Johann Nell: Sondag op 'n voëlplaas

  • 4

Ek het Dewald Koen se resensie in Die Burger (2 Des, p 15) oor Johann Nell se eerste roman, Sondag op 'n voëlplaas (Kaapstad: Tafelberg, 2013, 210p, R220; Amazon Kindle $11.99), gelees en besluit om die boek te koop. Op 3 deser is daar ook 'n resensie op LitNet gepubliseer. Ek was nie met die skryfwerk van die outeur bekend nie, maar die boektitel en die mooi omslag het my belangstelling geprikkel. Wat die knoop deurgehaak het, was Koen se opmerking dat die verhaal teen die agtergrond van ons onlangse politieke geskiedenis afspeel. "Die verteller is krities en skroom nie om vrae te stel oor belangrike gebeure wat tydens die stormagtige tydperk in die land afgespeel het nie."

In die teks word verwys na die Soweto-onluste (1976), swart vyande op die grens, die seun van 'n buurplaas wat in die bosoorlog sneuwel, Ian Smith wat instem tot meederheidsregering in Rhodesië, Robbeneiland, PW Botha, FW de Klerk en die eerste demokratiese verkiesing (1994). Maar daar word nie oor hierdie onderwerpe besin nie. Die outeur wek egter die indruk dat hy hom van (tradisionele) Afrikaners en die ou Suid-Afrika distansieer.

Deesdae word die liedjies van Danie Bosman (bv "O, boereplaas" en "Boereseun") selde oor die radio gehoor. Uitsendings van boeremusiek word ook al hoe skaarser. 'n Mens kom ook nie meer nuwe plaasromans in die idioom van bv Jochem van Bruggen (1881-1957), DF Malherbe (1881-1969) en CM van den Heever (1902-1957) teë nie. Koen tipeer sulke plaasromans as "die gewroeg oor droogtes, verlore geliefdes en die patriargale stelsel." Daar word deesdae eerder in nuusberigte beweer dat die plaaswerkers mishandel en arbeidsonrus maar op plase gestook mag word. Van 'n idilliese siening van die plaaslewe is daar feitlik geen sprake meer nie. Nell het blykbaar 'n poging aangewend om 'n meer eietydse plaasroman te skryf.

In die boek word oor dié boek gesê dat die verteller weg wou kom van die volstruisplaas waarop hy grootgeword het: "Weg van al die boersheid en kleindorpse benepenheid" (Kindle 3600). Soos veral in 'n debuutroman verwag kon word, word daar blykbaar sterk op outobiografiese gegewens gesteun. Die outeur het op Oudtshoorn grootgeword. Die anonieme verteller is in 1963 op 'n Sondagmiddag op die plaas Aalwynskop in die Kangovallei gebore.

Daar is dikwels aanduidings dat die outeur min simpatie met die Afrikanerkultuur en politieke bestel van voor 1990 het. Die plaaswerkers is "aan die rand van die plaaswerf ingedruk in hulle reghoekige, witgekalkte huisies" (22). Hettie, die suster van die verteller se pa, wou "die Afrikanerdroom" (46) uitleef deur aan die Universiteit Stellenbosch medies te studeer, maar het na haar eerste jaar "hoogswanger" (55) na die plaas teruggekeer aan die sy van 'n daggaroker. Hulle is summier "weggevloek" (55) en Hettie is onterf deur hierdie "opregte, godvresende boeremense" (59). Deur te verwys na "die gemors van bronstige basterbulle ... uit die agterstrate van die Cape Flats" word gesuggereer dat die daggaroker bruin is. Daar is later egter geen sprake dat Hettie se kind, Dirkie Brink, van gemengde afkoms is nie. Hulle het bywoners op 'n appelplaas in die Langkloof geword. Mettertyd het Hettie met Dirkie, maar sonder haar man, op Aalwynskop kom woon. Dit het gebeur nadat Hettie se broer in 1975 in 'n motorongeluk dood is.

