Onlangs skryf K De Klerk (14 deser) hier min of meer ter regverdiging van die Charlie Hebdo-slagting in Frankryk, omdat, soos hy dit stel, “die koerant die spot gedryf het met 'n Islamitiese ikoon.”
Eers sê hy …”wat die drie Islamitiese ekstremiste gedoen het, is verwerplik en absoluut onregverdigbaar…”, maar dan regverdig hy die moordenaars se optrede met ‘n rits verskonings bv…” Die Charlie Hebdo joernaliste het onder die waan en dekmantel van demokrasie die ekstremiste met woord-geweld bygeloop en (vanuit die ekstremiste se oogpunt gesien) 'n verskriklike hou toegedien. Ongevraagd en antagonisties en uiters ekstremisties in die naam van sogenaamde vryheid van uitdrukking en hulle soort venynige demokrasie...”
George B, in sy kommentaar op dié skrywe, doen presies dieselfde. Hy veroordeel die moord op onskuldige burgerlikes en dan voeg hy ook ‘n “ja maar” by. Moslems se gevoelens moet in ag geneem word, sê hy. En dan die volgende ivm die Charlie spotprente: “Ek walg as ek daarna kyk, of dit nou die Pous, Mohamed of die Goddelike Drie-eenheid uitbeeld."
Beide De Klerk en George B vind dus regverdiging vir die moorde. Want óf jy veroordeel dit onvoorwaardelik, óf jy regverdig dit. Dis so eenvoudig soos dit, daar is nie ‘n middeweg nie. Die afmaai van joernaliste, of enige ander burgerlikes omdat jy nie van hulle standpunt hou nie, is koelbloedige moord. Die mense is nie halfpad doodgeskiet en halflewend gelos nie, hulle is vermóór. Op grond waarvan kan De Klerk en George B dit regverdig dat koelbloedige moord, ten spyte van satire en honende spot, op ‘n manier aanvaarbaar sou wees?
By die herlees van biede se skrywes sien ek toe die lig: Dis oor die spot met godsdiens, iets wat ek nie kan begryp nie. Hoekom is hulle (en meeste godsdienstiges) so sensitief as godsdiens onder satire deurloop? Kan godsdienstiges nie maar anderpad kyk nie. Hoekom jouself eers “walg as ek daarna kyk” net om die hel in te word en jou hele dag te versuur? Ignoreer satire en spot met jou godsdiens soos wat mense doen wanneer ander fasette van hul lewe onder die grootglas van satire beland. Politici van alle lande loop daagliks deur, maar hulle ondersteuners vermoor nie die spotprenttekenaar op straat, of in sy kantoor nie. En hoekom het De Klerk of George B nog nie beswaar gemaak dat Zuma vir jare lank met ‘n stortkop geteken word nie? Almal weet dat hy erg gekrenk is daaroor, maar hy lewe daarmee saam. Hoe sê die Engelse? It comes with the territory.
Met die lees van George B en De Klerk se “versagting” van hierdie koelbloedige moorde, het ek oor nog iets gewonder: Het hulle énige idee hoekom die radikale Islam deur Charlie Hebdo geteiken word? Het hulle énige idee wat die radikale Islam behels en die gevare wat dit inhou? Die volgende kort definisie spreek boekdele:
What is Islamic Extremism?
Islamic extremism is driven by an interpretation of Islam that believes that Islamic law, or sharia, is an all-encompassing religious-political system. Since it is believed to be proscribed by Allah (Arabic for “God”) sharia must be enforced in the public sphere by a global Islamic state. As such, Islamic extremists consider it to be the only truly legitimate form of governance and reject democracy and human rights values. (http://www.clarionproject.org/understanding-islamism/islamic-extremism)
IS, Boko Haram, Al Kaïda en talle ander radikale Islam organisasies beywer hulle daagliks vir presies wat in hierdie definisie staan: “n Globale Islamitiese staat onder ‘n fundamentele Islamities-politieke stelsel met geen menseregte soos in ‘n westerse demokratiese bestel nie. En dit is hoekom Charlie Hebdo dmv satire sy lesers bedag maak op die gevaar van hierdie soort ekstremisme. Onlangs op 14 Januarie het Boko Haram 2 000 mense afgemaai in ‘n geweldsorgie in Nigerië. En dis maar ‘n druppel aan die emmer. Gaan kyk bietjie hier (http://en.wikipedia.org/wiki/List of_Islamic_terrorist_attacks) hoe lyk dit in die wêreld waar hierdie ekstremiste doenig is. Dink maar aan die moord op skoolkinders in Pakistan, die ontvoering en verkragting van skoolmeisies onlangs deur Boko Haram in Nigerië,die aanvalle op die World Trade Center ens.
My punt is dat daar GEEN versagting vir die aanval op Charlie Hebdo kan wees nie. Die enigste wat hier van pas is, is onvoorwaardelike veroordeling, of jy nou van Charlie Hebdo se satire hou of nie. Enige vorm van radikalisme is boos, finish en klaar.
Met De Klerk se absurde stelling dat demokrasie slegs in ‘n godsdienstige samelewing kan gedy, het Thomas kort en kragtig afgereken. Al wat ek wil byvoeg, is om hom te vra om te verduidelik hoe wonderlik die demokrasie hier voor 1994 gedy het onder die Christelik-Nasionale-Party-in-gebed. Hoekom is elke mensereg wat moontlik bestaan gedurende hierde bedeling vertrap? Watter “goddelike waarheid” het hier geheers?
