Maria Pritchard gee in haar boek Genocide: A History from Carthage to Darfur (London: RW Press, 2013, 63p, Amazon Kindle $0.99 - slegs elektronies beskikbaar) 'n kort oorsig van sommige menseslagtings wat oor eeue gepleeg is. Sy beperk haar aandag tot elf gevalle, waaraan 'n hoofstuk elk gewy word: Kartago, Genghis Khan, Asteke, Armenië, Stalin, Nazi's, Kambodja, Halabja (Irak, 1988), Srebrenika (Bosnië, 1995), Rwanda/DRK, Darfoer. Enersyds bring sy dit tuis dat daar dermate variasies by hierdie verskynsel voorkom dat dit nie altyd duidelik is wat in- of uitgesluit moet word nie. Andersyds is geen era, groep of bewoonde geografiese gebied noodwendig vry van so iets nie.
Daar is 'n groot mate van eenstemmigheid dat volksmoord in die ware sin van die woord nie in Suid-Afrika voorgekom het nie, al was daar oorlog en ander geweldpleging tussen bv inboorlingstamme. Wat tans die "bevrydingstryd" genoem word, het relatief min dooies opgelewer. Dit het nie om die uitroeiing van 'n bevolkingsgroep gegaan nie, maar om 'n ander politieke bedeling te bewerkstellig. Deesdae is daar diegene wat vermoed dat veral plaasmoorde tot volksmoord kan eskaleer. Bewustheid van die tragedie van menseslagting kan dus seker nie ongewens wees nie.
Plaaslik het menseslagting nooit die vorm van 'n volgehoue sistematiese veldtog aangeneem soos Cortés se uitroeiing van die Asteke of die jag op die Australiese Aborigines of die Amerikaanse Indiane nie. Maar ook in hierdie gevalle is daar die gevaar van 'n eensydige siening, want die inboorlinge het hulle op hulle beurt vir die uitroeiing van die imperiale indringers beywer. "Although the image of European Imperialists massacring indigenous people is a familiar one, it is not the full picture. Europeans have massacred each other and non-Europeans have also committed genocide on their neighbours" (Kindle 78).
Die outeur noem dat die term "genocide" in 1943 deur 'n Poolse regsgeleerde van Joodse afkoms, Raphael Lemkin, na aanleiding van die Nazi's se Joodse volksmoord gemunt is. Lemkin het die Griekse woord "genos" (ras) met die Latynse woord "cide" (doodmaak) gekombineer. "In 1948 the UN General Assembly defined genocide as 'acts committed with the intent to destroy, in whole or in part, a national, ethnic, racial or religious group.' The acts in question are listed as killing, or causing serious physical or mental injury to members of a group, deliberately exposing a group to conditions likely to cause death, preventing births within a group and forcibly removing the group's children" (34). "A major criticism is that it omits political and social groups" (38).
Intellektuele en ideologiese (politieke en religieuse) opponente is dikwels die eerste slagoffers wanneer menseslagtings plaasvind. Nóg die letterlike betekenis van "genocide" nóg enige van die Afrikaanse terme, soos "volksmoord", "rassemoord" en "groepsmoord", gee ondubbelsinnig uitdrukking aan al die variasies van hierdie verskynsel. Ek sal maar die term "menseslagting" gebruik, maar dan gaan dit nie om bv "die slagting op ons paaie" nie, maar om doelbewuste, sistematiese pogings om weens bv etniese of ideologiese redes 'n groot groep mense uit te wis.
Mense verskil kultureel. Groepe mense hang verskillende wêreld- en lewensbeskouings aan en sodanige sienings is dikwels op verskillende gelowe gegrondves. Moedertale kan ook aansienlik verskil. In ontwikkeling kan mense groepsgewys ook op verskillende vlakke wees. As mense dermate verskil en teen wil en dank dieselfde grondgebied moet deel, interesseer so 'n situasie my om klaarblyklike redes. Ongelukkig word sodanige (potensiële) konfliksituasies selde in bv geskiedenisonderrig op skool aangespreek.