Naas Karl en Katryna Niemand se Aalwynskop kom twee buurplase ter sprake, Sterling Gold van John en Maggie Bruwer en Prachtig van Dawid en Emily de Jager. Die De Jagers het reeds vier dogters gehad toe die vyfde kind, nog 'n dogter, in 1967 gebore is. Die pa het, blykbaar dronk, by die rivier "hardop die Almagtige Vader gesit en uitskel" (115). Die kind is Andries gedoop, maar is Andri genoem. Sy is grootgemaak asof sy 'n seun is. 'n Bruin vrou het die bevalling om middernag behartig. Anders as die wittes word die bruines meesal as goed voorgestel, bv die wit kinders se "skoolskoene blinkswart gepoets deur een van die jongetjies wat agter in die strooise bly" (155). Toe Andri groter was en in die berge weggeraak het, het "die volk ... deurnag gesoek" (168). Die bruines op die plaaswerf kry "oorskietkos van die plaashuis se kombuistafel" (201).Vrydae kry die plaaswerkers wyn, "vrygewig in blikbekers" (272), "cheap hanepootgemors wat soos sterk pie lyk" (266).

Die verteller kon as kind nie verstaan waarom 'n uitvoering van Afrika-musiek in die Kangogrotte aangebied is en nie in die dorp se burgersentrum nie. Die uitgang vir blankes by die Kangogrotte word "die Boere se uitgang" genoem (1385). In Oudtshoorn by die swaaideurekroeg van die Criterion Hotel hang die dorp se (wit) "suiplappe" letterlik uit: Daar was "dronk mans [wat] na buite hang en op die verbygangers skree en vloek" (303). CJ Langenhoven, die bekende Afrikaanse skrywer van Oudtshoorn, se alkoholisme word ook genoem, asook sy owerspelige verhouding met 'n Jodin (846).

Nadat die verteller sy skoolloopbaan voltooi en hom in die Paarl as onderwyser bekwaam het, het hy sy nasionale diensplig, "twee jaar se nutteloosheid," gedoen (2174). In die weermag was hy onder meer onderwyser vir jeugdige politieke gevangenes. "Baie van hulle wóú skool klaarmaak en leer, maar die onruswet het toegesien dat hulle eerder toegesluit is" (2099). Daarmee word blykbaar te kenne gegee dat hulle misdadige gedrag nie hulle skuld was nie maar dié van die owerheid. Een van die prisoniers wat die verteller daar raakgeloop het, is Jester Meier, die kind van een van die plaaswerkers op Prachtig.

Hierna word die verteller 'n Afrikaans-onderwyser in die Strand en trou hy met Marion. Hy lees "sommer vir die lekker" (1885) aan die standerdnege-klas voor uit 'n nie-voorgeskrewe boek, Dalene Matthee se "hartverkeurende verhaal" (1890) Fiela se kind (1885). [Die tema van die boek is 'n wit seun wat liefdevol deur 'n bruin vrou grootgemaak word maar wat daarna weens owerheidsinmenging aan wit ouers toevertrou word.] 'n Week later vra die vakhoof vir Afrikaans hom om nie "'volwasse literatuur' in skoolkinders se kele te kom afwurg nie" (1932). Die verteller beklemtoon dat hy 'n groot kramp in rugby het, bv wanneer daar "'n ontleding en lykskouing [is] van elke goddelike rugbybeweging wat nog ooit op aarde uitgevoer is, en wanneer die eerste bier knak of wyn geskink word, kry die gesprek 'n aggressiewe kleur" (1954). "Balbefok, dis al wat ek mense kan noem wat so sinneloos oor sport kan aangaan" (1963).

Uit die voorafgaande blyk dat daar veral twee temas in die boek is. Enersyds gaan dit om polities korrekte politiek. In dié proses is die neiging om nie-wittes voorbeeldig voor te stel en wittes te diskrediteer. Andersyds word seks te berde gebring op maniere wat ooreenstem met wat tans in die mode is. Hierdie twee temas, politiek en seks, vloei saam wanneer seks en ander gedrag oor die kleurgrens heen ter sprake kom, bv tussen Andri en Jester, asook die verteller se pa en John Bruwer se besoek aan 'n Kaapse bordeel.