(So terloops.Hoekom dink ek De Klerk het nog nooit een van Pieter-Dirk Uys se vertonings bygewoon nie.? Vir seker het Uys se vlymskerp mes al die Afrikaner se verkrampte politiek-godsdienstigheid skerp aangesny.)


Kommentaar
As julle my nie wil glo
nie, lees weer Dirk se brief. Hy skryf sowaar: “Want óf jy
veroordeel dit onvoorwaardelik, óf jy regverdig dit. Dis so
eenvoudig soos dit, daar is nie ‘n middeweg nie.” Dirk, jy klink
nou soos 'n radikale Moslem gelowige – het dit nie van jou verwag
nie! (Moet byvoeg daar is talle Moslems waarvoor ek groot respek
het.) Of 'n ding is spierwit of dis pikswart. (Lees 'n slag N P van
Wyk Louw.) Net om seker te maak ons verstaan jou nie verkeerd nie
voeg jy oa nog by: “Op grond waarvan kan De Klerk en George B dit
regverdig dat koelbloedige moord, ten spyte van satire en honende
spot, op ‘n manier aanvaarbaar sou wees?”
Hoe kan Dirk sy
ateïstiese objektiwiteit op só 'n wyse oorboord gooi? George
is nou verplig om die vanselfsprekende uit te spel: daar is geen
manier waarop ek koelbloedige moord aanvaarbaar vind nie –
alle moord moet gestraf word en soms is die doodstraf geregverdig.
Verder weet ek
ook dat 'n vrou nie 'n klein bietjie swanger kan wees nie – sy is
of swanger of sy is nie swanger nie. As ons nou klaar is met die
vanselfsprekende moet bygevoeg word dat ons hoofkeuse meestal tussen
sê A en B is, maar daar is ook talle ander moontlikhede.
Jy maak jou verder
aan onakkuraatheid skuldig deur die volgende stelling in my mond te
lê: “Ek walg as ek daarna kyk, of dit nou die Pous, Mohamed of die
Goddelike Drie-eenheid uitbeeld." Dit was iemand anders wat ek
aangehaal het. Ek onderskryf wel sy mening.
Nee Dirk, dit gaan
nie net oor godsdiens nie, maar oor mense se gevoelens. Ons moet
ander mense se gevoelens altyd in ag neem, selfs wanneer die wet ons
vrystel. Dr Braam Hanekom, bekende teoloog, het 'n paar dae
gelede in die koerant geskryf dat christene moet leer om minder
fyngevoelig te wees – en ek probeer. Nogtans weet ons dat
Moslems sensitiewer as christene is en erg ontstel word deur 'n
tekening van hulle profeet sonder klere (om dit sag te stel) met nog
allerlei vieslikhede daarby. Vanselfsprekend (jy dwing my weer na die
vanselfsprekende) mag sensiwiteit nie lei na wegskramming van dinge
wat gesê behoort te word nie. (By Charlie Hebdo het dit nie hieroor
gegaan nie, maar oor hoe om die maksimum aanstoot te gee, maar as
daar weer mense is wat geweld teen sodaniges beoefen, moet hulle
gestop word, met vuurwapens, indien nodig – het Dirk uiteindelik
George se boodskap gekry?) Wat Charlie Hebdo bereik het is meer
doodslag en haat en die bevordering van radikalisme.
Terwyl jy, volgens
jou brief, halfpad daardeur die lig gesien het, sal die lig jou
hopelik in staat stel om bewus te raak van die strooipoppe
wat jy opgestel het. Om jou brief af te sluit deur na Pieter-Dirk Uys te
verwys verswak jou saak. Uys se humor is slim en skerp en nie
vergelykbaar met Charlie Hebdo s'n nie.
Jy sukkel maar om te lees en verstaan, Rigter.
Ekstremistiese Islamiete se optrede is afskuwelik, onregverdigbaar en onaanvaarbaar. Maar so is die Charlie Hebdo-ekstremisme net so onaanvaarbaar, afskuwelik en onregverdigbaar en glo elkeen van die ekstremiste vanuit hul eie oogpunt gesien dat hul reg doen. Jy ook, aan die Charlie Hebdo-kant, want jy haat God en Godsdiens as ekstreme ateïs.
As jy kon verstaan wat jy lees, keur ons geeneen daarvan goed nie. Maar sê ons dat die ekstremiste mekaar se ekstreme optrede aantrek soos motte na 'n lig. Elke ekstremis kies vooraf sy eie wapen vir die skermutseling wat onafwendbaar is. Die ou met die beste wapen in die ekstremistiese geveg loop as 'oorwinnaar' uit en so maai die een ekstremis die ander af.
Ek meen jy het nog nooit Uys se draakstekery gesien nie, om hom met die ekstremistiese platvloersheid van Carlie Hebdo te vergelyk.
Thomas kan net so min soos jy met enigiets afreken. Hy het met sy stompsinnige opmerking uitgewys dat sy 'kennis' so nutteloos is, dat hy nie eens die verskil tussen God en Mohammed begryp nie. Maar vanuit jou insiglose oogpunt, sal enigiets wat soos letters lyk vanaf 'n ander ekstremistiese ateïs soos jy, vir jou soos afreken lyk.
Maar dit is seker maar ekstreem om die insig van jou te verwag om te kan verstaan wat jy lees hier rond.
Kobus de Klerk