Tussen die munisipaliteit en die Serengeti

  • 0

“Meneer, jy kan maar opskuif, die stoele is oop. Anners raak die stoele aan die einde van die lyn op.”

Ek staan toe maar op en skuif my agterstewe so amper al gebukkend na die volgende stoel, een stoel nader aan die voorkant van die stoeletrein wat geduldig van voor die navraetoonbank se glashokkies af, tot amper by die deur uit wegvleg. Nie gemakstoele nie, nee, daai ou gekraakte houtsitplek-staalstoele wat altyd in die stadsaal was.

In die kontant- en algemene navrae-saal van die ou Parow-munisipaliteit sit ek saam met ’n lang lyn medeburgers my beurt en afwag. ’n Beurt om tot by een van die twee venstershokkies te vorder en ons munisipale sake te bespreek. Byna elkeen van die ongeveer 13 manne en vrouens in die lyn, of altans so lyk dit vir my, het ’n appeltjie of in sommige gevalle ’n appelkar met die sondige staatsamptenare te skil. Twee stoele voor my sit ’n klein ou oompie. Hy is brandmaer en sy tandelose kakebeen bewe en klak meedoënloos soos hy die rimse kasty. In sy een hand is ’n opgerolde munisipale rekening en in die ander, sy sakdoek. Toe die rekenaarstem hom na toonbank 2 roep, het hy egter opgestaan soos ’n vegter met vlees aan sy bene en murg in sy pype. Sy openingsrede aan die stoere vensterbewoner aan die ander kant van die toonbank was net: “ This account is still wrong – please sort it out!”

Die gryskop antie wat sopas gevra het dat ek opskuif, is saam met haar vriendin by die “council” vanoggend. Hulle eens mooi jongmeisie okkerneutgelaat is kol-kol sonverblyk en die hangerige gesig- en nekvel lyk soos waterverweerde verspoelings by ’n riviermonding. In haar bruin oë omsingel ’n grys rand haar pupil en die kommersakke onder haar oë vertel van baie jare se harde werk en min goedgaandae.

Sy begin my te vertel van die onnodige rente wat die “council” van haar eis. Sy het die R200 by die supermark betaal en die vrou daar het gesê dit vat tot drie dae voor die “council” dit op hulle “system” sien. Daardie klompie drie dae se rente van die twee laaste maande het nou al amper R25 geword en nou soek sy dit terug. “Hulle makie reg nie meneer. Weet meneer, met daai geld betaal ek die kind se “taxi fare” in die oggend.”

Sy sê sy het nie elke dag tyd om hier te kom sit nie. So al om die ander dag, moet sy “char-werk” doen. “Meneer sien, ek is soms die einste een wat werk in die huis. Die ander wil nie werk nie.”
Terwyl ek na haar luister en so op-en-af teen die stoeletrein sit en staar, is dit opvallend hoeveel van hierdie mense so ongelooflik moeg lyk. Hulle oë sit net daar in die skedel; dit lewe grys en kyk nie meer veel rond nie. Meeste van hulle het al lank terug ophou steun en kla om weer in ’n ry te kom sit en wag, nou sit hulle maar. “Miskien sal die “council” vandag my pleit verstaan.”

Die ander dag het ons bouplanne by hierdie kantoor ingedien. Bouplanne wat nodig is om die duisende wat ons reeds as huur by ’n gebou ontvang, met nog ’n klompie op te stoot deur slegs ’n paar mure so ‘n bietjie te verander. Vandag gaan ons egter aansoek doen om voorafbetaalmeters te laat insit. Sodat die sukkellende huurders nie ons kopseer raak wanneer hulle nie die kragvoorsiening kan betaal nie.

Dit is nou maar die verloop van die dag se dinge. Hier sit ek, die vetgevoerde slaaf van ’n ander, te midde van die vergete vermaarde eenvoudige burgers van die Kaap. Mense wat by verstek binne die grense van kleur, klas en ras vasgevang was en steeds daar sit. Mense vir wie die “stelsel” lankal te vyandig geword het en mense wat eintlik in ons sogenaamde nuwe samelewing, vergete geraak het.

“Julle moet daar agter in die ry inval,” gil die sekuriteitswag, ook veilig in sy glashok vir ’n verdwaalde enetjie wat duidelik nie die weë van die navraagtoonbank ken nie.
“Mens praat nie so met jou mense nie,” dink ek hardop terwyl die antie-buurvrou langs my haar gekreukelde aanmaningsbriewe en rekeninge uit haar gelapte handsak uitvroetel.

Toe is dit my beurt en met my netjies versorgde voorkoms, ontwerpersdokumentetas en slimfoon, stap ek nader na die glimlaggende mollige meisie agter die toonbank. Sy weet hierdie is lekker maklike besigheid, nie ’n gekla van ou mense sonder geld en tande nie.

Op pad terug na die motor toe, hou ek my asemteug op terwyl ek deur die munisipale tuin stap wat plek-plek aan ’n urine-fontein herinner en waar die gras so lank is, dat peuters hier verlore sal raak. Die eens trotse bastion van die dorp en van die dorpsvaders, lyk soos ’n Serengeti- landskap waar leeus en bokke mekaar kan vermaak en teister.

Dieselfde dorpsvaders wie se koffers al die jare deur die eenvoudige mense vol gehou was, het die lewe geskenk aan die sogenaamde nuwerwetse stadsleiers wat die besoekers aan hul kantore met net so min respek behandel, soos wat hulself enige agting vir hul omgewing het.

Ek hoop maar die antie het haar twintig-plus rand teruggekry en ek hoop die oompie se rekening is nou “uitgesort”...

En ek hoop die tandemuis loop Vader Krismis by die drie bere se huis raak en ek hoop Liewe Heksie onthou haar towerwoorde ...

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top