Dame Joan Sutherland (1926–2010)

  • 0

As kind lê ek gereeld met oorfone
op die growwe sitkamermat. (Pa skree
alweer vir stomme Ma in die slaapkamer.)

U is Gilda, u sing vir Rigoletto, die hofnar,
u geliefde vader, van bitter liefdesverraad,
die edelman het u vir ’n ander skoonheid verlaat.

Die kwintet voor die vadermoord sluit
met u bel canto – die desperate noot
verklank my ganse kinderverlede.

Later ontdek ek u, La Stupenda,
die tabberd van Lucia di Lammermoor:
’n banale liefdestoneel uit my jeug
bevestig: waansin en bloed resoneer.

Vandag sak die laaste rooi verhooggordyn.
’n Stil applous, die liefdesverlate maagd verdwyn.
Pa het sý Gilda jare gelede gewelddadig verlaat
– die liefde, o, dis géén opera buffa nie.

Maar deur die ouditoriums – La Scala,
Covent Garden, die Metropolitan,
die Sydney Operaskulp verál – weergalm dit:

hierdie aarde, só donker ’n rusteken vannag.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top