Niks verryk jou herfsjare en verskaf die hart meer plesier as jou herinneringe aan en die oproep van die voer- en vaartuie van jou jeug nie.
En ek dink nou aan karre, lorries, busse, fietse, vliegtuie, kano's, foefieslides en dies meer.
Want as jy bevooreg was om in die era van die ossewa, kapkar, skotskar, spaaider

of vierperdewa groot te word met die smidswinkel as aktiewe besigheid nog welvarend in die sentrum van die dorp gelee, moes jy spoedig daarna soos die jare verby vlieg verlief neem met en die ooggetuie word van die eerste vreemde futuristiese vuurpyle, ruimtetuie en die ondenkbare prestasie van die maanlanding onder leiding van Neil Armstrong asook die latere outomatiese robotlandings op Mars sodat jy nie terugskouend anders kan as om die wisselende en paradoksale taferele van een lewe met verwondering en selfs verslaenheid te herleef nie.
Ja, as seun kan ek oom Koos Lottering se aanspoorrympie vir sy span osse nog duidelik uit die vergetelheid oproep. Sy veertien rooies en bontes en swartes wat hot- of haaragter ingespan is met die klonkie as touleier vooraan wat moet sorg dat die doringhout of boomstompvrag veilig deur Pohlstraat trek, die briekman en die drywer wat sy span osse by die naam en by wyse van 'n herkenbare osgesangeboek as: " Bosrok jou snotneus se snuffelaar of Beskuit jou uitgevrete moerskont", dit vanmore moet ontgeld: "Probeer Meneer net een keer weer lyf wegsteek, en vir Waterman of Donkerman pla dan wys ek Koos vir julle wie's baas op die plaas!"

Met 'n goedige piets van die voorslag en die weerklank van 'n oorverdowende klap van die sweep op die gruis word die teken gegee en die tog begin, en vat die wa die pad vol hoorbare krake en kreune oor die Rooibrug Bedford toe en druk die drywer op die wakis sy laphoed stywer om sy kop om die koue van die herfswind uit sy reeds waterige oë en bakore te weer.
En reeds voor die dagluimier al op die horison deur die wolkemassa gebreek het, was ons kleingoed al deeglik besig om deel te neem aan die karnavalrumoer en piekniek van koffie en boerebeskuit as mister Snyers sy donkies onder die peperboom inspan, die ploeg met eg agteraan vashaak om pa se lande op die oewer van die Koenap vir die someroes van ertappelknewels en voetlange groenmielies meesterlik om te ploeg en die saad versigtig en afgemete op die bestemde plek te plant sodat die vaal omgekeerde sooie hulle vrugbare geur in die lentelug welig kon versprei.
En daar kom my oom Hendrik van Mount Pleasant nou te perd aan om sy skimmelhings vroeg-vroeg af te saal, aan die paal langs die druiweprieel vas te riem en voor die blye begroeting en brekfis die voergerf uit Pa se stoor eiehandig in die krip uit te sprei voor hy soos die rottevanger van Hameln die familie se kleinvolk met trippense en die grotes met daalders en halfkrone bederf en uit hul huise en pondokke na die winkels vir bulls eyes en Wilson se toffies of roomys weg te lok.
Voordat ek oud genoeg was om 'n lisensie te kry en op sestien as bankklerk vir my 'n eerste motor genoeg gespaar gekry het, was karre as voorste strydpunt al in die mode en was die kwajongens van ons kontrei al diep betrokke by die politiek van wat die beste motorfabrikaat was. Daar was hoofsaaklik drie "partye" wat Ford, Plymouth of Chevrolet se belange verteenwoordig het. En die politieke venyn het by sommige jongeliede van vooraanstaande families soms so hoog geloop dat die pragtige ingelegde fabrikaat embleme voor op die kap of aan die rooster van opponente se 1947 of nuwer modelle gewetenloos en gewelddadig met 'n knipmes en skroewedraaier uit die houer verwyder is.
Manne wie se pa's nie motors gehad het nie en nog met Spaaiders of Skotskarre skool toe gebring is na naweke op die plaas is nie toegelaat om aan die karpolitiek deel te neem nie of is met 'n kluitjie in die riet gestuur met die waarskuwing en verbod dat hulle pa's se DEUCH Spoorwegbusse of Munisipale Nagwaens hulle nie vir die debat gekwalifiseer het nie.
Twee karre is nou nog tot in die fynste herinnering in my geheue ingegraveer: Oom Groot Antoon Lombard van Fontein se La Salle wat sonder kompetisie of amptelike sanksie buite die linkervleuel van die N G Kerk al die jare die bevoorregte koelte- en skadustaanplek beset het. Daarnaas die meer opwindende en romantiese roetine en standplaas van mister McLeod, die meulenaar, se 1928 Fordjie wat soos die fiets in Van Wyk Louw se Karoodorp: Someraand, as 't ware vanself elke middag om vyf uur voor die kantien van die Adelaide Hotel stilgehou en daar tot middernag bly staan het.

