Vanoggend, na twee dae van stormweer soos net die Kaapse winter dit kan doen, kyk ek uit oor die see en sien 'n reënboog in die suidweste.
Dit beteken natuurlik die son is in die noordooste, en wel presies op die as van die reënboog: 'n denkbeeldige lyn deur die middelpunt van die reënboog en die waarnemer (dis nou ek). Verder, die lyn tussen my en enige punt op die reënboog maak 'n hoek van 42° met die as (dis hoekom alle reënboë ewe krom is) en daardie hoek kan bereken word deur aan te neem dat reëndruppels sferies is, mits jy die brekingsindeks van lig deur water ken.
Die kleure van die reënboog ontstaan omdat wit lig in werklikheid ’n mengsel van verskillende kleure is, en die brekingsindeks waarvan ek netnou gepraat het, is eintlik net 'n gemiddelde waarde. Dis nie presies dieselfde vir elke kleur nie. Elke kleur se golflengte is verskillend, en vir 'n gegewe golflengte kan jy uitwerk watter afwyking vanaf die gemiddeld by daardie golflengte sal voorkom. Dis hoekom alle reënboë ewe breed lyk.
En wie moet ek bedank vir hierdie insigte? Newton. Isaac Newton. 'n Eksentrieke Brit wat jare van sy lewe daaraan gewy het om te probeer vasstel of 'n mens nie dalk tog goud uit lood kan maak nie. Sy kennis van goud, en hoe onvervalsbaar dit is, het later nuttig te pas gekom toe hy aangestel is om die Koninklike Munt te bestuur. En sy beheptheid met alchemie en okkulte teorieë het hom ontvanklik gemaak vir die konsepte van onvoelbare deeltjies wat as lig manifesteer en onsigbare kragte wat oor groot afstande werk.
Voor Newton was reënboë wonderbaarlik. Religieë het dit opgeëis.
As die boog dan in die wolke staan, sal Ek dit aansien om gedagtig te wees aan die ewige verbond tussen God en al die lewende wesens in alle vlees wat op die aarde is. — Gen 9:16
En songlorie, 'n soortgelyke maar seldsamer verskynsel, staan in China as Boeddha se Lig bekend.
Is reënboë na Newton nou minder wonderbaarlik? Maak die feit dat ons 'n antwoord op "Hoe verklaar jy dit?" kan gee, dat wetenskap nou die plek van verwondering kan inneem?
Ek praat van "verwondering" vir daardie oortuiging wat ek soms kry dat ons heelal ten diepste onverklaarbaar is, dat al kan ek 'n reënboog verklaar met behulp van sferiese waterdruppeltjies, en daardie sfere met behulp van oppervlakspanning, en oppervlakspanning met behulp van aantrekking tussen molekules, en molekules met behulp van atome, en atome met behulp van subatomiese partikels en basiese kragte, en partikels en kragte in terme van snaarteorie en die oerknal — al kan ek dit alles doen — dan kom ek steeds by 'n punt uit waar "Hoe verklaar jy dit?" stop. Daar is die enigste antwoord wat oorbly: "Want dit is soos dit is."
En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. — Eks 2:14
Ek praat van "verwondering", want nie een van "religie", "godsdiens", "geloof" of "teologie" kan dit beskryf nie. "Mistiek" is nader, maar daardie woord gaan te veel verder.
Daardie soort verwondering staan nie in stryd met wetenskap of religie nie.
'n Religie, oud of nuut, wat die grootsheid van die heelal soos deur die moderne wetenskap onthul, beklemtoon, sou bronne van verering en ontsag kon ontsluit wat skaars deur konvensionele gelowe getap word. Vroeër of later sal so 'n geloof ontstaan. — Carl Sagan
Die fundamentele verskil tussen wetenskap en religie is dat wetenskap gaan oor voorspelbaarheid en herhaalbaarheid, terwyl religie gaan oor eenmaligheid. As daar nie Newton was nie, sou Laplace en Gauss heelwat verder terug moes begin, maar ons sou steeds kalkulus, swaartekrag en optika gehad het. As daar nie Boeddha of Jesus of Mohammed was nie, sou daar bes moontlik ander wêreldreligieë gewees het, maar dan wel ondenkbaar anders.
