Op so 'n dag

  • 0

... trek ek gewoonlik die deftige baadjie met die wit roos en blink lapelle aan. Dit gee voorbladvoorkoms. Soms vergeet ek van die dag, en moet dan terughaas huistoe. Dan is daar nie tyd vir fieterjasies en poeiertjies nie, en moet die vorige byeenkoms se Red-Door-Aura maar klou.

Op so ’n dag is ek gewoonlik eerste, om te oefen. Dis ’n trietsige oggend en ek stoot die Mazda se neus diep onder ’n blaresambreel in. Buite sif dit misreën en vorm huilstrepe teen die kerk se rooi-en-geel vensters. “Brrr,” bewe ek en stoot die manjifieke houtdeure agter my toe. Binne is die katedraalstilte  fluisterend en die atmosfeer gedoop in krisant-en-roos-reuke.

My hart gee ’n pluk, want op hierdie dag is ek nie eerste nie. Kobus is alreeds hier. Heel voor. En moet ek verby hom beweeg om op die verhoog te klim. Alhoewel ek die man net ten dele ken is hy ’n onsigbare irritasie vir my agter die gordyn - ek weet te veel. Geruisloos skuif ek agter die orrel in sonder om die gewyde aanbiddings-atmosfeer te beroof of oortree. Op so ’n dag sal ek dan die bladmusiek voor my oopvou en met die groot silver knip vassteek.  

Die kolliggie kliek en skielik dans die musieknote en lirieke van “Amazing Grace in die skemer voor my rond. Vies trek ek wenkbroue op: Liewe hemel, is dit al lied wat die nie-kerkmens ken? Afkeurend tuur ek in Kobus se rigting en prewel: “Of dit nou ’n troue, begrafnis, doop of wat ook al vir julle mense is, julle kies net “Amazing Grace”! 

Met meer as drif druk ek die aanskakelaar en voel hoe die kragmeganisme van die Hammond onder my inskop en polsend begin tril terwyl my geoefende oor die onhoorbare dreigsuising van die massiewe speakers regdeur die Heilige Tempel gewaar. “En in elk geval,” fluister ek verontwaardig, “dis al wanneer  julle in die kerk gesien word, wanneer daar gesoek word na ’n spesiale guns of gawe.”    

My frons verdiep – waarom die woede? Kobus het nooit voet in die kerk gesit nie, net sy vrou Susan en dié het hy altyd gedreig en bedreig, verniel en verbied. Later toe hy uitvind dat sy in die kerk ’n veilige hawe vir haar benoudhede gevind het, het dit meer skietgoed ontlont. Hy kon kerkmense nie verdra nie. Skuldig?

Heftig skuif-skuif ek in my soldaat-posisie op die houtbankie en lonk onderlangs na Kobus. Daar was talle oproepe: Susan se bewerige stemmetjie, smekinge, frustrasie en dan die woede van uittrek en die belofte van “dis die laaste keer” en die tasse wat finaal gepak is.

Wanneer Susan dan na ’n week terugtrek, sou sy my nie bel nie, net later skaam verduidelik: “Hy is tog ’n goeie man Trienie, baie sag en kan vir niemand nee sê nie. Daarom die sonde en verleiding. En onthou ons is darem al 35 jaar getroud.” Toe nog later: “Miskien moet ons oortrou. Net weer voor die aangesig van God en mens in die kerk ons troubeloftes aflê.”

“Gmfff!”

Kobus se stilte prikkel en ek sluit my oë om die roesemoes in my gedagtes te orden. Dan trap ek die klankpedaal diep in terwyl warm vingers en koue klawers huiwerloos gom. Ek wip toe die eerste blaastrompet die voorhof tref en die allerheiligste gedeelte soos ’n tsoenami inbars. Die Hammond gee sy volle evokatiewe potensiaal - duidelik en suiwer - en ek voel hoe die aanswellende oktawe my hele wese oorspoel. Ritmies begin ek die bruisende golf te ry en ry, deur murg en klankgrens, totdat iets binne in my los skiet:         

Amazing Grace, how sweet the sound
That saved a wretch like me ...

Ek grinnik, dis nou oor die ironie van die poëtiese woorde. “Ja Kobus,” bitter ek, “mag daar vir jou ook “Amazing Grace wees.” Op so ’n dag word my spel ’n plofbare dans met die bose, ek meen, ons is tog alleen: ek en hy.  

I once was lost but now I’m found
Was blind but now I see

“Werklik?” My hand weifel, maar net die maatslag word ingedoen. Wie is ek in elk geval om te oordeel? Die oordeel kom God alleen toe. Al was die verslawing sigbaar, die aggressie, die vuilspel, die hoerery.

T’was grace that taught my heart to fear,
And grace my fears relieved.

