Nostalgie: Donsdingetjie

  • 2

Die foto warrel uit my hand. Ek verlang na Donsdingetjie. Haar paadjie het myne op ‘n mistroostige dag gekruis. ‘n Verskrikte dingetjie, hare nog donsies, met ogies wat wild wegkoets agter die hand wat haar na my uithou.

“Jinne-siestog!” gaap ek. “Waar kry julle dit?”

“Uit die bos,” brom Koos en laat los die patetiese figuurtjie op my skoot.

“En die ma?” frons ek. Koos antwoord nie, vlug net uit die kombuis en probeer die .22 geweer voor sy lyf wegsteek.

Aapvingertjies gryp my besete vas. Ek ruik bloedspatsels en nat hare. “Toemaar, toemaar,” troos ek en woel haar in Mieta se stoflap toe.

“Hy sallie lewe Nonna,” waarsku Mieta terwyl vrees en bygeloof haar beetkry. “Hy’s pikinini.”

“Sy sal dit maak ...” skop ek vas en koester haar teen my bors. Uiteindelik besluit ek op die papegaaihok en plaas dit tussen my skoolboeke op die lessenaar. Kort-kort loer ek of daar darem nog lewe is terwyl ‘n moederinstink inskop wat my lewe vorentoe drasties sou omkrap.

“Aikôna – ek weet nie of hy is,” paai Mieta wanneer ek vanaf die skool verby haar storm.

Radeloos teen dié tyd snik ek dit teen Mieta uit. “Dis nie ‘n ‘hy’ nie Mieta, dis ‘n ‘sy’!” Met ‘n spuit dwing ek haar om melk te sluk en is buite myself toe sy begin stoei na meer. Sy sal lewe!

Stil lê die foto tussen my voete. Buite roep ‘n visarend deurdringend en ek hoor Donsdingetjie se sketterskree na my. Sien hoe ek die handdoek in driehoekstukke opsny met ‘n gat in die middel vir die stert. Ek glimlag, herleef weer die doek se eerste sukses asook verligting wat dit gebring het.

So word hansblouaap deel van ons huishouding. Sy klou my vas en haar afhanklikheid word ‘n emosionele verknogtheid wat my siel steel. Min wetende wat op my wag ...

Die donsies verander in stekelrige gryshare met ‘n geel tint. Badtyd word speeltyd en haar gewriemel bedaar net wanneer die borsel lang stroke oor haar lyf kam. Net om skielik op te spring en haar haredos onder my verekussing deurmekaar te vryf.

“Donsdingetjie!” raas ek vir die aapstreke.

Voornag slaap sy in my nek en suig aan my oorlel. Iets wat sy nooit wou afleer. Smagtend na die ma wat sy nooit leer ken het. Vies sal ek haar afpluk aan die stert en so onder die kombers vashou. Bedags slaap sy op my skoot terwyl ek leer. As sy wil klets, spring haar ogies senuweeagtig rond. Skrik verander na ‘n harde gehoes en as die hond naby kom kry sy behoorlik die aapstuipe. Ek beskerm haar met my hele lewe.

Toe ek my oë uitvee, is blouaap se kind groot genoeg vir uitbeweeg na die werf. Die hond word onderduims afgeknou. Die koekblik knetter op die vloer neer en spat koekies rond. Die aartappels kry elkeen ‘n hap en die avokado’s bemors groen.

“Trienie, die blouaap moet weg,” waarsku ma. “Sy mag begin byt.”

“Nee asseblief nie,” pleit ek. “Ek kan nie sonder haar lewe nie.”  

Ek knip oë. Hoor weer pa se voetstappe die houttrappe opklim. Donsdingetjie wat vraend na my terugloer. Ek huil histeries in die kussing en hoor die geluid van die bakkie wegsterf in die bospad. Weggeskeur.

“Donsdingetjie!” Ek buk en tel die foto op. Trek skouers reguit. So simpel, sy was maar net ‘n aap...

Vandag, in die Kruger, sien ek baie donsdingetjies. Sielsgelukkig in die Eden wat God oorspronklik vir hul ontwerp het. Daar is egter één foto wat altyd sal uitstaan. Die een met die blommetjiesrok en reuse strik bo-op die stert.

  • 2

Kommentaar

  • Waardeer Jan Rap

    Daar was eintlik soveel stories rondom die aap. Nadat my pa haar weggeskeur het moes hy haar weer terugbring. Sy het geweier om terug te gaan bos toe en het agter die bakkie bly aanhardloop en opspring. Daarna was daar eers 'n band tussen ons. My poeding moes ek vele keer aan my broer afstaan. Hy het gedreig dit is eintlik sy aap, en moes ek Donsdingetjie spreekwoordelik terugruil elke keer vir 'n pot lensiesop (poeding).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top