Die dood van André P Brink

  • 0
André P Brink (foto: Bibi Slippers)

Deur die poging van 'n immigrasie-amptenaar om haar plig wetsgetrou uit te voer, het die vreemde eer my te beurt geval om die eerste letterkundige in Suid-Afrika te wees wat wis van André P Brink se dood.

Die telefoon het laat in die nag in ons huis gelui. Die amptenaar wou by my vrou, haar senior kollega, seker maak dat sy die korrekte prosedure volg by die land van 'n passasier wat op 'n internasionale vlug gesterf het. "Land" beteken in die taal van immigrasie-amptenare "wettiglik toelaat tot Suid-Afrika".

Ek was half deur die slaap, maar kon hoor watter vorms en stempels alles nodig is om 'n oorledene deur 'n poort van binnekoms te loods.

Volgens die telefoongesprek het dit gegaan om 'n beroemde man. Gou het ek geweet dit was André P Brink. Ek kon verder slaap, maar was onrustig weens die skok. Later het ek begin droom van Brink.

Ons het op 'n rots gesit, met die see by Drieankerbaai in die agtergrond. "Wou jy nog iets sê?" het ek aan André gevra. "Glo my as jy wil," was sy antwoord.

 "Glo my as jy wil"? Ek het wakker geskrik en begin peins oor Brink se enigmatiese nadoodse opmerking. Dalk was dié gepeins ook 'n droom?

Om te beweer dat ek bevriend was met Brink, sou my te veel vlei. Hy was in 'n ander liga as die meeste van ons. Sy enorme oeuvre en die kwaliteit daarvan het baie van ons met leë hande in die agtergrond laat staan.

Nogtans het die nuus van sy dood my persoonlik geraak met die pynlike gevoel dat ek 'n essensiële persoon vir altyd kwyt was. Soos by 'n leidende, groot gees wat sterf.  Of 'n geliefde wat skielik die wyk van mens neem. In 'n mens se drome ontmoet jy inderdaad hierdie soort afgestorwenes, dié wat werklik dood is en soms ook dié wat nog leef.

Brink was heelwat ouer as ek maar hy was ook die stem van my eie generasie, meer as enige ander Afrikaanse skrywer aan wie ek kan dink. Hy was verfynd, geleerd, charmant, 'n Wunderkind met 'n romantiese flair. Sy belesenheid het hom gevul met grondige kennis van die eksistensie-filosofie en ander denkskole tiperend van die na-oorlogse Europa.

Sy hele mentaliteit as skrywer en letterkundige het 'n uitdaging gebied nie alleen aan die apartheidsbestel nie, maar aan die bekrompenheid van die Christelik-Nasionale stelsel waarin baie  Afrikaners hulle destyds soos in 'n isolerende laer teruggetrek het.

Sy boeke was "high brow" soos die werk van Etienne Leroux en Breyten Breytenbach. Maar hy kon terselfdertyd groot lesersgetalle aanlok met prikkelende liefdesverhale waarop almal hul hande wou lê. 'n Boek soos Miskien nooit het gewone lesers en jong studente onder die invloed van Sestig gebring soos geen ander Sestiger-skrywer se werk dit kon regkry nie. Altans nie op dieselfde skaal nie. 

Brink was vir sy jong lesers in die jare sestig en sewentig 'n literêre versetstryder met die aantrekkingskrag van 'n popster. Hy was seunsagtig-aantreklik, op 'n soort Franse manier, 'n ware "lady-killer".

Met Ingrid Jonker as sy vriendin het Brink se lewe en skeppende verbeelding 'n gewaagde koers ingeslaan binne die konserwatiewe wêreld van die destydse Afrikaner en Afrikaanse letterkunde. Sy werk het soms heftige opslae gemaak, en gaandeweg alarms laat afgaan binne die Nasionale Party-regering en die destydse veiligheidsdiens. 'n Bohaai wat alles net opwinderder en prikkelender gemaak het vir jongmense soos ek.

Die universiteit op Potchefstroom waar Brink in die vyftigerjare gestudeer het, se implisiete leuse was: "Glo wat ons predik." So altans het ons, op die sogenaamd verligte Stellenbosch, Potchefstroom destyds beskou.