'n Week voor sy dertigste verjaardag gaan die verteller saam met een van sy kollegas, 'n wiskunde-onderwyser en rugbyliefhebber, en 'n Afrikaanse predikant van Somerset-Wes vir 'n "manne-uitstappie deur die Skiereiland" (1972). Dié drie mans se vroue gaan terselfdertyd na 'n vroueoggend waar daar onder andere "slappols-grimeerkunstenaars" gaan wees (1989), en 'n "motiveringspraatjie deur die een of ander kerktannie met 'n helse groot blommehoed" (1994). Die manne-uitstappie word baie goed beskryf, maar deurgaans is dit op negatiewe stereotipering van Afrikaners gebaseer.

Wanneer die predikant tydens dié uitstappie een van sy gemeentelede teëkom, hou hy op met sy gevloek en sy regse politieke uitlatings en haal hy ewe stemmig sy "kanselstem" uit (2047). In Kampsbaai raak die wiskunde-onderwyser, wat toe net soos die predikant al "aangeklam" is (2208), handgemeen met 'n lastige bruin parkeerwag. Die drietal eet in 'n restaurant en toe hulle terug by die motor kom, is die een wiel pap en daar is 'n krapmerk oor die een kant van die motor. Hierna besoek die onderwyser en die predikant 'n bordeel vir "poeding" (2288), terwyl die verteller buite wag. Hy het hom deurgaans onberispelik gedra, soos tewens ook toe hy as jong man Parys, Frankryk, besoek het en hom nie in brassery en onkuisheid begewe het nie.

Nell skryf vloeiend en maak goed gebruik van beskrywende of treffende woorde soos: huishenne (124), ongoddelik (146), gatvelle (1780), geblaas (9298), verpoepte (639), handperd (1078), wildewragtig (1189), willewragtag (3085), bliksems (1804), pastoriemoedertjie (1872), poepdronk (1981), stilstuipe (1998), gatlike (2081), onkapabele (2257), rabbedoe (2526, 3099), opneukers (3134) en opgedonner (3336). Soms struikel hy oor 'n woord, bv "uit" in: "Eers die hek oopmaak sodat die hoenders uit die die hokke kan uit om in die toegespande erf te skrop. Dan die eiers onder uit die houtkassies uithaal" (471).

Engelse woorde word soms gebruik op 'n manier wat geregverdig kan word, maar ander kere is hulle werklik onnodig. In hierdie opsig sondig die outeur egter minder as sommige bekender skrywers. Die taalgebruik is goed, hoewel ligte "afgesit" pleks van afgeskakel word, mense "gesien" pleks van besoek of gespreek word, en vraestelle "gemerk" word, terwyl dit eintlik skrifte is wat nagesien word.

By die aanskoue van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl, ("Penisse van klip. Grys, hard, maar koud" 2826), kom wat sy pa gesê het by die verteller op: "Supersirkus" (2821). Destyds het hy 'n entjie met "die brandende fakkel" geloop. "Hier gaan dit nou stop. Die vlam gaan geblus word" (2826). Hy lees die inskripsie, "Genootskap van Regte Afrikaners. 1875-1975," en wonder: "Wat is 'n regte Afrikaner?" (2826). Nadat hy myns insiens met sy opmerkings heiligskennis gepleeg het, verskaf hy weereens geen antwoord nie. Die hele tyd word kernwaardes van die tradisionele Afrikaner verdag gemaak.

Die verteller se ma is in 1984 op Aalwynskop dood. Daarna het Hettie alleen daar gewoon. Dirkie was elders op skool. Die verteller het die plaas geërf, maar dit aan John Bruwer verhuur. Oor die nuwe Suid-Afrika het die wittes "bekrompe vrese" gekoester (3151). Dit word "wit geraas" genoem (3156). Bruwer het 'n heildronk "op die ou Suid-Afrika wat besig is om sy gat te sien" (3192), ingestel. Hy besluit om die verteller sy plaas te laat erf, want sy erfgenaam, sy seun, het in die bosoorlog gesneuwel. Bruwer wil hê dat die verteller daar moet kom boer, op dieselfde manier as wat sy pa geboer het. Vir hierdie onverdiende erflating word Bruwer nie eens bedank nie. Die verteller het "oom John gelos met sy duister, vertroebelde toekomsdrome" (3238).