Mister Mac se kar
My pa het na 10 jaar sy goedopgepaste 1937 liggroen Ford V8 met 24 000 myl op die meter by oom Johnnie Kruger se Fordlaide Garage op 'n splinternuwe 1947 model ingeruil en hy en al vyf sy afwagtende seuns met Tollie as gaspassasier het die voertuig met my oom Frans se 1938 Chrysler Royal by die fabriek in Port Elizabeth nogal
seremonieel in ontvangs gaan neem:

Dit was egter vir ons as kinders 'n skok en tragedie toe ons plaaslike polisiesersant na slegs twee weke vir pa kom vra het om ons nuwe maroen motor te leen Baai toe want sy jongste seuntjie met maagkoors se toestand het kritiek geraak en het hy die Blou Sondag met die ou pad via Bedford, Carlisle Brug en Grahamstad Baai toe gejaag maar verniet want die pasiëntjie het halfpad reeds op die agterste sitplek aan die koors beswyk.
En daar was die volksetimologiese woordspel van die man wat nou al die karre probeer het: 'n stoot-die-bogger (Studebaker), 'n Hudson-terrible-plane (Hudson Terraplane) en laastens die Vauxhall wat hom met Fock-all gelaat het.
Ekself het op sestien in 1953 met my spaargeld uit 'n salaris van £27.1.8 as bankklerk my eerste motor gekoop, naamlik my oom Frans se reeds genoemde pikswart en deftige 1939 Chrysler Royal wat die skatryk ant Hannie van de Vyver van Kowenburg uit Amerika ingevoer het. Dis uit die boedel met inagneming van familie-verwantskap aan my oom verkoop en wat ek op my beurt vir £190 as winskoop by hom oorgeneem het, met – mind you – al sy toebehore: die wielkettings en -plate asook ivoorhandvatsels, akkerhoutpanele, glansende stuurwielring met die Chrysler embleem en leerbekleedsels nog in perfekte toestand.

Maar dit was met die dwaasheid van die jeug dat ek na twee weke die klassieke unieke model in muntkondisie vir £60 wins aan Francois Coetzee van Allemanskraal verkoop het.
My interessantste eie voertuig was 'n geel 1931 De Soto convertible wat lank in Bosch Broers se werkswinkel gestaan het totdat ek dit as klassieke kosbaarheid in 1956 ontdek en in vennootskap met broer Wessel van "Captain" Harwich vir £25 gekoop, 'n battery onder die kap vasgegespe en gekonnekteer het, vyf gelling petrol in die tenk met 'n kan en tregter ingegooi, die elektriese smoorklep aangesit, die aansitter of "selfstarter" gedruk het en met die luidrugtige maar gesonde gedreun van die viersilinder-enjin vir Ma kon gaan oplaai vir 'n heen en weertjie tot by Primeston en terug.
.jpg)
Dit was egter in 1948 dat oom Eric Pringle se seun Merrick by die gholfklub se bruggie die pad na 'n rugbywedstryd en onthaal byster geraak het en hy uit die bruin Chev-bakkie geslinger is en beswyk het.
In ligter luim word dit vertel dat oom Hendrik Greeff as bestuurder van die spoorwegbus Winterberg toe met die terugkeer al sy bestuurderskunsies in werking moes stel toe die voertuig se remme gefaal en hy op hoë spoed die draaie en swaaie van Bosnek tot onder met bloedsweet en baie geluk kon oorleef.
In 1956 het broer Piet na onverwagte sukses op die aandelemark met sy Merriespruit goudaandele die motor met die mooiste vaartbelynde vorm en voorkoms met sy byderwetse tweekleur-ontwerp by die Service Station bestel en vir maande was hy en sy kar in die dorp se positiewe en naywerige kollig en het dan ook bruidskar gedien vir my vrou Adelai se huwelik.