Daar is baie vaalkolle in seker enige mens se geskiedeniskennis. Die Armeniërs, waaraan Pitchard 'n hoofstuk wy, kan so 'n vaalkol wees. Van die beste of maklikste maniere om vas te stel hoe die lotgevalle van bevolkingsgroepe en lande verander het, is myns insiens om die verskillende boekdele van Colin McEvedy se The Penguin Atlas te raadpleeg. Daarvolgens het die Armeniërs reeds teen 1300 vC aan die bolope van die Tigris- en Eufraat-rivier gewoon. Armeniese grondgebied, volgens Balakian (bron hieronder), "spanned eastern Anatolia and western Transcaucasia around the sixth century BC" (Kindle 687). Tydens die klassieke Griekse tyd word Armeniese grondgebied tussen die Swart- en Kaspiese See aangedui, terwyl dit in die Romeinse tyd teen 74 vC reeds tot aan die Middellandse See uitgebrei het. "At the peak of its power in the late to mid 70s BC, Armenia extended midway across Anatolia into the Russian Caucasus, from the Black Sea to the Caspian, and encompassed what is now northernmost Iran" (Balakian 691).
Teen 650 nC was die Turke nog oos van die Aral-meer en was wat vandag Turkye genoem word reeds verchristelik. Eers teen die 11de eeu sou Moslems hier die oorhand kry, terwyl die Ottoman-ryk met sy sterk Turkse element eers van die 14de eeu af figureer, toe Armenië in 1375 sy onafhanklikheid verloor het. In 1453 het hierdie Turke Constantinopel verower. In 1683 is die Ottomans se opmars deur Oos-Europa buite Wene gestuit. Die voorafgaande gee 'n ruwe aanduiding van die vroeë lotgevalle van die Armeniërs en Turke.
Tans is Armenië 'n klein landjie van minder as 30 000 vierkante kilometer en sonder toegang tot die see. Aan sy noordekant is christelike Georgië met Moslem-lande aan die ander drie kante: Turkye in die weste, Iran in die suide en Azerbaijan in die ooste. Armenië se bevolking is meer as 3 miljoen, met 8 miljoen Armeniërs wat in ander lande woon. In 1991 is die nasiestaat Armenië se politieke onafhanklikheid uiteindelik erken.
Peter Balakian (gebore in 1951) se boek The Burning Tigris: The Armenian Genocide and America's Response (New York: HarperCollins, 2007, 528p, Amazon Kindle $10.99), vertel wat tussen die genoemde vroeë geskiedenis en die huidige situasie met die Armeniërs gebeur het. Dit is 'n boek wat die emosionele kontoere in 'n leser kan verskuif. Die Amerikaanse ambassadeur in Turkye, Henry Morgenthau (1856-1946), se boek, Ambassador Morgenthau's Story (1918), is een van die bekendste inligtingsbronne oor die Armeniese volksmoord, wat hy "the murder of a nation" genoem het (5436). 'n Tekortkoming is dat hierdie teks nie die nodige konteks, bv wat voor en na Morgenthau se dienstyd (1913-1916) gebeur het, verskaf nie. Hiervoor is Balakian se boek 'n nuttiger bron.
Omdat Balakian is voorouers Armenies is, het ek aanvanklik bedenkinge oor sy objektiwiteit gehad. Maar selfs wanneer die Armeniërs op skandalige wyse deur bv die VSA in die steek gelaat is, bly sy teks vry van emosie. Dit is duidelik dat hy deeglike navorsing gedoen het. Hy gebruik 'n duidelike, vloeiende verteltrant, sodat die teks baie makliker as 'n geskiedenishandboek lees. Wat wel as 'n tekortkoming ervaar kan word, is dat Balakian hom dermate op die lot van die Armeniërs toespits dat hy nie werklik aandag aan die vervolging van ander nie-Moslem-groepe in Turkye, soos die Grieke, Jode en Siriërs, skenk nie. Ek was veral op soek na inligting oor die Amerikaners se rol in die Armeniese geskiedenis. In hierdie opsig is Balakian se boek 'n uitstekende bron.
