Die wit son syg deur die rookmis.
Die lug drup, dit vroetel ondertoe
na my oë daar onder wat sluimer
diep onder die stad en boontoe kyk
hulle sien die stad van onder: strate, fondamente –
soos lugfoto's van ’n stad in ’n oorlog
heel verkeerd om – ’n mol se foto:
stil vierkante in dowwe kleure.
Daar word besluite geneem. Die dooies se bene
kan nie onderskei word van dié van die lewendes nie.
Die sonlig se volume word verhoog, dit stroom
vliegkajuite en ertjiepeule binne.
Deur Tomas Tranströmer uit ur Stigar, 1973. Vertaal deur De Waal Venter.