Die verteller het vir Andri, wat op Prachtig bly woon het, gevra: "Hoe kry jy dit reg om so te lewe? In hierdie plek en tussen hierdie mense? Jy het dan altyd probeer wegloop" (3377). "Nou eers besef ek wat dit regtig beteken het dat ek haar geïdealiseer het om haar ewige weglopery" (3391). Sy ma het hom doelbewus weggestuur van hierdie omgewing na die Paarl, dus weg van sy pa se wêreld. Maar: "Daar moet 'n manier wees om te bly, om tuis te wees, geankerd te raak" (3434).

Die verteller het dit teen die patriargale stelsel. Met duidelike verwysing na die boektitel, skryf die outeur: "Daardie wilde, woeste wêreld met sy erekte volstruisnekke. Die man met die voël. Die man met die bal. Die man met die kar. Die geweer op die grens. Die man met die boerdery. Die man met die bottel bier in die een hand en 'n sigaret in die ander. Bakleigatte. Bordeelkruipers. Hardebaardmanne met harde ereksies soos die suile teen Paarlberg" (3443). Daarna roem hy op sy eie "sagtheid ... die feit dat ek anders is as die ware manne" (3451). 'n Homoseksuele voorval met twee seuns terwyl hy onderwyser was, bly by hom spook. Oor hierdie boek word beweer: "Dit is ook 'n diepsnydende ondersoek na manlike identiteit" (3607).

Die boek bevredig of oortuig nie werklik nie. Daar is party kere 'n tekort aan noodwendigheid in die gebeure. Dit lyk asof die outeur soms onseker was van die rigting wat hy moet inslaan. Daar is te veel eensydige en daarby negatiewe en myns insiens onsimpatieke stereotipering van die (tradisionele) Afrikaner. Oor seksualiteit word daar onsekerheid gesaai. Hoewel dit nie baie duidelik gesê word nie, lyk dit asof die verteller aan die einde, nadat hy as onderwyser bedank het, op pad terug na sy pa se plaas was. Hy sou op Aalwynskop gaan boer en ook op Sterling Gold, wat hy toe pas, na John Bruwer se selfmoord, geërf het. Dit lyk asof sy vrou, Marion, nie deel van die verteller se toekoms sou wees nie; eerder sy jeugvriendin, Andri, die meisie oor wie se vroulikheid daar twyfel was. Die sin, "Gaan terug na jou wortels" (3451), is maklik verstaanbaar. Maar die volgende sin verwar: "'n Nuwe begin ... Ek is los uit die greep van my omstandighede en geremdhede" (3543). Hy wou dan voorheen juis aan hierdie "benepenheid" ontsnap.

Johannes Comestor

  • 4

Kommentaar

  • Ja-nee Johannes, hierdie soort van ding is mode, wittes is sleg en donkeres is edel.  Jy kan eintlik sommer aanvoel oor hoe 'n skrywer soos hierdie glimlaggend rondkyk oor sy prestasie en wag vir die klop op die skouer.
    Skamele troos, maar gelukkig Is Ons Almal Nie So Nie.

  • Comestor

    Jy is self 'n uitstekende resensent en het werklik die boekopsomming interessant oorgedra. Dankie.

    Jou eie siening kom sterk deur hierdie keer en laat my nie wonder soos in jou vorige briewe. Die "om te wonder" daaroor is egter vir my meer aanloklik. Dit plaas nie die leser in 'n defnitiewe kant wat mag besluit om volgende skrywes van jou eerder te vermy. 

    Nogtans - uitstekend. Het dit baie geniet.

     

  • Ja, die wittes is mos weer laer as kreefkak se skaduwee. Die knaap sal seker of hoop op een of ander prys. Ek is mos al op die net beskuldig van waarvan die hart vol is loop die mond van oor. Gelukkig was die optrede  soos die nie in my familie nie, so ek kan nie saampraat nie.

     
  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top