Volgens Balakian het 'n voorloper van die Armeniese menseslagting in 1876-1878 voorgekom toe die Turkse owerheid 15 000 Bulgare afgemaai het omdat hulle ten gunste van onafhanklikheid in opstand gekom het. [Dit lyk na 'n eensydige voorstelling, want Turke is sedertdien meer as 'n eeu lank op groot skaal uit Bulgarye verdryf.] Die uitmoor van die Armeniese bevolking het in drie stadia geskied:
(1) In 1894-1897, tydens die bewind van sultan Abdul Hamid II, het sowat 200 000 Armeniërs omgekom. Die helfte van hulle is vermoor, terwyl die res weens siekte en hongersnood gesterf het. In 1895 was die New York Times moontlik eerste met die gebruik van die woord "holocaust" gewees deur op sy voorbladsy hieroor te berig. In 1896 het die Amerikaanse Kongres hierdie dade veroordeel.
(2) Na die revolusie van die Jong Turke in 1908 is duisende Armeniërs in 1909 vermoor onder die voorwendsel dat hulle dislojaal teenoor Turkye was. Teen 1913 het die Ottomans die meeste van hulle grondgebied in Europa verloor. Die Turke het bedreig gevoel en nasionalisme en selfs die broederskap van alle Turke, dus ook dié in Asië, is aangemoedig. 'n Vergrote Turkye, bekend as Turan, is in die vooruitsig gestel. Verpligte skoolonderrig in Turks is ingestel. Genghis Khan (1155-1227) en Tamerlane (1335-1405) is as die Turkse helde van 'n grootse militêre verlede verheerlik. Hierdie nasionalisme het, in die vorm van vreemdelingehaat, hernude etniese geweld teen die Armeniërs tot gevolg gehad.
'n Driemanskap, Enver, Jemal en Talaat Pasha, was in beheer van Turkye. In November 1914 het Turkye aan die kant van die Duitsers tot die Eerste Wêreldoorlog toegetree. Armeniese mans tussen die ouderdom van 20 en 60 is opgekommandeer en aanvanklik as arbeiders in oorlogsbataljons ingedeel, maar hulle is spoedig daarna uitgemoor. In 1915-1916 was daar 'n nuwe vlaag van die Armeniese volksmoord, wat selfs tot in 1917 voortgeduur het. Vir hierdie veldtog is veroordeelde misdadigers uit die tronke vrygelaat. Hulle moorddadigheid is aangemoedig deur hulle toe te laat om buit van die Armeniërs vir hulleself toe te eien.
(3) In 1920 en 1922 het Kemal Atatürk (1881-1938) se leër die nuwe Republiek van Armenië binnegeval. Reeds in 1917-1918 was daar so 'n inval waarin baie Armeniërs dood is. Die 1920- en 1922- invalle het gevolg op die onafhanklikheidsverklaring van Armenië in 1920. Dit was Armeniërs se eerste ervaring van selfregering sedert 1375. Die aanvalle was vir Atatürk moontlik omdat Turkye en Rusland in 1919 'n ooreenkoms aangegaan het nadat Rusland deur revolusies gedestabiliseer is. In Turkye self is van die oorblywende Armeniërs uitgeroei, bv deur massaverdrinkings in die Swart See. Die Armeniërs wat uit Turkye gevlug het, is nie toegelaat om terug te keer nie.
Die totale getal Armeniërs wat in die reeks volksmoorde gesterf het, word op meer as 'n miljoen, moontlik selfs 1.5 miljoen, sowat twee-derdes van die Armeniese bevolking, geskat. Die tye wat vir die menseslagtings tydens en kort na die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) gekies is, was buitengewoon slu, want toe is lande wat moontlik bystand kon verleen deur die oorlog besig gehou, of hulle was weens die gewapende konflik reeds te uitgeput om daadwerklik op te tree. Die politieke wil om 'n klein etniese groep in nood by te staan, het ook ontbreek. Onder Woodrow Wilson (1856-1924, president 1913-1921) het die Amerikaners nooit teen Turkye oorlog verklaar nie, gevolglik was die VSA na die oorlog in 'n sterker posisie om tot eie voordeel bv olie-ooreenkomste met Turkye te sluit. Dié vriendskapsbande is egter ten koste van die Armeniërs gesmee. Die VSA het, soos Brittanje en Frankryk, geweier om op versoek van die Volkebond verantwoordelikheid vir 'n mandaatskap oor Armenië te aanvaar.
