, daarenteen, mag enigiets genoem word; selfs voorstelle dat hulle vermoor moet word, is nie taboe nie. Sodanig is die koninkryk van nie-rassigheid waarin ons tans lewe.

In die woongebiede vir swartes bly die geweldsopsie die suksesvolste instrument vir verandering. 'n Duidelike patroon is waarneembaar. Soos tydens apartheid word daar in baie gevalle nie vir munisipale en ander dienste (vullisverwydering, water, elektrisiteit, eiendomsbelasting, televisie-ontvangs) betaal nie, maar die doeltreffende lewering van hierdie dienste word geëis. Nie-invordering lei eerder tot die kwytskelding en afskrywing van skuld as die opskorting van dienste, want dit sou tot geweld lei. 'n Kultuur van nie-betaling word gevestig. Diegene opgevoed in 'n betaalkultuur moet noodgedwone meer opdok weens die nie-betaling van ander. Eufemisties word dit "ubuntu" genoem en die bevrydingsteoloë sluit dit in by "geregtigheid".

Swart nie-betalers mag nie benadeel word nie, want hulle word histories steeds as benadeeldes getakseer. Daarom mag dienste aan hulle nie opgeskort word nie. Daar is dus geen sanksie, geen seermaakaksie, wat hulle tot sosiaal aanvaarbare gedrag verplig nie. Selfs stemreg word hulle nie ontneem nie. Stemreg word as 'n onvervreembare mensereg beskou waarvoor geen teenprestasie nodig is nie. Dit is 'n geval van een-asem-een-stem. 'n Nie-betaler se stem dra dieselfde gewig as dié van 'n betaler wat oorbelas word. Dit is ons nuwe vorm van "geregtigheid" as teenvoeter vir al die "onreg" van die verlede. Die probleem is dat so 'n proses nie volhoubaar is nie. Die melkbare koeie word minder en die suipers word meer. Vorentoe sal hierdie koeie droog of dood gemelk word.

Gestel hierdie inwoners is ontevrede oor dienslewering, soos deesdae al hoe meer gebeur, onder andere weens die aanstelling van onbekwame en korrupte amptenare. Die geykte patroon (geleer by die ANC tydens die "bevrydingstryd") is om paaie met brandende buitebande, klippe of boomstompe te versper, munisipale geboue en voertuie aan die brand te steek (veral biblioteke brand lekker) en verbygaande voertuie met klippe te bestook. Soos tydens die "bevrydingstryd" is daar 'n duidelike etniese afkeur te bespeur. Voorheen was die geweld teen wittes en Indiërs gemik. Deesdae word die eiendom (bv winkels) van nie-swart buitelanders (afkomstig uit die noord-ooste van Afrika en die Indiese subkontinent) geteiken, leeg gesteel en dikwels afgebrand. As 'n skool te min klaskamers het, word van die bestaande klaskamers aan die brand gesteek en die vensters van ander met klippe stukkend gegooi.

Hierna word (ernstige) aandag aan die griewe gegee, met ander woorde resultate word behaal, wat die geweldenaars sterk in die oortuiging dat geweld lonend is. Soms word sommige van die vandale gearresteer maar hulle word selde indien ooit (behoorlik) gestraf. Die skade wat hulle aangerig het, word herstel maar dié koste word nie van die vandale verhaal nie. Dit is diegene wat belasting en vir dienste betaal wat ook vir hierdie skade moet opdok. Geweldenaars word nie afgeskrik met die instelling van 'n lewenslange vonnis van dwangarbeid sodat hulle die skade (deels) kan vergoed nie, want dit druis in teen die skewe dogma van menseregte.