Daar is 'n siening onder enkele wetenskapfilosowe soos Richard Dawkins, en onder 'n groter aantal mense wat bloot die klok van die wetenskaphoor lui het, dat die eenmaligheid van religieë hulle ipso facto ongeldig maak. Mense met hierdie siening is lief daarvoor om veral Christen-fundamentaliste aan te vat, wat lei tot periodieke polemieke in ons pers, waarin deur albei kante 'n strooipop-karikatuur van die ander siening met woordryke irrelevansie vanuit 'n standpunt van stiksienige benepenheid afgemaak word.
Ware wetenskaplikes, in teenstelling met sekere wetenskapjoernaliste en -filosowe, verwerp nie verwondering nie, en verhef nie die wetenskap tot nog 'n religie nie.
Vir myself lyk ek maar net soos 'n seuntjie wat op die strand speel en myself besig hou deur nou en dan 'n gladder klippie of mooier skulpie as die gewones te kry, terwyl die groot oseaan van waarheid heeltemal onontdek voor my lê. — Isaac Newton
Hulle erken ook dat die wetenskap slegs die mens se poging is om die wêreld om hom te begryp.
Die wette van die natuur, soos ons hulle verstaan, is die grondslag van ons kennis wat natuurlike dinge betref. — Michael Faraday
Hulle probleem met die religieë van die wêreld is nie dat daar te veel verwondering in is nie, maar te min.
Die wetenskap het religie ver verbygegaan wat die lewer van verwondering betref. Hoe is dit dat skaars enige groot religie na die wetenskap gekyk het en bevind het: "Dis beter as wat ons gedink het! Die heelal is veel groter as wat ons profete gesê het, grootser, subtieler, meer elegant. God moet selfs groter wees as wat ons kon droom!" In plaas daarvan sê hulle: "Nee, nee, nee! My god is 'n klein godjie, en ek wil hê hy moet so bly." — Carl Sagan
Solank as wat die element van verwondering in sowel 'n mens se siening van die wetenskap as in jou geloof voorop staan, solank as wat nederigheid jou by albei weerhou van aansprake op absolute sekerheid, hoef die twee maniere om na dinge te kyk nie teenstrydig te wees nie.
Dirk Laurie


Kommentaar
Beste Dirk Laurie,
Wat 'n wonderlike lafenis!
Laat my asseblief toe om net enkele aanhalings daaruit met my absolute oorgawe daarin, te beaam:
(begin van aanhalings)
Daar is 'n siening onder enkele wetenskap filosowe soos Richard Dawkins, en onder 'n groter aantal mense wat bloot die klok van die wetenskap hoor lui het, dat die eenmaligheid van religieë hulle ipso facto ongeldig maak. Mense met hierdie siening is lief daarvoor om veral Christen-fundamentaliste aan te vat, wat lei tot periodieke polemieke in ons pers, waarin deur albei kante 'n strooipop-karikatuur van die ander siening met woordryke irrelevansie vanuit 'n standpunt van stiksienige benepenheid afgemaak word.
...
Die wetenskap het religie ver verbygegaan wat die lewer van verwondering betref. Hoe is dit dat skaars enige groot religie na die wetenskap gekyk het en bevind het: "Dis beter as wat ons gedink het! Die heelal is veel groter as wat ons profete gesê het, grootser, subtieler, meer elegant. God moet selfs groter wees as wat ons kon droom!" In plaas daarvan sê hulle: "Nee, nee, nee! My god is 'n klein godjie, en ek wil hê hy moet so bly." — Carl Sagan
Solank as wat die element van verwondering in sowel 'n mens se siening van die wetenskap as in jou geloof voorop staan, solank as wat nederigheid jou by albei weerhou van aansprake op absolute sekerheid, hoef die twee maniere om na dinge te kyk nie teenstrydig te wees nie.
(einde van aanhalings)
Namaste!
Nederige groete,
Cornelius Henn
Dirk,
Sjoe, goed gestel! Ek stem, daar hoef nie teenstrydighede tussen wetenskap en geloof te wees nie. Inteendeel ondersteun en verbreed die een die ander. Soos 'n leer-van-kennis wat opgeklim word - na Bo in verwondering. Maw - wetenskaplikes het nog baie werk, die heelal is 'n myn ongegin. En ek dink ons agterkleinkinders gaan nog vir die wetenskap van vandag lag. Daar kom groot ontdekkings! en verwondering gaan verdiep.
