Nostalgie

  • 1

In die verte sien ek die wasige klipkoppies in vurige hittegolwe ronddans. Ek voel die opgewondenheid in my binneste kriewel ... nie meer lank nie, dan spat die klippies onder die motorwiele, wanneer ek op die grondpad indraai. Die pad lê witgekalk en oop, met varsgeskraapte grondwalletjies  in netjiese rye langs die ryvlak. In die plooiwang van die rantjie lê die plaashuis vasgedruk  tussen die pikswart ysterklippe. Ek sluk twee-, driekeer om te keer dat my bonsende hart nie by my keel uitspring nie. Op pad verby die koeistal en skaapkraal, stuif die bekende reuk van mis, gras en melk in my neusgate op. In my onderbewussyn beleef ek dat die stadsjapie tuisgekom het.

Soel somerdae, swemmery in die sinkdammetjie agter die huis, luilekker  geselsies onder die soetdoringbome, familiekuiers, lekker boerekos in Ouma se kombuis, smullekker waatlemoenskywe met sous wat taai teen wange afdrup, "hop skotch" op die stoep, vervelige kinderkonserte waardeur volwassenes entoesiasties moet worstel, kerslig, sissende Coleman-gaslampe, die gelui van 'n plaastelefoon - drie kortes en 'n lange … al hierdie dinge is deel van 'n kindertyd, wat heeltemal te gou verby is.

Met 'n herbesoek, is al hierdie skatte uit my jeugjare, gereduseer tot blote herinneringe. Die koeistal is verwaarloos, die skape is weg, die plaashuis se eens trotse gewel het ingestort. 'n Los sinkplaat kap-kap in die wind en die soetdoringboom op die stoep worstel om oorlewing in die droogte. Die eens pragtige groentetuin en vrugteboord is heeltemal weg. Net sand en tekens van ou klipvoortjies is nog hier en daar sigbaar. Selfs die damwal agter die huis, is gebreek en die rante is oorgroei met indringer plantegroei. Deur 'n gebreekte venster is die toneel nog skokkender. Waar kinderstemme konserte gehou het en Oupa in sy siekbed geworstel het, is nou stilte en 'n doodsheid. Die bank  en stoel op die agterstoep, waar ons soveel kindergesprekke gehad het en jongmensdrome gedroom het, is nog daar. Die leerkussings het heeltemal vergaan en geroeste vere steek plek-plek deur ou klapperhaarstopsels, wat lyk soos oumansbaard. Rotte en muise skarrel piepend weg.

Die wind huil droewig om die gebarste hoeke en die eens trotse ou doringboom krap-krap, skuur-skuur teen die mure en dak op die voorstoep. Die bekende gekap van 'n vinnig-draaiende windpomp is weg. Dit was my gunstelinggeluid. Dit het water beteken, lewe, koelte, kos, my tannie se blomtuin, Ouma se hoendertjies ... Ek draai die kraan langs die stoep oop. Doodse stilte, nie eers 'n suising van 'n leë pyp wat lug suig nie, dorheid, doodsheid. Die enigste vog op hierdie skokkende middag is die trane wat uit my oë drup en in die stof neerplons!

Perdebytjie

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top