Verskeie redes word vir hierdie menseslagtings aangevoer. Een is dat die Armeniërs christene is. Dink aan die apostel Paulus se sendingreise in Klein Asië. Armeniërs roem daarop dat Armenië na bewering sedert 301 amptelik 'n christelike staat was; die eerste in die wêreld. Die Turke, daarenteen, is Moslems wat hulle geroepe gevoel het om christene tot die Islamitiese geloof te bekeer of as ongelowiges uit te wis. Tweedens was die Armeniërs meer ontwikkeld (of Indo-Europees beskaafd) as die Turke en ook meer welvarend. Hierdie apostoliese christene het 'n werksetiek soortgelyk aan dié van Protestante gehad. Dit het jaloesie by die Turke gewek, wat die Armeniërs se besittings wou inpalm. Derdens het die Turkse leiers 'n etnies en kultureel homogene staat, dus met uitsluitlik Turkse inwoners, begeer, gevolglik is nie net nie-Moslems, soos die Armeniërs, Grieke, Jode en Siriërs, uitgewis of verdryf nie, maar mettertyd selfs ook mede-Moslems, soos die Arabiere en Koerde. "Turkey belongs only to the Turks" (3110).
Selfs sonder volksmoord het die Armeniese minderheid dit nie maklik in Turkye gehad nie. Die amptelike owerheidstandpunt was dat nie-Moslems hulle moet bekeer. Dié wat dit nie doen nie, moes ekstra belasting betaal. Hulle is verbied om wapens te besit en meesal ook nie toegelaat om in die weermag te dien nie. Die owerheid het die wetlike reg gehad om seuns uit die huise van nie-Moslems te verwyder, hulle tot Islam te bekeer en hulle dan te verplig om in die weermag en staatsdiens te werk. Staatsamptenare kon jaarliks drie dae gratis verblyf en kos van Armeniërs eis. Gedurende die winter kon Moslems, soos die Turke en Koerde, hulleself, met hulle gesinne en vee, in die huise van Armeniërs tuismaak. In hierdie proses is van die Armeniërs bv besteel en verkrag.
As Armeniërs hulle eie taal gepraat het, was dit op die gevaar af dat hulle tong uitgesny kon word. Talle woorde is verbode verklaar en Armeniese plekname is verander. Selfs verwysings na die chemiese simbool vir water, H²O, is deur sultan Hamid II verbied onder die voorwensel dat dit "Hamid the second is nothing" beteken (1021). Van die Armeniërs is afgepers vir beskermingsgeld om hulle teen bose dade van Turke en Koerde te vrywaar. In uitsonderlike gevalle is Armeniërs toegelaat om na hulle gestroopte huise en sake-ondernemings terug te keer. Aan sommige van die gesteelde goedere het die Turke en Koerde geen erg gehad nie. Die gevolg was "bringing them back and selling them boldly to their former owners" (1582). Huise en kerke is afgebrand of die kerke is in moskees omskep. Tydens die volksmoorde was dit verbode om Armeniërs te huisves, weg te steek of te help ontsnap. "If any Moslem protect a Christian, first, his house shall be burned, then the Christian killed before his eyes, and then his [the Moslem's] family and himself" (3619).
Gedurende die volksmoorde was die standaardprosedure om die Armeense mans van hulle vroue en kinders te skei. Die mans en seuns ouer as 12 jaar is dan na 'n afgeleë gebied geneem en vermoor. Die vroue en kinders is soos vee met swepe aangejaag en per trein in beestrokke vervoer. Hulle klere en ander besittings is van hulle lyf af gesteel. "Because Muslims considered 'the clothes taken from a dead body to be defiled,' all the Armenians were forced to strip before being killed" (4287). Verkragtings het algemeen voorgekom. Sommige vroue is soos slawe in huise en harems aangehou, met prominente tatoeëermerke op hulle gesig, hande, arms of enkels, wat ontsnapping bemoeilik het. Ander is in haglike omstandighede in konsentrasiekampe in die Siriese Deir el-Zor-woestyn suid van Urfa aangehou. Baie is weens hongersnood en siektes dood. Sommige "were stuffed into caves and asphyxiated by bush fires - primitive gas chambers" (3156).