Trienie
Dankie vir `n weldeurdagte en inspirerende stuk, Dirk.
Ek het onlangs The Age of Reason (1794 – 1807) deur Thomas Paine gelees, waarin `n deïstiese benadering tot religie sterk na vore kom. Hoewel deïsme nie destyds `n nuwe denkrigting was nie, het die algemene beskikbaarheid van die boek die konsep wyer aanhang besorg. Dit behels om op rede eerder as beweerde openbaringe staat te maak in religie. Paine het dit ook teen misterie, beweerde wonderwerke en profesieë. Hy verwerp Die Bybel as die woord van God op grond van talle teenstrydighede, die twyfelagtige oorsprong van baie Bybelboeke en lawwe inhoud. Verhale soos dié van Jona en die vis word as pueriel uitgewys en selfs godslasterlik genoem omdat dit so belaglik is en moontlik selfs as `n parodie ontstaan het.
Paine se siening is dat ons die skepper van die heelal slegs kan verstaan deur sy skepping te bestudeer. Hy noem dan ook die skepping “Die woord van God”. Hierdie vertrekpunt plaas outomaties die meegaande religie en die wetenskap in perfekte harmonie.
Wanneer ons ons verwonder aan die natuur, ondermyn wetenskap glad nie daardie ontsag nie; dit help eerder om die kompleksiteit daarvan meer te waardeer. Persoonlik voel ek dat ek hierdie verwondering ten volle kan ervaar en waardeer sonder om dit aan `n skepper toe te skryf, maar aanvaar dat dit by ander `n leemte mag laat.
Pragtige stuk Dirk! Ek dink dat verwondering die dryfveer is vir alle goeie navorsing. Kan jy my asseblief 'n verwysing gee vir daai laaste aanhaling van Sagan?
Leon: as jy 'n hele reënerige naweek tot jou beskikking het, besoek Science Quotations Index (http://todayinsci.com/Quotations). Foute in die vertalings is my skuld, behalwe dié uit die Bybel: hulle kom uit die 1953-vertaling soos te vinde op BibleDatabase (http://bibledatabase.org/).
Applous! Wat 'n lekkerleesstuk en nie een aanhaling in Engels nie!
Net 'n vragie: Die 42 grade tussen die as en enige punt op die reënboog (vanaf die waarnemer), is die 'enige punt' op die middelband van die reeks konsentrise kleurbande? Ek neem so aan.
En wat van 'n dubbelreënboog? Partymaal is daar mos 'n dowwer reënboog bokant (met ander woorde 'om') die reënboog. Die hoek ten opsigte van hierdie groter reënboog moet dan stomper as 42 grade wees en hoe is dit te verklaar aan die hand van die druppeltjiegrootte?
Dirk, dankie. Soos jy al moes agtergekom het, het almal groot waardering vir jou waardevolle bydrae.
Wil jou ook vertel van 'n besondere reënboog. Bo-op die berg by Gordonsbaai is daar 'n baie groot opgaardam wat help om die Kaap se watervoorraad aan te vul. As daar 'n sterk wind uit die ooste kom gebeur dit (uitsonderlik) dat die dam “reën” oor die dorp veroorsaak sonder dat daar noodwendig wolke in die lug is. Hierdie ongewone “reën” kan meebring dat die pragtigste reënboog wat 'n mens jou kan voorstel, verskyn. George
Hello,
Beste Dirk,
Ek het jou skrywe baie geniet en ek stem saam, dit is hoog tyd dat iemand dit skryf. Ek wou al so ‘n poging aanwend maar ek is bly ek het nie aangesien jy dit baie beter gestel het as wat ek sou kon. Jy is reg, die felste kritici van geloof en die wat die meeste aanspraak maak op absolute wetenskap kennis gewoonlik nie wetenskaplikes is nie maar het dit net lank genoeg bestudeer het om die “jargon” op te tel.
Dit het my opgeval dat op LitNet en in die pers, bv op News24, elke nou en dan 'n debat ontplof wat baie vining baie onaangenaam raak. Aan die een kant staan die fundamentalistiese gelowiges wat in die mees ekstreme gevalle glo dat die bybel histories feitlik korrek is. Adam en Eva was die eerste mense op aarde en die aarde is so 6000 jaar gelede geskape. Aan die anderkant van die argument staan die ateïstiese fundamentaliste wat glo dat alle gelowiges glo die bybel letterlik en as hulle dit verkeerd kan bewys deur wetenskap te gebruik dan het hullle bewys dat jy glo in strooi en dat geloof dan nutteloos. In ekstreme gevalle wil hulle selfs hê dat geloof moet verban word. Dit is ook vir my duidelik dat die argumente tussen die twee pole nie regtig iets bereik nie. Ek glo daar is ruimte tussen die twee pole vir sinvolle debat.
