Nostalgie: Plaasmelk

  • 0

Liewe (huidige) Laaiplaas-eienaar

Elke keer dat ons by ’n sekere padstal stop, ruik ek dit al in my kop:  hulle moerkoffie en plaasmelk.  ’n Koffiesnob was ek nog nooit - dit is die reuk en die smaak uit hulle warm melkbekertjies wat my hart week maak.  Plaasmelk.

Die stoom uit daardie melkbekertjies, neem my neus altyd na Laaiplaas toe terug.

My oupa was nie eintlik ’n melkboer nie, maar die huis het altyd na plaasmelk geruik.  Ouma het soggens die vars melk gekook en in die balie gegooi om af te koel.  Hieruit kon ons heeldag melk skep soveel ons wou.  Water was skaars en ons het elke dag met wit snorre geloop.

Soggens sou oupa my dou-voor-dag wakker maak om saam met hom beeste in die veld te gaan soek.  By die kraal het ek met my voete in die beesmis gesit en nou en dan my mond wyd oopgemaak terwyl oupa melk.  Dan het hy die koei se speen skuins getrek en met die straal melk vir my mond probeer mik.  Eers na die hoeveelste probeerslag, as ons al gelê het van die lag, sou die warm straal melk in my oop keelgat beland.  Die melk en die lag het een geword en oor my gesig gedrup.

As daar genoeg kanne melk was, het ons hulle agter op die donkiekar gelaai en in die pad geval om die kanne langs die treinspoor vir die melktrein te gaan los.

Ek het biesmelk en suurmelk leer ken.  Ek het geweet waar die botterspaan gebêre word.  Ek het geweet waar om die kaasdoek te kry.  Saam met ouma se meel uit die meelkis in die donker buitekamer, was daar altyd melk uit die balie in al haar baksels.  Ek het geleer hoe ’n mens se arm kan brand van slinger draai in die melkhuisie.

Terwyl ouma my die geheime van haar troukoeke se versiersel (met ’n skeutjie melk) gewys het, het sy lang stories gepraat.  Sy het vertel van die oorlogtyd, van hoe sy net tot standerd drie in die skool kon bly en van al die woorde in haar kop.  Sy het baie mooi woorde gesê as sy koeke versier het. 

Soms het sy vir my ’n warm beker melk gegee en ’n paar knipsels uit ’n trommel onder haar bed gaan haal.  Dit was gedigte en kortverhale wat sy al die pad van die plaas af vir die Huisgenoot gepos het.  Sy het my vertel van die storie wat sy nog eendag wil skryf.  Dit was ’n mooi storie van ’n meisie wat baie lief was vir woorde en wat verder gaan leer het.  By die universiteit het sy die liefde van haar lewe ontmoet en hulle het by die see gaan woon.  Ouma het gesê sy verlang na die see.

Saans het ons by kerslig ’n bietjie veldheuning by ons warm melk gekry.  Oupa het gesê dis ons loopdop.  Soggens is die een wat die nag-pot in die kleinhuisie moes gaan leegmaak,  met ’n glas melk gelawe met die terugkomslag.

Ek wonder wat oupa-hulle van die sakkies melk in die winkelyskaste sou sê.  En van die plastiek-kaas en botter-namaaksels.  Ek wonder wat vandag met ’n paar verlate melkkanne langs ’n treinspoor sal gebeur.  My ouma se woorde het opgeraak, sy het nooit haar storie geskryf nie en sy het aanhou verlang na die see.

Soos ek na die melk van Laaiplaas verlang.

Kyk asseblief mooi na my onthou se melk en heuning.

Groete

Jaomi Zeeman

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top