"Because bullets were so precious, it was 'cheaper to kill with bayonets and knives'" (4287). Hier volg 'n lys van ander moordwapens: clubs, iron bars, cleavers, hatchets, cudgels, sticks, spades, hoes, scythes, sickles, pickaxes, pitchforks, shovels. Baie Armeniërs is gehang. "Children were placed in a row, one behind another, and a bullet fired down the line, apparently to see how many could be dispatched with one bullet. Inflants and small children were pilled one on the other and their heads struck off" (1288). As die lyke nie (half-)begrawe of verbrand is nie, is die dooies in die see, mere, riviere, putte of oor afgronde gegooi. Ook: "houses fired and the inmates driven back into the flames" (1306).
Nie al hierdie Armeniërs het 'n vinnige dood gesterf nie. "Countless numbers of people were helpless, walking around 'mutilated, hands and right arms cut off, and eyes gouged out'" (1574). "The maimed survivors looked ghastly: 'a man with a great sword gash across his face cutting the nose in two, another shot through the lungs, another with one hand off and the other wounded" (1604). Daar was sadistiese orgieë en soms is Armeniërs letterlik gekruisig en dan gekoggel: "Now let your Christ come and help you" (4036). Martelmetodes het ingesluit "nailing horseshoes to their feet and marching them through the streets" (2952; ook 3557). Besonderhede oor "the game of swords" wat soldate met vroue gespeel het (4569, 5449) en 'n ander soort kruisiging waaraan vroue onderwerp is (5453), verswyg ek liewer.
Deborah Lipstadt noem die ontkenning van die menseslagting deur Turkye "the 'final stage of genocide,' because it 'strives to reshape history in order to demonize the victims and rehabilitate the perpetrators'" (226; ook 6615). Elie Wiesel "called denying genocide, and in particular the Armenian Genocide, a 'double killing', because it [also] murders the memory of the event" (231). Hoewel daar pogings aangewend is om die Nazi-menseslagting van Jode tydens die Tweede Wêreldoorlog te ontken, het veral die Jode self gesorg dat hulle hierdie groot terugslag wat hulle as etniese groep getref het so goed moontlik tot eie voordeel aanwend/uitbuit.
Die Armeniese volksmoord, in soverre dit tydens die Eerste Wêreldoorlog plaasgevind het, is deur Theodore Roosevelt (1858-1919, Amerikaanse president 1901-1909) "the greatest crime of the war" genoem (157, 5322). Hy het Armenië as 'n "bulmark of Western civilization" beskou (5393). In 1997 het die meerderheid lede van die Franse nasionale vergadering die moed van hulle oortuiging gehad om die Armeense volksmoord van 1915, ten spyte van heftige Turkse besware, tot 'n feit te verklaar. In 2000 is dit deur die Franse senaat bekragtig. Daar word beweer dat die Turke met die Armeniese volksmoord die bloudruk vir die Joodse volksmoord aan die Nazi's verskaf het (140).
Die sosiale sielkundige Irvin Staub beweer sodanige "continuum of destruction" wat progressief oor dekades en selfs eeue plaasgevind het "creates a readiness in the culture" (2136, 2831). "'People learn,' Staub explains, 'by doing, by participation.' People are changed by their participation in destructive and harmful behavior, and the victims are further devalued through this process" (2835). Die Armeniese volksmoord was 'n geval van "devaluing a subgroup, an ethnic minority in this case, in part in order to raise the sinking self-esteem of the majority group - the Turks" (2835). Dit help om die drie golwe waarin die volksmoord gepleeg is, te verstaan.
Die ergste is dat pogings deur die Turke aangewend is om sodanige destruktiewe gedrag as regverdigbaar voor te stel. Deel van hierdie proses was om die betrokke amptelike en ander rekords sover moontlik te vernietig. Edmund Burke (1729-1797) het gesê dat die Turke nooit deel van Europa kan wees nie. Dit is egter presies wat die Turkse regering nou amptelik begeer, terwyl Turke en ander Moslems hulle reeds jare lank op groot skaal in Europa as bv arbeiders vestig.
Johannes Comestor


Kommentaar
Dis verskriklik. Al wat ons gewone ouens kan doen is om, soos Johannes, sulke dinge onder die aandag te bring.
As jy dit nog nie gelees het nie, doen gerus die moeite en jy sal meer ingelig wees!