Hier is twee aanhalings van aansluit by wat jy skryf, die een is van een van my gunsteling-wetenskaplikes, nl Richard Feynmann,
“Western civilization, it seems to me, stands by two great heritages. One is the scientific spirit of adventure — the adventure into the unknown, an unknown which must be recognized as being unknown in order to be explored; the demand that the unanswerable mysteries of the universe remain unanswered; the attitude that all is uncertain; to summarize it — the humility of the intellect. The other great heritage is Christian ethics — the basis of action on love, the brotherhood of all men, the value of the individual — the humility of the spirit” Richard Feynmann
Ek hou veral van sy “humility of the intellect and the humility of the spirit” dit ontbreek volgens myl in die debatte waarna ek hiebo verwys het.
Die ander aanhaling is nogal van Richard Dawkins. ‘n Debat tussen hom en Francis Collins is in Time Magazine gepubliseer so ‘n paar jaar gelede. Collins het op daardie stadium staan aan die hoof van die VSA se Nasionale Human Genome Projek gestaan, ‘n span van 2400 wetenskaplikes. Hy was ‘n ateïs en het op ouderdom van 27 ‘n Christen geword. Dit debat tussen die twee is interessant maar vir my die interessantste was Dawkins se laaste bydrae to die debat, ‘n stelling waarmee ek saamstem en wat aansluit by jou aanhaling van Carl Sagan:
“If there is a God, it's going to be a whole lot bigger and a whole lot more incomprehensible than anything that any theologian of any religion has ever proposed”
Richard Dawkins
Hello,
Ek gebruik die woord "fundamentalis" om iemand te beskryf wie se redenasies gebaseer is op 'n fondament, dit wil sê 'n onskuifbare basis, 'n ononderhandelbare standpunt. So iemand is nie daarop uit om ander deur redenasie te oortuig nie, en is self ook nie oop vir oortuiging nie. 'n Debat is nie moontlik nie, net 'n onderlinge slegsêery.
Ek is nie daarop uit om spesifiek Christen-fundamentaliste te teiken nie. Fundamentaliste kom oral voor waar mense oor 'n saak verskil: daar is fundamentalistiese gelowiges van watter geloof ook al, fundamentalistiese politici, en ja, ook fundamentalistiese wetenskaplikes.
Die doel van my artikel was om verwondering as gemeenskaplike grond vir nie-fundamentalistiese gelowiges en wetenskaplikes uit te wys en aan te prys. Ek verwag nie om enige fundamentaliste tot my standpunt oor te haal nie: dit is per definisie onmoontlik.
Ek word aangekla dat ek nie substansieer nie, waarmee vermoedelik bedoel word dat ek nie tipiese standpunte van fundamentaliste weergee nie. Goed, dan; ek beskou die volgende standpunt as fundamentalisties:
"Die ou letterlike Bybelvertaling waarmee ek grootgeword het, is korrek; alle latere vertalings wat daarmee in stryd is, is deur die duiwel geïnspireer."
Ek lê nie hierdie woorde in enigeen se mond nie; dis gebaseer op 'n prominente Internet-artikel met die titel "The Damnable English Standard Version." Die betrokke webblad stel dit só: "The ESV is just another attempt of Satan to malign and twist the Word of God into a lie."
Sulke fundamentaliste verwerp ook die Afrikaanse vertaling van 1983, want bv 1 Joh 5:7 word na 'n voetnota weggeskuif. Die feit dat daar geen manuskrip van voor die 10de eeu is waarin die vers voorkom nie, en dat selfs in daardie manuskrip die woorde nie in die hoofteks staan nie, maar in die kantlyn ingeskryf is, word as niksseggend van die tafel gevee. Wanneer hulle in sulke sterk terme teen ernstige en toegewyde medegelowiges uitvaar, hoe kan 'n mens hulle as enigsins oopkop ervaar?