Namate geweld op plaaslike vlak meer dikwels en op meer plekke voorkom, sal dit al hoe meer die vorm van algemene, landswye, chaotiese geweldadigheid aanneem. Daar is reeds aktiviste wat hulle hiervoor beywer. Dit is 'n uiters gevaarlike situasie in 'n land wat swak regeer word en boonop 'n ondoeltreffende weermag en polisiediens het. Daarom het ek onlangs geskryf: "Dit kan uitloop op nog 'n rewolusie en regstreekse magsoorname deur die outentieke gepeupel. Uit die massa gelykes sal spoedig weer 'n magselite na vore tree, wat ongelykheid meebring, wat daarna opnuut gelyk gemaak word, ens" (SêNet, 15 deser). Dit is nie 'n resep vir 'n wenland nie; wel dié van 'n mislukte staat.

Die grondslag waarop die nuwe Suid-Afrika funksioneer, is foutief. In 'n vorige skrywe het ek Alexander Fraser Tytler aangehaal: "A democracy will continue to exist up until the time that voters discover that they can vote themselves generous gifts from the public treasury. From that moment on, the majority always votes for the candidates who promise the most benefits from the public treasury, with the result that every democracy will finally collapse due to loose fiscal policy" (SêNet, 9.12.2011). Dit is onrealisties en dwaas om kwantitatiewe faktore deurslaggewend te maak. In iedere suksesvolle land het kwalitatiewe oorwegings hulle regmatige plek. In die huidige opset is al die politieke partye egter daarop uit om soveel stemme moontlik te verwerf; stemme wat hoofsaaklik van die massa kom, gevolglik word hulle nie gekritiseer (sodat hulle kan verbeter) nie en nog minder met straf in die bek geruk. Hulle word eerder in hulle kwaad gesterk.

Gestel ek loop op die strand. Bo die hoogwatermerk is die Eerste Wêreld. Onder die hoogwatermerk is Afrika. Ek loop op die nat sand en laat voetspore. Met my hande of 'n graaf bou ek 'n sandkasteel. Ek het iets gebou; 'n spoor van my teenwoordigheid nagelaat. Dit is hoe dit vandag is. Môre is my voetspore en die kasteel nie meer daar nie, want die gety het daaroor gespoel en uitgewis wat ek tot stand gebring het.

Johannes Comestor

  • 6

Kommentaar

  • Beste Johannes

    Wat help dit om te sanik oor wat in die verlede gebeur het en oor die huidige onvermoë van die regering om behoorlik te kan regeer nie.  Dit is nie nuwe nuus nie, ons almal weet dit.  Gee eerder positiewe voorstelle wat gedoen kan word om sake te verbeter, dan kan ons almal daaroor debatteer. My vraag? Hoe betrokke is jy by AfriForum, die enigste Afrikanerdrukgroep wat tans bewese aksie namens Afrikaners reeds verrig het, en steeds in die proses is om te bewerkstellig?

    Indien nie AfriForum nie, waar staan jy in aktiewe deelname vir Afrikaner belange?  Tog seer sekerlik nie in isolasie nie?

    Jaco Fourie

  • Dag Johannes,

    ek besef waar die Afrikaner vandag is. Grondloos. Landloos. Hy het geen seggenskap in wie oor hom regeer nie. Hy word vir alles wat verkeerd is blameer. Hy word vir almal se foute blameer. Hy word verneuk, beroof, gemartel, vermoor. Hy is 'n passiewe slagoffer. Dit is waar die Jood vir baie eeue was, tot hy sy land Israel teruggevat het.Die Jood was vir die allerlaaste keer in daai posisie van magteloosheid geplaas deur die Romeinse Ryk.

    Wat die Afrikaner se situasie vir my so verskriklik maak is die feit dat dit deur sy eie leierskap aan hom gedoen is.

    Ek hoop julle vind 'n oplossing, maar wees verseker, geen verandering wat tot voordeel van die Afrikanert is sal ooit deur die swartman of die "liberale" wêreld, veral die VVO aanvaar word nie. Die vraag is "so what?" Julle het tans geen vriende nie, so wat gaan anders wees as julle 'n stuk grond van jul eie vat en hou?

    Ek hoop daar is hoop.

    Duitswester

     

  • Beste Jaco

     
    Ek sien die waarheid maak jou baie seer.
     
    Gee ons asseblief die antwoorde op die vrae wat jy aan Johannes stel.  Waar staan jy wat hierdie sake betref?
     