“O Ja?” snork ek beskuldigend en trek die pyporrelklank se tremble-knop heeltemal oop. Volgens my was Susan die een wat hóm gevrees het. My hande begin sweet. Weereens beleef ek die moeë lyne onder haar oë, die donkerbril wat sy selfs in die winkels moes dra, die kere wat sy benoud moes opspring al was ons koffiekoppies half gedrink ...

How precious did the grace appear,
The hour I first believed

“Klugspel!” sis ek en my vingers stol. Die tsoenami rol terug in sy krag en laat los ’n tasbare onheilspellende doodse stilte.

Ek trek skouers op, gee Kobus my rugkant en slaan die liedereboek hoorbaar toe. Oefentyd is verby. En alles gereed vir die hooftoneel.

Ek kyk verlig op toe die eerste voetstappe opklink: Dis Susan. Huiwerend betree sy die voorhof met haar dogter aan haar sy. In haar hand klem sy ’n wit roos vas. Soos sy nader beweeg soek haar oë na myne, en ek wink gerusstellend: “Kom nader. Ek is hier. Alles is gereed.”

Vir nou toon haar gesig geen emosie alhoewel hartseerspore diep lyne vorm. Maar moet dit nie ’n dag van opligting wees nie? Dan sien sy Kobus, druk die roos voor haar bewende mond, en gaan sit. 

Nou begin my gedagtes die onklaar vers van “Amazing Grace neurie:

Thru many dangers, toils and snares,
I have already come ...

Ek proes. Susan kyk op. Begin dan senuagtig vroetel in die handsakkie op haar skoot. Die agterste gedeelte van die kerk word vol vreemdelinge wat ongemaklik rondsit. Tipies - Kobus se vriende? Ek glo dat daar ’n groot verskil moet wees tussen die binnekant van ’n kerk of die van ’n biertent. Ek wonder wat hulle dink of voel, dalk teleurgesteld dat ’n drankbuddy se kraanvloei van Mandela-note toegedraai is?

This grace hath brought me safe thus far,
And grace will lead me home.

Vergifnis. Mmmm, sal Susan regtig kan vergewe en vergeet? Ek meen, vir hoe lank trek mens ’n laken oor jou kop. Want ’n Olyfboom word geslaan en geskud totdat die olywe val en kan dan eers gepars word tot die suiwerste olie. 

When we’ve been there ten thousand years,
Bright shining as the sun,

Daar is ’n roering en die leraar klim op die verhoog. Susan se oë begin pleit. Magteloos kyk ek af na haar en besef daar is niks wat ek kan doen nie, ook nie afklim om haar te bemoedig nie. Haar woorde van die vorige aand roep op na my wese: “Ek gee nie meer om nie Trienie, al slinger hy die huis ook in, hy kan maar, as ek net weer die warmte van sy lyf in my bed kan voel ...”

Die gehoor staan op vir die openingsgebed en die prediker kondig “Amazing Grace aan. Nou vergeet ek van Susan of Kobus. Dis fokustyd. Daar is ’n ritueel om deur te werk en die tsoenami moet op die regte tyd deurspoel of strelend terugrol.

Op so ’n dag sien ek vir die soveelste keer hoe “Amazing Grace se groot genade die mensdom omhels. Hoe dit atmosfere-van-verwarring tot stilte-en-eenheid roep. Hoe die gelowige en ongelowige se oë blinkvol oor die barmhartige woorde gly en die lippe en hart van die kerk en nie-kerk mens saamsmelt:    

We’ve no less days to sing God’s praise,
Than when we’d first begun.

Die slotgebed sterf in sy ‘Amen’. My vingers vind outomaties die note van die uitstap-lied terwyl die leraar ses name uitlees en hulle na vore roep.

Deurdringend soek my oë na die laaste flikker van die goue handvatsels wat tussen donker stampende bene na my blink. Ek weier om die sagte golf te los, en vir die eerste keer buig my wese jammervol vooroor terwyl ’n verlore traan op my regterhand spat as teken van ’n verlorendheid: “Kobus, ek hoop jy was tevrede met ons dans, ek meen, ons was tog ’n rukkie alleen, ek en jy en God - en Amazing Grace ...

Op so ’n dag, soos gewoonlik, druk Avbob by die eerste deur ’n koevert in my hand waarop staan: Orrelis. Dan skuif ek ongemerk verby die tiendekas en sien hoe die spleet die koevert insluk, glad en geruisloos.

Buite skyn die son. Ek hou ’n hand oor my oë en snak na die blou lug met asemrowende wit geriffelde wolkies. Het ek my verbeel of het Iemand van Bo tevrede geknik?  

 

Naskrif:
In Herinnering aan Kobus Matthews
Gebore:  29/3/55  
Oorlede: 03/02/14
Begrawe: Op Vrydag 7 Februarie 2014 om 14h00 vanuit ’n Kerk
Oorsaak van dood: Trappe-fratsongeluk.
Saak word ondersoek.

(Alle name is fiktief)

Trienie Mahne

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top