Dirk Laurie
Beste Dirk,
My jare se ervaring met fundamentaliste wat hulself as "ware gelowiges" en "ware ongelowiges" onderskei, beaam ek elke woord in jou kommentaar hierbo - ook die uiteindelike belediging as enigste gevolg op logika en rede wat 'n mens met sulke Bybelaanbidders, asook ewe fundamentele ateïste voer.
Die verwondering op gemeenskaplike grond saam met nie-fundamentalistiese gelowiges en wetenskaplikes wat jy in jou bydrae deel, is gewis lofwaardig!
Nogmaals dankie.
Ek hoop jy bring nog sulke lafenis op die werf.
Namaste!
Hindoe-, Moslem-, Joodse, Boeddhistiese, katolieke en Afrikaliefde,
Cornelius Henn
Dirk Laurie se kommentaar is in reaksie op Kobus de Klerk se onderstaande kommentaar wat weens tegniese probleme verlore gegaan het - Webvoet
Dirk Laurie se artikel is baie goed geskrywe, behalwe dat hy ook die term 'fundamentaliste' ten aansien van sekere gelowiges gebruik en dit dan net daar laat sonder om te sê wat hy daarmee bedoel of wat dan van hulle 'fundamentaliste' maak. Hy skel dus (algar van hulle gebruik die woord 'fundamentaliste' as 'n skelwoord), maar is nie bereid om te substansieer nie.
lrb skrywe dat die 'debat' hier op LitNet en elders gaan oor dieselfde 'fundamentaliste', maar hy gooi dit weer beide kante toe. Hy hou van die grys area, die niemandsland, waar jy ruimte het om heen en weer weg te spring sodat jy net nie hoef standpunt in te neem en dalk in onguns sal verval, nie. Hy doen egter die moeite om so effe te laat deurskemer wat hy met die skelnaam bedoel - in die geval van gelowiges, dat hulle glo die aarde is net 6000 jaar oud. Maar ek is van net een deelnemer bewus hier op SêNet wat 'n tyd gelede so 'n standpunt ingeneem het met verwysing na jare soos ons dit vandag ken en verstaan bestaande uit 365 24-uur dae, terwyl diegene wie gereeld deelneem, dit nog nooit gesê het nie.
Ek dink die fout wat die koor wat met Laurie saamsing hierbo maak - en dit sluit Laurie ook in - is dat hulle oopkop bepleit vir die wetenskap, maar wanneer dit by die Bybel, die Woord kom, dan is hulle algar soos perde met oogklappe aan, vandaar hulle aanmerkings wat stry met wat in die Bybel, die Woord, opgeteken is. Vandaar dat hulle dit ook nie verstaan nie. Hulle sal dan eerder 'n God wil voorstel wat so onbegrypbaar en onpeilbaar is dat hulle nie moeite hoef te doen om Hom te leer ken, nie - dit, terwyl HY, God, die moeite nie ontsien het nie om talle mense te inspireer om Sy Woord kernagtig saam te vat oor die bestek van ongeveer 1300 bladsye enkelspasiëring fyndruk, en oor die bestek van bykans net soveel jare, waarin Hy Homself juis wil bekendstel aan algar, nie.
As hulle maar bereid was om so oopkop met die Woord om te gaan soos wat hulle bereid is om met die wetenskap om te gaan, sou hulle besef dat hulle die Woord, soos in die Bybel opgeteken, 'n baie groot onguns aandoen en daarom verkeerd verstaan.
Waarom is dit dat sekere mense - sommige waarvan sê dat hulle ook gelowiges is - dink dat wanneer dit by die Bybel kom, dan moet jy noodwendig bekrompe wees in jou siening en benadering? Dit is so strydig met wat die Woord werklik van ons verlang.
Kobus de Klerk
"Kobus de Klerk se verlore kommentaar" ... hel, wie't iets gemis? ...
Hello Dirk,
My Gr 1 seun moet 'n redenaars praatjie hê oor "wonder", "kaalvoet" of "fees". Hy hou baie van reenboë en ek het gedink dis 'n goeie idee om oor die "wonder van 'n reënboog" te praat. Ek wil dus vra of ek u as bron mag gebruik saam met die Bybel en miskien Carike Keuzenkamp se "Bybelland" DVD. Ons moet 3 bronne noem en staaf in ons 3-4 minute praatjie.
Ek hoop om spoedig van u te hoor.