Briewe van die grens 1976-1978: oproepinstruksies

  • 3

Hoe goed onthou ek dit nie. Pa en Ma het van die stad gekom soos elke Vrydag nadat hulle "dorp toe" gegaan het en pos uitgehaal het. Pa het die groot koevert met my nommer, rang en naam na my toe uitgehou – woordeloos. My ouers het my geleer om privaatheid te respekteer deur dit streng toe te pas; ek glo my ouers het geweet wat die inhoud van daardie koevert was, maar as ek terugdink, gehoop dit is nie wat hulle gevrees het nie – hulle kind van twee-en-twintig jaar oud moet grensdiens gaan verrig. Nadat ek my diensplig voltooi het en toe al onderrig was in "grensdiens", moes ek weer gaan. Ek het die koevert oopgeskeur en die instruksies gelees en net gesê: "Pa, Ma, ek moet grens toe gaan."

Ma het omgedraai en huilend gevra:"Maar hoekom nog 'n keer?"

Pa het net in sy stoel gaan sit – woordeloos – en na my gekyk. Ek het die instruksies op die tafel neergesit: wat kon ek tog doen?

Ma en sus San het die hoender wat hulle van die dorp af gebring het in porsies verdeel en op ons borde gesit. Ons het ons hoofde gebuig en Pa het gebid: "Segen Vader, segen ons ete."

Tog snaaks hoe 'n mens die tafelgebed wat jy jare lank oggend, middag en aand gehoor het se woorde kan vergeet soos ek vanaand dit vergeet.

Pa het gevra of die sproeiers (soos ons gepraat het, "die spuite") reg was. My liewe sus San het tussen haar hoender en slaai steeds gesit en huil sonder om te weet waaroor dit gaan. Ek het opgestaan nadat Pa en Ma klaar was en sommer net op die plaas gaan ry.

Skielik het alles vir my so anders gelyk, asof ek dit vir die eerste keer sien: die rooi sooie van die geploegde lande, Andrie en Steven op die trekkers, die reuk van varsgeploegde grond ... tog was dit nie die eerste keer nie, net anders. Met waardering van alles in en op die plaas. Die stilte daar waar ek myself onttrek het om alles net in te neem asof ek dit wil inneem om saam te vat grens toe.

Die aand het ek vir my groenoognooi gaan kuier, soos gewoonlik op 'n Vrydagaand, met die vaste voorneme om niks te sê van die oproepinstruksies nie, net om die tyd voor ek gaan saam met haar te geniet en om die samesyn saam te neem.

Hoe dom van my, want baie gou vra sy my wat is verkeerd, en ek kon nou maar probeer watter kant toe, ek weet nie of vrouens of nooiens 'n soort gevoel of iets het nie, maar hulle wéét! Daar iets anders as gewoonlik.

Boer in Beton

 

 

 

 

  • 3

Kommentaar

  • Ek kan dit nog goed onthou die dag toe ek instruksie gekry het dat ek moet grens toe. Ek het my stert afgskrik 'n paar knertse gaan maak en die saak rustig en berekend aanvaar. Ek moes net oorle ma laat weet ek sal so paar maande nie huis toe kom nie. Ek het net agtien geword. Ek sal lieg as ek sê ek was nie moer bekommerd  nie. Ek het nog 'n meisie ook gehad. Sy het dit soos die Ingelse seg in die stride gevat. Minwetende dat die ekskursie die swanesang van ons geswore liefdesverhouding voortgebring het. Ek het tydens die uitstappie grootmens geword. Dank die Vader daarvoor.

  • Kobus de Klerk

    Julle was ons "hero's".  Ons was tog so trots om 'n ou te kon hê wat in die "army" was.

    Maya

  • jy vat mens ver terug, boer in beton! dankie vir hierdie weer herinner....

    groete uit oesterland

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top