Die gemors by UJ ens

  • 4

Daar het julle dit nou; so ’n fiasko sou nooit by ’n Afrikaanse universiteit, soos RAU, gebeur het nie. Verder hoor ek ook die Noordwes-universiteit gaan geen studente met agterstallige skuld toelaat om in te skryf nie; die agterstallige fooie beloop blykbaar miljoene.

Bogenoemde kelder nou finaal die storie dat Afrikaanse universiteite Engels moes word omdat, soos Gerrit Brand destyds vir my geskryf het, universiteite nou soos ’n besigheid bedryf word en Engelse onderrig lok meer studente en dus meer geld. Onsin, het ek gesê, die verengelsing is om die Engelstalige universiteite se ekonomies las te verlig want die studente wat aandring op Engels gaan finansiële hulp nodig hê; hulle gaan taai wees om te betaal.

Nie eers by die tradisioneel Engelse universiteite gaan dit so erg nie. Weer eens, soos altyd, kom die Boere tot die Engelse se redding, weliswaar (aanvanklik) onwetend, maar tog. Dis soos ’n regte Jakkals-en-Wolf-storie; goedgelowige wolf word telkens met slap pap onder ’n wip gevang.

En nou? Die Engelse giggel in die mou en die betrokke Afrikaners, veral akademici soos Pierre de Vos, sit met ’n eier op die gesig en om dié te verberg grawe hulle slote waaruit hulle ou skimkoeie haal. Hierdie universiteitstorie is maar net een van die gevolge (van die destydse betrokkenes se aandeel in die daarstel) van die huidige bestel; daar is nog misdaad, plaasmoorde, besoedeling, verval van infrastruktuur ens ens.

Die wat NIE betrokke was nie word gemaan (Niekie van den Bergh – terloops, wat het van Niekie geword?) om nie nou te kom en staan en sê "ons het julle mos gesê nie". Hy het geen rede vir hierdie versoek gegee nie, ek vermoed maar dis oor hy skuldig voel.

Pik Botha se rede vir die huidige gemors is dat niemand destyds kon voorspel nie. Natuurlik nie waar nie; daar was nog altyd die geskiedenis. Buitendien, die wat wel voorspel het is ’n dowe oor na gedraai en uitgekryt as moeilikheidmakers en mense wat nie bereid is om "met die tye te beweeg nie".

Clem Sunter het wel erken daar gaan eers ’n daling wees voor sy "high road' ons na ongekende welvaart en populariteit gaan lei. Hy sê ’n ou tannie het dit só aan hom gestel: "You men are so stupid; don't you realise you've got to go through the vale of tears first?" Clem het nou wel nie ’n tydperk aan hierdie dip geheg nie maar ek is seker selfs hy sal saamstem dat ’n 18 jaar dip, en die lyn loop steeds afwaarts, nooit na welvaart vir almal gaan lei nie.

"Nou wat sê jy nou eintlik" hoor ek die koor vra, "jy kla maar stel niks voor nie." Wel, stappie vir stappie – die eerste stappie is om op te hou om hout op brandende Rome te gooi. Hou byvoorbeeld op met sulke twak stellings soos " ... die gruwels van die verlede ... "; daar was nooit so iets nie.

Die tweede stappie is om ’n stukkie grond in Botswana of Namibië te koop vir ’n Afrikaanse universiteit vir Afrikaanssprekendes, ongeag ras, geloof, kleur, geslag, oriëntasie of bloedgroep. ’n Universiteit volledig met koshuise, ’n stasie, landingstrook, Olimpiese swembad, atletiekbaan, rugbyveld, kafeteria en/of biersaal en ’n paar kroeë, die soort van ding, alles wat nodig is vir suksesvolle akademiese studie.

Dis vir eers genoeg; daar kan later aan stap 3 gedink word. Ter afsluiting: Ons het julle mos gesê.

Jan Rap

  • 4

Kommentaar

  • Francois van Wyk

    Ek wil graag kommentaar lewer op jou tweede stap. Ek dink jy het alreeds daaroor geskryf in die verlede. Dit is 'n baie goeie idee op papier, maar eerstens sal Namibië of Botswana so 'n stap toelaat? Dink jy nie die ANC sal druk op die lande sit om so projek te kelder nie? Dan ook, sal so 'n kwalifikasie in Suid - Afrika erken word, of voorsien jy dat die meerderheid Afrikaners wat daar gaan studeer, dan elders oorsee gaan werk?

  • As jy 'n stuk grond gekoop het is dit joune (behalwe nou in die NSA).  Namibië en/of Botswana behoort dit te verwelkom, want hulle mense sal ook daar kan studeer (mits, natuurlik, hulle Afrikaans kan praat).  Die kwalifikasie sal gelykstaande in standaard wees aan dié van die Ou SA se Tukkies en RAU, dus Europese standaard.  Die grade wat deesdae by Tshwane en UJ verwerf word glo ek nie het veel waarde nie.

    Indien Botswana en/of Namibië soos in die NSA begin met eiendomsroof kan mens grond in Madagaskar koop en indien hulle ook terugval na oerwoudswet moet mens maar 'n ou vliegdekskip of olieboor koop en net buite die Suid-Afrikaanse gebiedswaters anker en die universiteit daar bedryf.  Of miskien in Orania.  Wat betref waar die wat daar gaan kwalifiseer uiteindelik gaan werk geld dieselfde as wat tans geld - waar hulle wil.  Ek hoop maar almal sal in SA wil werk, selfs die wat reeds oorsee is want hoe meer hier werk hoe meer werkgeleenthede sal ontstaan.
    Waar daar 'n wil is, is 'n daar 'n weg.

  • Die olieboor-, vliegdekskip-, Madagaskaropsie, klink vir my na iemand wat nie meer raad het vir die situasie nie.

    Ek dink daar moet op grondvlak begin word, nl eerstens baie onderwyskolleges met opleiding van baie onderwysers. Terug skoolbanke toe, begin by graad een en dril die kinders soos van ouds, stop die selfontdekking ... leer hulle soos pappegaaie ... die res kom vanself later!

    As die skoolsisteem eers goed gevestig is, sal die tersiêre probleem self uitgesorteer wees. Natuurlik moet daar ook opgehou word om te dink wiskunde en wetenskap is vir elke Jan Rap bedoel, en liewer gekonsentreer word op ambagte vir die massas. Van die vroegste tye af was daar ambagsmanne en akademici. Nou wil almal akademici wees, met gevolglike chaos!

  • Jy reken leer die kinders soos papegaaie? Ek stem saam, die res kom definitief vanself. Leer hulle tafels, spelling op die ou manier, laat hulle eers vertroud raak met die desimale sisteem en ander getallesisteme - is dan maklik om in te sien. Dis al wat werk.

    Ek stem ook saam dat as die skoolsisteem eers goed gevestig is, soos dit was v'D', sal die tersiêre sisteem sigself genees.

    Jy moet onthou dat wat jy voorstel is soos dit was, ons het dit bewerkstellig al van voor die Engelse oorlog af. Daar is dus geen baanbrekerswerk nodig nie; as daar nie met ons ingemeng word nie kan ons aangaan op die regte manier, soos altyd, vandaar die behoefte aan skole, kolleges en universiteite waar kindertjies nie opdaag en eis dat die skool effektief verwoes moet word om hulle uiteindelik 'n nikswerdsertifikaat uit te reik nie.

    Die olieboor-, vliegdeksip-, Madagaskar-, uitgewerkte myn-, uitgeholde bergopsies is maar net 'n metafoor vir 'n hou-julle-hande-tuis-plek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top