.jpg)
Ek en my vrou Adelai is in 1957 getroud en het ons nuwe lewe in Pretoria met ’n Consul aangepak:
.jpg)
Voordat my oom Frans die Chrysler Royal gekoop het, het hy toe nog as oujongkêrel in die motorhuis van die woning op die hoek van Marais- en Pohlstraat na werk dit sy stiptelike plig geag om al die bestuurskunsies onder die knie te kry.

Sy susterskind Steve is toegelaat om op die agterste sitplek doodstil by die bestuursoefeninge teenwoordig te wees. Oom Frans het sy aksies met die nodige mondelinge instruksies wat hy hardop uit 'n ou handleiding van die 1934 Plymouth gekry het, begelei: Hy het begin deur die rathefboom 'n paar keer horisontaal van links na regs te beweeg terwyl hy in 'n halwe sangtoon die versie voordra: "neutraal, neutraal, neutraal!"
"Trap nou die koppelaar diep genoeg in, die clutch, die clutch en dis die eerste rat, low gear!" los die koppelaar en gee stadig petrol deur geleidelik die pedaal geleidelik en reëlmatig dieper in te trap.
Vat jou voet nou weg van die pedaal, trap die koppelaar in en beweeg die hefboom af tot onder. Vat jou voet weg en plaas dit op die petrolpedaal en ry nou in tweede!
So het hy dan die oefeninge herhaal tot dit tweede natuur geword het en het hy Ouma Kate die Sondagmôre na kerk verwittig dat hy haar die middag Bosnek toe sou vat vir 'n uitvluggie. En ek ry saam en gedra my so stil soos 'n muis.
Min het hy egter geweet en besef dat die son teen 5 uur enige moontlikheid van sig totaal verhinder het. En om die eerste draai ver oorkant oom Louw Roux se opstal ry sy linkervoorwiel toe ondanks sy lae spoed en die sonskerm se posisie 'n ysterklip langs die pad raak.
Vir Ouma se onthalwe probeer oom Frans kalm bly, hy stuur 'n boodskap om Pa te laat weet en die daag 'n uur later teen skemer op, sprak g'n woord, kyk of hy die noodwiel sal kan aansit, doen dit dan ook en reverse die kar agteruit tot in die pad. Maar hy kyk oom Frans toe vierkant in die oë en sê op die Ouboettrant: "Maar my magtig Frans! Hier lê net een klip langs die pad en dis nou jy wat die klip uitkies om raak te ry!"
En dit was toe die klimaks want oom Frans blaas sy gesig soos 'n rooi ballon op, laat hygend "hiiiiiii" hoor en klim die klipheuweltjie met mening tot bo en sit toe daar tot die son en sy luim gesak het.
Net ouma Kate het by die huis opgemerk dat Wessel nie die reg het om vir Frans soos 'n stout seuntjie te behandel nie!
Ek het in 1991 ‘n Mercedes Benz 220 S vir R1900 gekoop en moes as
gevolg van my verhuising na ‘n aftree-oord dit verkoop in 2012:

Ek het ook in 1993 ‘n Carman Ghia in George gekoop en die storie van sy
verdwyning van die toneel is te lank vir hierdie artikel:



Kommentaar
Ai, my skoonpa wat so 3 weke gelede oorlede is sou nou hierdie artikel baie waardeer het. Skoonma het altyd gesê sy karre is so mooi skoon jy kan daarop eet. Natuurlik het hy ook karre gewissel soos tande. Namens die karliefhebbers sê ek dankie vir jou brief en pragfotos.