Potchefstroom sou waarskynlik ook die houding gehad het: "Doen wat ons predik." Ook jou lewenswandel moes in ooreenstemming met die heersende predikasie wees. Byvoorbeeld geen vrye liefde oftewel voorhuwelikse seks op hierdie kampus nie.

Brink was te beskaafd om ooit oor sy alma mater te skinder. Maar toe hy my in my droom die enigmatiese woorde "Glo my as jy wil" toevoeg, moes ek, miskien nog steeds in 'n droomstaat, aan sy beginjare op Potchefstroom dink. Op dié plek móés jy glo. Die ideale afspringplek dus vir 'n rebel wat slegs wou glo wat hy wil.

'n Bekende mite in die jare vyftig tot sewentig in Suid-Afrika was dat 'n predikantsdogter soms in 'n slet verander die oomblik dat sy na standerd tien uit die pastorie ontsnap. Die dogter se vertrek uit die pastorie is in sulke gevalle 'n stormagtige, niksontsiende sprong uit wat sy móés na wat sy wóú doen. Het Brink 'n soortgelyke sprong uit Potchefstroom gemaak, veral ook as skrywer?

Die voorbeeld van die wulpse predikantsdogter is gepas omdat Brink se verkenning van die seksuele avontuur dikwels verantwoordelik was vir die omstredenheid en verguising wat hom deur sy loopbaan as skrywer agtervolg het. Die Amerikaanse formule "sex is the revolution, the revolution is sex" uit die sestigerjare, het Brink op 'n besondere manier se eie gemaak in sy romans.

Die "sex is the revolution, the revolution is sex"-idee het berus op die opvatting dat elke onkonvensionele seksuele verhouding of gedragswyse neerkom op "civil disobedience" en dus op 'n rewolusionêre gebaar.

Openbare naaklopery, homoseksualiteit, voorhuwelikse seks, al hierdie gedraginge kom neer op 'n aftakeling van wat "moet" in 'n gevestigde samelewing en 'n botviering van wat indiwiduele mense "wil". Seks ontdoen van taboes kan die fondamente van 'n hele politieke orde skud. Hierdie soort rewolusie is so opwindend dat die rewolusie op sigself 'n vorm van seks genoem kan word. Vandaar "the revolution is sex".

Brink se romans wemel van verhoudings wat nie deur die "goegemeente" aanvaar word nie, om sy eie woord te gebruik. Ons ambassadeur in Parys vry op ongeoorloofde manier na die jonge Nicolette. Die drosterslaaf Adam ontferm hom oor die skone Elisabeth Larsson in die sinne-prikkelende wildernis van die 18de eeuse Suid-Afrika.

In die geval van die roman Donkermaan hou 'n ou man sy hande tuis al wil hy graag tas na die lyf van 'n jong meisie. 'n Soort selfdissipline wat Brink se ou minnaars tot in daardie stadium nog nooit aan die dag kon lê nie. Dalk was dit een van die redes waarom Brink uiteindelik die Hertzogprys gegun is.

Seks wat grense oorskry, verskuif daardie grense. Dit is een van die politiek-didaktiese boodskappe wat Brink in sy romans oorgedra het.

Maar moes ons werklik alles glo wat hy skryf? Of was sommige van sy boeke, ernstig en meevoerend soos hulle was, ook geskryf as 'n verleiding, 'n romantiese flirtasie met die leser se gewete en ander gevoelighede?  Moes ons slegs glo as ons wou? En vandaar Brink se woorde in my droom? Wou hy eintlik maar net sê: Onthou om my boeke bowenal te geniet!

Die verleidelike genot van sy skryfkuns, sy gladde tong as taaltowenaar, sy romantisering van die een hermafroditiese nimf na die ander, het van Brink 'n oorskatte maar ook 'n onderskatte skrywer gemaak. Baie lesers kon Brink na 'n boek of ses nie meer lees nie. WF Hermans het gesê 'n mens besef later Brink is nie regtig 'n ernstige skrywer nie. Maar intussen het Brink die enigste waarlik internasionaal-gelese Afrikaanse skrywer geword. En het hy verskillende geslagte van jong Afrikaanse lesers na 'n behoorlike vlak van emansipasie opgehelp.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top