    Enjee
     
  • Beste Enjee

    Om jou (bitsige) vraag te probeer be-antwoord:

    Ek is 'n trotse Afrikaner wat weier om in as en sak te sit en oor die lot van die Afrikaner te sit en ween met klaagliedere wat niks positiefs vir die Afrikaner doen of beteken nie. Ek ondersteun AfriForum heelhartig met geldelike bydraes, en indien hulle 'n beroep op my sou doen, sal ek gewillig wees om daar te wees.  Hulle het bewys hulle is DOENERS en nie net PRATERS nie. 

    Indien jy na selfbeskikking verwys, hunker ek ook daarvoor vir die Afrikaner.  Maar weens my pragmatiese benadering tot die onderwerp, moet ek toegee die meerderheid Afrikaners verlang dit  tans nie, en tot dusver is geen haalbare model ter tafel gele wat vir die meerderheid Afrikaners aanvaarbaar is nie.

    My siening is die Afrikaner het tans nie 'n sentrale leierskorps nie.  AfriForum na my mening met hulle baie meer suksesse als floutes is in die proses om die Afrikaner se verbeelding aan te gryp, meer so als enige ander Afrikaner-belangegroep.  'n Begin tot die realiseering van 'n sentrale aanvaarbare leierskorps.  Hulle het beide die geldelik mag en vakbondlede ondersteuning as beginbasis.

    'n Afrikaner owerheid (verregs) is onlangs ingestem.  Sederdien is hulle doodstil.  Die meerderheid Afrikaners weet nie eers van hulle bestaan, doelwitte en portefeuljes wat hulle wil aanpak nie.

    Nou ja.  My beurt.  Waar staan jy en wat doen jy ter stawing van Afrikaner-belange, behalwe om net opinies op Praag te lig?  Laat weet asseblief. Ek let wel dat Johannes my ook nog nie be-antwoord het nie.

    Jaco Fourie

  • Die Enjee het soos 'n sitbank kritiek probeer slimwees om my vas te vang.  Hyself is nou die ene stilte, en wil die uitdaging wat hy my gestel het, en wat ek beantwoord het, nie my uitdaging vir dieselfde dinge verantwoording gee nie.  Tipies  gekkegrenser. Dit wil voorkom dat hy nie wil erken hy is net 'n prater en nie 'n dader nie, dat hy boggeral doen vir Afrikaner-belange wat hy oor so gesteld is nie.

    Jaco Fourie 

  • Jaco, Johannes Comestor plaas, onder andere, die onbekwaamheid van, en onregverdighede aangevang deur, die huidige regering in die kollig.  As wat jy in die kol sien lelik is vir jou kan jy nie sê hy sanik nie.  Is jy bereid om te sê Mantashe-hulle sanik oor die Goodmangalery, of dat Nelson Mandela gesanik het oor swart politieke regte, of dat die Engelse pers (later ook die Afrikaanse pers) gesanik het oor die tuislandbeleid?  Sanik Willie Esterhuyse oor die vorige bedeling?

    Indien jou antwoord 'ja' is het jy miskien die bona fides om te sê Johannes sanik maar dan moet jy, vir balans, ook jou misnoë uitspreek oor Mandela en die ANC se gesanik deur die jare, asook die gesanik oor die skildery. 

    Ek vermoed egter jou antwoord sal 'nee' wees; ek vermoed sterk dat jy ook een was wat 'blinkoog oor die Nuwe Suid-Afrika'  (De Klerk se woorde) was ten spyte van, wat jy die gekkegrensers noem, se waarskuwings destyds en dat jy ywerig meegewerk het om die huidige bedeling daar te stel.  Jou gesanik oor wat Johannes sê is dus nie uit hoofde van jou kamtige weersin in mense wat volgens jou sou sanik nie, dit is omdat die blootlê van julle aandadigheid in die huidige mislukking te pynlik is om te verwerk.

    Terloops, ek sien jy noem Enjee 'n 'gekkegrenser' en dan praat jy van 'bitsig'?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top