Die Digter, die Keiser, die Paleis

  • 2

“On that day, the Yellow Emperor showed off his palace to the poet. Behind them, in a long descent, they had just left the first western terraces, which –  like the tiers of an almost unimaginable amphitheatre – slope down to a paradise, or garden, whose metal mirrors and interwoven juniper hedges gave a hint of the labyrinth. Lightheartedly, the two men lost themselves in it –  at first as if they were entering into a game but later with a touch of unease, for the straight avenues of the maze suffered a slight but continuous curve and secretly were circles.”

So begin die 1956-kortverhaal “The parable of the palace” van Jorges Luis Borges. ‘n Sonnige keiser neem ‘n digter op ‘n reis om sy paleis te beskou. Gou kom mens egter agter dat die paleis nie ‘n gewone paleis is nie. Benewens tuine, kamers, ondergrondse kerkers, troonkamers en wagtorings, ontbloot die ruimte ‘n hele heelal wat biblioteke, ‘n labirint, selfs riviere, bote en ‘n eiland huisves. Die paleis maak dus oop en sluk die digter en die keiser diep binne ‘n realiteit wat soos ‘n droom lyk, in – ‘n plek wat die hele heelal omvat. Ons verhaal het egter ‘n treurige einde: die digter word ter dood veroordeel omdat hy dit regkry om die paleis in al sy veelsoortigheid en oorvloed – elke oomblik, ligval en gedagte – in ‘n enkele woord vas te vang. “Jy het my van my paleis beroof!” beskuldig die keiser die digter, en die digter se kop word met ‘n enkele swaai morsaf gekap, en die teks wat die hele heelal van daardie paleis omvat het, gaan vir ewig verlore.

Encyclopedic Palace van Marino Auriti, Venesiese Biënnale, 2013

 

Die 55ste Internasionale Biënnale in Venesië wat vanjaar vanaf Junie tot November gehou word, het die tema “Die Ensiklopediese Paleis”. Mens kan nie verhelp om jou af te vra of hierdie manjifieke paleis van die keiser in Borges se bekende verhaal die inspirasie van hierdie tema was nie. Die Venesiese Biënnale is ‘n museum van beelde van die ensiklopedie van die wêreld waarin mens kan verdwaal, met elke beeld, skildery, foto en tekening wat iets van die meervoudigheid van ons wêreld kommunikeer.

Die verhaal het my ook laat dink aan Venesië self: ‘n labirint van verskillende straatjies en stegies, pleine waarin mens kan verdwaal soos ‘n klein stoffie in ‘n reusagtige biblioteek, ‘n grassaad in ‘n doolhof, ‘n digter in ‘n heelal.

Hoe sou mens hierdie stad in ‘n enkele woord omvat? Hoe sal jy jou eie stad in ‘n enkele woord omvat?

Ook die struktuur van die Biënnale self spreek vir my boekdele. Die organisasie van paviljoene waar verskillende lande hulle kuns ten toon stel, weerspieël die organisasie van diverse koloniale ryke. Brittanje, Spanje en Nederland beklee byvoorbeeld sleutelposisies in die Giardini (die mees sentrale en luukse gedeelte). Lande wat nie so belangrik was toe die Biënnale beplan is nie – Irak, Meksiko, Masedonië – het ruimtes vir kuns op versteekte plekke, teen die agternate van die stad, in vergete stegies waar mens maar per toeval beland. So word Venesië tydens die Biënnale ‘n kaart van die wêreld en beeld dit ‘n soort oorlogsveld uit waarin daar om kulturele heerskappy ‘n stryd aangegaan word. Kunstenaars en kurators word ambassadeurs en kunswerke pionne in ‘n politieke magspel. Soos die keiser in ons verhaal wat oor die lot van die digter besluit.

Die gelykenis van die paleis van Borges het my natuurlik ook laat dink aan die menslike begeerte om die hele heelal deur letterkunde, deur kuns, te omvat. Hoe magtig die “woord” van die digter was om die heelal só vas te vang dat dit die essensie van die paleis – maar ook die veelvuldigheid daarvan – kon saamvat. En op só ‘n manier kon saamvat dat dit die keiser van sy eie paleis kon beroof!

Wil jy weet wat op ‘n gewone 24-uur-dag in Venesië aangaan? Elke uur van die dag word in ‘n minuut vasgevang. Kyk gerus:
http://www.cityoneminutes.org/#/venice/0.

 

Bekende romans en kortverhale wat in Venesië afspeel:

Thomas Mann, Death in Venice (1912)

William Shakespeare, Othello (ongeveer 1604); Merchant of Venice (ongeveer 1598)

Ian McEwan, The Comfort of Strangers (1981)

Ernest Hemingway, Across the River and into the Trees (1950)

Kazuo Ishiguro, Die eerste verhaal "Crooner" in Five Stories of Music and Nightfall (2009)

 

 

  • 2

Kommentaar

  • En natuurlik The Wings of the Dove van Henry James (daar is ook 'n knap1997-filmweergawe daarvan met Helena Bonham Carter as Kate - dit het my destyds verlief gemaak op haar) en dan Josef Brodsky se fantastiese boek Watermark.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top